×
Skakel na Engels

“5 lewenslesse wat ek geleer het terwyl ek op my eie gereis het” (en waarom jy jou tiener alleen moet laat reis)

Laat hulle hul vlerke sprei!
lewenslesse

Jou tiener voel dalk oorweldig deur die idee om alleen te reis, maar nadat hy of sy gematrikuleer het, is dit belangrik dat jou seun of dogter verskillende kulture, mense en plekke ervaar. Dit sal hulle nie net lewenslange herinneringe gee nie, maar sal hulle ook met lewenslesse toerus wat hulle in die toekoms kan gebruik – ons belowe!

Ons digitale assistent, Danielle Barnes, het ’n paar lesse geleer nadat sy by verskeie geleenthede sonder haar gesin gereis het. Hier is vyf redes waarom sy dink jy behoort jou tiener alleen te laat reis – en die lewenslesse wat hulle kan leer:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

1. Ek het leer navorsing doen

Hoe opwindend (of nié) dit ook al klink, jou kind sal slegs ’n spanningslose reis kan geniet as hy alles oor die land wat hy wil gaan besoek navors, van die kultuur tot wat die weer gedurende sy besoek gaan maak. Dit is belangrik om ’n gesonde honger vir geskiedenis, geografie en kultuur te kweek. “Ek’s mal oor enige iets wat met navorsing te doen het, van oplees oor verskillende lande se geskiedenis en kulture tot die beplanning van kamma-reise. Ek sou sommer na reisdatums kyk en vlugpryse ondersoek,” sê Danielle. “Om ʼn idee te vorm van hoe dinge gaan wees wanneer jy jou planne tot uitvoer bring, is noodsaaklik om enige onverwagse verrassings te voorkom.”

Met vandag se tegnologie is dit maklik om plekke na te vors en reisblogs te lees. Laasgenoemde bied ’n meer volledige (en persoonlike) insig in jou tiener se droombestemming. Hulle sal alles uitvind wat hulle te wete wil kom, insluitende praktiese inligting, geskiedenis en persoonlike reisverhale. Op ’n opvoedkundige noot sal hulle navorsingsvaardighede handig te pas kom wanneer hulle universiteit toe gaan!

2. Ek het leer spaar

As jou tiener daarvan droom om die wêreld te sien, maar jou begroting nie vir sulke grootse reisplanne ruimte laat nie, kan jy hulle aanmoedig om ’n werk te kry en hulle eie geld te begin verdien. Sodoende sal hulle leer hoe om hulle geld te bestuur en effektief te spaar om hulle passie te finansier. Dit kan enige iets wees, van die bure se kinders oppas of in die plaaslike boekwinkel werk – solank hulle dit op hulle eie doen.

“Op universiteit het ek ’n werk by ’n boekwinkel gekry, en wanneer en waar moontlik, gespaar,” sê Danielle. “En later het ek vir my suster se vriende se kinders opgepas, en die geld wat só verdien het, as ’n gedeelte van my sakgeld op my laaste reis gebruik. Elke sent tel wanneer jy reis!”

Dit is dalk baie aanlokliker om oor naweke met vriende uit te hang as om te gaan werk, maar daardie ekstra spaargeld kan jou tiener help om die wêreld te sien. Nadat hulle studeer het, sal deeltydse werk-ervaring ook in werksonderhoude in hulle guns tel.

3. Ek het die waarde van geduld geleer

Dit neem tyd om genoeg geld te spaar of te weet waar en wanneer jy moet gaan om die meeste waarde vir jou geld te kry. Hoe graag ons iets ook al nóú wil hê, is dit belangrik om jou tiener te leer dat niks sonder harde werk en volharding kom nie. Leer hulle dat sodra hulle voor ’n landmerk in ’n ander land staan of iets gaan doen waarvan hulle jare lank gedroom het, al die ure se werk, spaar en beplanning die moeite werd sal wees.

“Ek was dol oor die idee dat al my harde werk en vasberadenheid my tot op die punt gebring het waar ek in ’n pub in Dublin na Ierse musiek kon luister, of in die kristalblou water van die Phi-Phi-eilande van Thailand kon swem, of in die ysige water van Loch Ness in die Skotse Hoogland kon spring,” sê Danielle.

4. Ek het mense van verskillende lande en kulture ontmoet

Die klink dalk vanselfsprekend, maar gedurende jou tiener se reise sal sy nuwe mense ontmoet wat sy andersins nooit sou leer ken nie. Dit kan die plaaslike inwoners van die land wees of passievolle medereisigers; hoe dit ook al sy, jou kind gaan dalk iets waardevol by hulle leer en op nuwe maniere oor die lewe en wêreld begin dink.

’n Wonderlike manier waarop jou kind nuwe mense kan ontmoet, is om hom binne ’n groepsopset oorsee te laat gaan. Reisagentskappe soos Contiki bied tieners (18 jaar en ouer) wonderlike geleenthede om items op hulle emmerskoplys af te merk terwyl hulle ’n wêreldwye netwerk van vriende opbou. “Ek het nou dat die dag besef dat ek deur my reise met Contiki ’n vriend (of twee) op elke liewe kontinent het, behalwe Antarktika!” sê Danielle.

5. Ek het geleer om my gesinsvakansies te benut

Om uit te vind waarvan jou hou en nie hou nie, is ’n vaardigheid wat met ervaring kom. Leer jou kinders dus om julle gesinsvakansies te benut, of dit nou internasionaal of plaaslik is. Almal het nie dieselfde begroting of prioriteite wat reis betref nie, maar selfs ’n naweek weg kan jou kinders baie van hulleself leer en waarvan hulle hou om te doen wanneer hulle met vakansie is. “As kind het ek daarvan gedroom om op my eie te reis en nuwe dinge self te ontdek. Nou kry ek daardie geleentheid, maar saam met geesgenote van regoor die wêreld wat net so lief is vir reis soos ek,” sê Danielle.

FOTO: iStock/MStudioImages

LEES OOK:

Dinge gaan binnekort verander vir diegene wat na die VSA vlieg

10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

Vliegtuigetiket 101

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
10 dinge wat tieners self behoort te kan doen

Om jou kinders met take en verantwoordelikhede te vertrou, maak nie net jóú lewe makliker nie - dit is ook...

Close