×
Skakel na Engels

5 maniere om minder sout te eet – en jou hart gesond te hou

Verminder jou risiko vir ’n hartaanval of beroerte met dié maklike stappe

 

 

Volgens die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika is daar vyf belangrike faktore wat jou bloeddruk en die waarskynlikheid van ’n hartaanval of beroerte beïnvloed: rook, vrugte- en groente-inname, aktiwiteit (oefening), gewig en die hoeveelheid sout in jou dieet.

 

Suid-Afrikaners eet 8 g tot 10 g sout per dag, dubbel die daaglikse aanbeveling van altesaam 5 g van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dit is die hoeveelheid tafelsout wat ons by kos voeg, gekombineer met die sout wat reeds in klaargemaakte kosse soos brood, ontbytgraan en kitsmaaltye voorkom. As jy jou soutinname verminder, sal jou gesondheidsvooruitsigte onmiddellik verbeter. “ ’n Onlangse studie dui daarop dat soutvermindering van 2 g tot 2,3 g per dag (’n halwe teelepel) met ’n 20%-vermindering in kardiovaskulêre probleme geassosieer word,” sê Megan Megan Pentz-Kluyts, ’n geregistreerde dieetkundige.

 

 

1. Moenie sout op jou tafel hou nie.

 

Is die raad van die dieetkundige Gabriel Eksteen van die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika. Dit sal keer dat jy toegee aan die versoeking om uit gewoonte sout by kos te voeg. “Jou smaakknoppies verander,” sê hy. Kos sal dalk aan die begin vreemd smaak, maar jy sal daaraan gewoond raak en die natuurlike geure van byvoorbeeld groente begin waardeer.

 

 

2. Kry ander maniere om jou kos te geur wanneer jy kook of eet.

 

Pentz-Kluyts beveel hierdie alternatiewe aan:

  • Suurlemoensap of asyn
  • Vars of gedroogde kruie
  • Speserye, waaronder paprika, peper en kerriepoeier
  • Knoffel, gemmer, uie en brandrissie

 

 

3. Eet minder klaargemaakte kosse wat baie sout bevat.

 

Dit sluit worse en ander verwerkte vleis, kits-aftreksel, sop- en souspoeier, harde margarien, aartappelskyfies en kitsmaaltye in.

 

 

4. Gaan die soutinhoud op die verpakking van kos na en kies laesoutprodukte (120 mg of minder per 100 g.)

 

Kosse met ’n matige soutinhoud (120 – 600 mg per 100 g) kan soms geëet word, sê Pentz-Kluyts, en hoësoutkosse (meer as 600 mg per 100 g) moet vermy of beperk word. Met die soutinhoud van kosse wat in Suid-Afrika onder die loep was, het Unilever (vervaardigers van Knorr-produkte) byvoorbeeld gereageer. Hulle het verlede jaar die soutinhoud van ’n tiende van hul soutige produkte met 7% verminder, en die maatskappy mik daarna om die soutinhoud van produkte tussen 2015 en 2020 tot die daaglikse doelwit van 5 g te verminder. Elke keer dat Knorr ’n resep herformuleer, “verminder die sjefs die natrium soveel as moontlik” sonder om die smaak te kompromitteer, sê Keegan Eichstadt, assistentbestuurder van voeding en gesondheid van Unilever SA. “Stock Pot bevat byvoorbeeld minder natrium as die meeste soorte aftrekselprodukte wat jy in winkels kan koop,” sê hy.

 

 

 

5. Hou gesonde kos sigbaar en steek minder gesonde kos weg.

 

Is die raad van Kim Hofmann, ’n geregistreerde dieetkundige. Herrangskik jou yskas sodat die gesonde kosse makliker sigbaar is – haal jou slaai en groente uit die onderste laai en sit dit liewer op die yskas se rakke – en hou ander kosse (salami and brie!) liewer buite sig in die koellaai.

 

 

Kyk uit na ons artikel “30 dae tot gesonder hartgewoontes” in die September 2014-uitgawe van Goeie Huishouding.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Gesondheid vir jou gesin

4 maklike maniere om jou gesin gesond te hou

Close