×
Skakel na Engels

5 lesers vertel van hul romantiese liefdesverklarings

Ons het lesers gevra om ons te vertel hoe hul mans hulle gevra het om te trou. Ons het gelag, ons het gehuil, ons het ons hande geklap soos sesjariges wanneer hulle die Disney-prinses sien … As jy dink die man in jou lewe het inspirasie nodig, druk dié artikel uit en laat dit – ag, jy weet – êrens rondlê … waar hy dit sal raaksien. Deur: Ann Ellis Brown

 

 

1. “In die begin van ons verhouding het ek en my man baie op hierdie een plek op die strand na die sonsondergang gaan kyk. Nadat ons ’n ruk lank nie daar was nie, het ons eendag gery en hy wou nie vir my sê waarheen ons gaan nie. Rondom sonsondergang het ons op ‘ons plek’ opgeëindig. Ek het net gedink dis ’n oulike romantiese gebaar om die herinnering aan ons vroeë dae terug te bring, maar toe is hy vreeslik senuagtig. Hy het my soos in ’n miljoen keer gesoen en oor en oor vir my gesê hoe lief hy vir my is. Op daai punt het ek omgedraai om na hom te kyk en te vra hoekom hy so vreemd optree. Toe sak hy op sy een knie neer en vra my om met hom te trou. Ek het nog nooit ’n man so senuagtig en tegelyk so pragtig gesien nie. Ons is uiteindelik teen sononder op dieselfde plek getroud waar hy my gevra het!” – ‪Catherine Rivera 

 

 

2. Myne was ongelooflik. Hy het ’n huisboot op die Vaalrivier vir die naweek gehuur en die boot op ’n baie private plek vasgemeer. Ons het met ’n drankie op die dak gesit en na die sonsondergang gekyk. Ná ’n rukkie het hy gesê ek moet omdraai en kyk hoe ongelooflik die uitsig agter my is. Toe ek na hom omdraai, was hy op een knie met die ring. Ek het al ’n paar jaar tevore my droomring geskets. Hy het die skets gehou en dit vir my laat maak! –Karen Hayes

 

 

3. Ons was op pad Brittanje toe en die plan was om in Parys op die volgende vliegtuig oor te klim. Maar toe verras hy my met twee nagte daar. En toe gaan ons winkels toe om ’n aandrok te soek, wat ek gedink het vir my broer se troue is. Hy het my gevra om die rok vir aandete te dra. Min het ek geweet dit sou ’n romantiese ete in die restaurant op die EIFFELTORING wees! Toe my bord opdaag, was daar ’n boodskap daarop: “Sal jy met my trou?” En voor ek weet, was hy op een knie. Dit was so spesiaal en – bonus – hy het ’n fotograaf gekry om elke oomblik vas te vang. – Danielle Rosse

 

 

4. Ons het in die Wonderboom-natuurreservaat met die berg op gaan stap om na die fort te gaan kyk wat jare gelede daar gebou is. Hy het my geneem om na die struktuur te gaan kyk, foto’s te neem en die geskiedenis te geniet. Toe verdwyn hy vir ’n paar minute en roep my. Ek het in sy rigting geloop en toe sien ek hom daar in die middel van dié geskiedkundige plek op een knie wag. Hy het my gevra om voor hom te kom staan en my oë toe te maak. Ek het nog ’n grap gemaak en gesê hy moenie ’n gogga in my hand sit nie. Toe vra hy my om my oë oop te maak en in sy hande was ’n pragtige diamantring en toe vra hy my om met hom te trou. EK HET JA GESÊ en ons is nou baie opgewonde besig om ons troue vir Januarie volgende jaar te beplan. – Le-andra Deneal Levin

 

 

5. Ons het gratis verblyf vir ’n naweek in die Outer Banks gewen wat ’n lugtoer in ’n klein vliegtuig ingesluit het. Die hele tyd was my kêrel besig om SMS’se te stuur en op sy foon te karring en ek het begin vies raak. Nadat die vlug verby was, is ons terug kar toe en toe vra hy: “Wat wil jy doen?” Ek het gesê wel, kom ons gaan terug na die hotel toe vir ’n rukkie en besluit dan waarheen om te gaan. Toe ons voor die hotel stilhou, hang daar ’n banier wat sê: “Chelsea, sal jy met my trou?” Ek was so geskok en verras en toe ek omdraai, sit hy daar met die boksie en glimlag. In die vliegtuig het hy vir een van ons vriende ge-SMS om vir hom te sê waarheen ons vlieg sodat hulle met die banier op die strand kon gaan staan! – Chelsea Bean

 

Dié artikel is oorspronklik op Cosmopolitan.co.za gepubliseer.

 

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 maniere vir ouers om die bande met hul lewensmaats opnuut te smee

Het jy al ooit gevoel of jy met jou kinders pleks van jou man getroud is?

Close