×

5 maniere om jouself teen borskanker te beskerm

Borskanker is die voorste vorm van kanker in vroue. Só kan jy jou risiko verlaag

 

 

Beweeg!

Oefening kan jou verdediging teen borskanker ’n hupstoot gee. Een risikofaktor vir die siekte is ’n hoë estrogeenvlak, maar aktiwiteit wat jou hartklop verhoog – soos om teen ’n vinnige pas te stap of fiets te ry – kan jou liggaam help om die hormoon te beheer. ’n Studie het gewys dat vroue se estrogeen in veiliger komponente opgebreek is, wat die kankerrisiko verlaag, nadat hulle vier maande lank gereeld (30 minute per dag, vyf dae per week) geoefen het. ’n Ander groep, wat glad nie geoefen het nie, het geen verbetering getoon nie, sê dr. Mindy Kurzer aan die Universiteit van Minnesota in die VSA. En volgens ander navorsing help oefening vir vroue wat reeds borskanker gehad het dat dit nie terugkeer nie.

 

Kikker jou gesondheid op met koffie

In ’n vyf jaar lange studie het minder as die helfte van borskankerpasiënte wat twee of meer koppies koffie per dag gedrink het terwyl hulle op tamoksifeen was se kanker teruggekom as dié wat min of geen koffie gedrink het nie. Een moontlike verklaring is dat koffie die kernensieme kan versterk wat die medikasie aktiveer.

 

Kies oranje

Onlangse studies dui daarop dat die eet van meer groente hoog aan vesel en ryk aan karotenoïed die risiko op borskanker kan verlaag. Dit kom voor in skorsies, wortels, pampoen en patats.

 

Word slank en fiks

Om vyf persent van jou gewig af te skud kan jou borskankerrisiko met meer as 20% verminder – veral vanaf die ouderdom van 50. In ’n jaar lange studie het 439 sedentêre, postmenopousale, oorgewig vroue begin dieet, oefen of albei. Navorsers van die Fred Hutchinson-kankernavorsingsentrum in die VSA het die proefpersone se hormoonvlakke (estrogeen en testosteroon) in die bloed nagegaan, wat hoër is in oorgewig vroue en die borskankerrisiko verhoog. Hoe meer gewig die vroue verloor het, hoe meer het hul hormoonvlakke geval, met ’n 5%-daling wat die risiko drasties verlaag. “Dieet saam met oefening het die beste gewerk om dié hormone te verlaag en vir blywende gewigsverlies,” sê die studieleier, dr. Anne McTiernan.

 

 

Verminder jou kankerrisiko met 39%

Deur enige vyf van dié sewe gesonde gewoontes te handhaaf kan jy jou risiko verlaag: Oefen gereeld, eet gesond, beheer jou gewig, moenie rook nie en hou jou bloeddruk, cholesterol- en glukosevlakke normaal.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Skakel na Engels

5 maniere om jouself teen borskanker te beskerm

Oor party risiko’s het jy geen beheer nie, maar ’n paar veranderinge kan ’n mate van beskerming teen dié siekte bied

 

1. VERLOOR
 ’N PAAR KILO’S

 

Postmenopousale vroue wat oorgewig is se risiko is 10% tot 20% hoër. As jy vetsugtig is, verhoog jou risiko met 30%. Dis omdat vetselle die estrogeenproduksie oorneem – hoe meer vet jy dus het, hoe hoër is jou estrogeenvlakke. Amerikaanse navorsers het onlangs bevind dat om net vyf persent van jou liggaamsgewig te verloor die risiko op die ontwikkeling van estrogeenpositiewe borskanker met ’n kwart tot die helfte verlaag.

 

 

2. BLY AKTIEF

 

Dit kan jou risiko met minstens 20% verlaag. Oefening help met gewigbeheer en verlaag die vlakke van hormone en ander liggaamschemikalieë wat met borskanker verbind word. “Dis nooit te laat nie – selfs matige oefening kan jou risiko verlaag, veral later in die lewe wanneer die mees
te borskankers ontwikkel,“ sê prof. Montserrat Garcia-Closas van die Instituut vir Kankernavorsing in Brittanje.

 

 

3. DRINK MINDER

 

Beperk jou alkoholinname tot een eenheid per dag. Na raming word 6% van borskankers met alkoholinname verbind.

 

 

4. MOENIE ROOK NIE …

 

… en moedig jou dogters aan om dit te vermy. Daar is nou bewyse dat vroue wat jonk begin rook – voor 20 of voor hul eerste kind – ’n verhoogde risiko op kanker het. Dis onduidelik of dit die risiko premenopousaal verhoog of vroue van alle ouderdomme tref.

 

 

5. EET MINDER VET

 

Verminder jou vetinname, veral van versadigde vette, om jou te help beskerm. In die EPIC-ondersoek na dieet en kanker wat tien Europese lande betrek het, is bevind dat die risiko op borskanker van vroue wat die meeste versadigde vette geëet het, dubbel so groot was as diegene wat die minste daarvan geëet het. Meer vesel kan ook help – navorsing toon dat vroue wat meer as 25 g vesel per dag eet ’n effens kleiner risiko loop. Eet meer ligniene – fito-estrogene wat in vlassaad, sesamsaad, rog, koring, gort en sojabone gevind word – om die risiko effens te verminder.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om die vroee tekens van velkanker raak te sien

Vroeë opsporing is noodsaaklik in die stryd teen velkanker

Close