×
Skakel na Engels

5 maniere om jou teen partytjies te pantser

Die feestyd en al sy verleidings wink, maar maak eers seker jou lyf oorleef dit en dat jy nie vyf kilogram optel of vyf jaar ouer lyk wanneer die nuwe jaar aanbreek nie

 

 

1. Kies gesonde kos

Slim koskeuses is ’n arsenaal in jou liggaam se eerste linie van verdediging as jy partytjie-stamina wil handhaaf. “Hoe meer antioksidante jy inneem, hoe beter,” sê Shirley Norman, ’n Johannesburgse  dieetkundige. “Kies kos ryk aan betakaroteen, seleen en vitamien C en E soos bessies, mango’s, beet en vis.

 

2. Dink voordat jy drink

Beperk alkoholinname tot twee sopies spiritualieë wat met sodawater verdun is of hou by twee glase wyn. Vermy mengeldrankies, bier en sider. “Onthou dat alkohol jou bloedglukosevlakke laat daal en jou honger maak,” sê Norman.

 

3. Kies kruie

Wees goed vir jou lewer deur melkdissel in te neem, sê Andrea du Plessis, ’n voedingskundige van Vital. “Dis ’n kruiekuur wat die lewer met detoksifisering help en ook beskadigde lewerselle ná ’n tydjie van oordaad herstel.”

 

4. Slaap genoeg

Volgens dr. Kevin Rosman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Slaapmedikasie, is mense “nie gemaak om partytjie te hou nie”. Hy sê te min slaap maak ons prikkelbaar, geïrriteerd en depressief, asook gevaarlik agter ’n motor se stuurwiel. ’n Vinnige slapie kan weer die batterye laai. En hoor wat sê mediese navorsers: Deur daagliks net vir 20 minute te dut “beweeg jy deur die eerste twee fases van die slaapsiklus, jou hart klop stadiger en jou konsentrasievlakke en wakkerheid verbeter”.

 

5. Stap (en lag) dit weg

“Matige en gereelde oefening gee jou immuunstelsel ’n hupstoot en stel endorfiene vry,” sê Ronald Abvajee, ’n Johannesburgse oefeningdeskundige. En rond jou stapsessie af met ’n goeie komedie, sê Janine Grobler, uitvoerende hoof van Laugh SA. Grobler sê navorsing toon lag verminder vlakke van toksiese streschemikalieë, dit stel ’n natuurlike pynstiller vry, pomp jou bloed en vernaamste organe vol suurstof en versterk jou immuunstelsel.”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Kerskaartjie met ’n verskil

Het jy en jou familie reeds julle Kerskaartjies uitgestuur? Die Holderness het hulle s’n bietjie anders gedoen dié jaar…

Close