×
Skakel na Engels

5 maniere om jou kind se selfwaarde te verbeter

Help jou kind om ’n groei-ingesteldheid te kweek sodat sy mislukking kan hanteer én daaruit leer. Volg dié wenke:

1. PRYS DIE REGTE DINGE

Moenie op die simbool fokus wanneer jou kind by die huis kom met ’n A of ’n F nie, sê die sielkundige dr. Carol Dweck, wat bestudeer hoe mense sukses bereik. Vra eerder wat hy of sy geleer het. Kinders wat vir hul pogings en strategie geprys word, sal aanhou om uitdagings te aanvaar, sê sy, maar wat as sy ná al haar harde werk steeds met ’n D by die huis aankom?

Prys steeds die poging, maar gee erkenning daaraan dat die uitslag dalk nie was waarvoor die kind gehoop het nie, sê Dweck.

2. TREF ’n ONDERSKEID TUSSEN “VERLOOR” EN “MISLUKKING” 

“Hoe meer ouers aan hul kinders oordra dat hulle waarde heg aan die proses waardeur die kind gaan, eerder as die eindresultaat, hoe minder sal die kind sy kop breek oor verloor en mislukking,” meen Dweck, “en hoe makliker sal hulle daarvan herstel en meer daaruit leer.”

3. MOENIE DINGE VERSAG NIE 

Almal misluk; jy kan maar sommer van die begin af eerlik hieroor wees. “Die mees suksesvolle mense weet hoe om hul mislukkings en tekortkominge te konfronteer en iets te doen om dit te oorkom. Dít is wat jy jou kind moet leer,” sê Dweck.

4. VERGEET VAN JOUSELF 

Soms is dit wat ons as ondraaglik vir ons kinders beskou, in werklikheid maar net ondraaglik vir onsself. Wanneer jy agterkom dat jy meer ontsteld is oor die terugslae as jou kind, sê Dweck, dink na oor wat die mislukking vir jou beteken, en hoe dit verskil van wat dit vir haar beteken.

Herinner jouself daaraan dat sy meer uit die ondervinding gaan leer as dit nie oor jóú gaan nie, maar oor háár en oor háár groei.

5. GEE KALMTE 

Kinders het woede-uitbarstings wanneer hulle verloor omdat hulle emosioneel oorweldig voel en nie oor die vermoë beskik om dié intense gevoelens te verwoord nie. Wat ’n swak verloorder die nodigste het, sê Alfie Kohn, ’n opvoeder en skrywer van Unconditional Parenting (Atria Books), is liefdevolle aandag.

“Die beste manier om kinders immuun teen seerkry en mislukking te maak,” sê hy, “is om hulle elke dag te laat weet dat ons vir hulle lief is vir wie hulle is, en nie vir wat hulle doen nie. Hulle moet voel dat ons liefde vir hulle geen duit verminder nie, al maak hulle droog of skiet hulle te kort.”

Deur Andrew Postman

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Stop die rusiekringloop

3 taktieke wat ouers gebruik wat nié werk nie (moenie eens probeer nie)

Close