×
Skakel na Engels

5 grimeerneigings wat jy maar kan los

Die grimeerneigings wat jy hierdie somer moet ophou volg vir ’n varser, ligter voorkoms
grimeerneigings

Die somer is die ideale tyd vir ’n ligter voorkoms – oorweeg dit dus om jou grimering af te skaal. Hier is die grimeerneigings waarvan ons genoeg gehad het!

1. Swaar kontoergrimering

As jy steeds nie die kuns om perfekte wangbene met verbronser of kontoerpoeier te skep kan bemeester sonder om te lyk asof jy modder oor jou wange gesmeer het nie, sê ons nou vir jou dat jy maar kan ophou oefen – swaar kontoergrimering is vinnig besig om uit die mode te raak.

As jy steeds ’n bietjie definisie of ’n warmer gloed aan jou gesig wil verleen, skaal kontoergrimering af deur die kontoerpoeier deur ’n natuurlike, mat bronser te vervang. Wend dit eenvoudig met ’n groot, donsige kwas al langs die wangbene, slape en kakebeen aan vir ’n tikkie kleur en kontoer. Moenie vergeet om die kleur goed in te skakeer nie en bly weg van enige iets oranje of glimmend!

2. Die perfekte Instagram-wenkbroue

Die afgelope jaar was die klem hoofsaaklik op “perfekte” wenkbroue. Luukse én bekostigbare kosmetiekhandelsmerke het verskeie wenkbroupoeiers, -jels, -potlode, -pomades en selfs -stensils bekendgestel. Die swaar, getekende wenkbrouvoorkoms waar elke haartjie op sy plek is, word egter deur natuurliker wenkbroue vervang.

Natuurlik is ons almal nie met vol, dog netjiese wenkbroue geseën nie. As jy nie kan uitgaan sonder om jou yl wenkbroue in te vul nie, hoef jy nie verskeie produkte te gebruik nie. Gebruik eenvoudig ’n eenvoudige, mat wenkbroupoeier of oogskadu in die kleur van jou natuurlike wenkbroue en wend dit in kort, geveerde hale aan met ’n hoekige kwassie.

3. Spinnekopwimpers

Hoewel dit deesdae moontlik is om ’n paar vals wimpers aan te skaf om bykans enige voorkoms te skep (byvoorbeeld pop-agtig, vol, of lank) beteken dit nie dat jy jou wimpers daagliks moet verleng nie. Hou by ’n maskara met ’n goeie formule vir jou daaglikse voorkoms en bêre die “wow”-wimpers vir ’n spesiale geleentheid.

4. Vlekkelose vel met ’n mat afwerking

Deesdae lyk dit asof die doel van enige onderlaag en poeier nie net net is om ongewenste vlekkies of oneweredige kleur te verbloem nie, maar om ook ’n soort Instagram-filter te verkry sodat jy selfs van naby eksie-perfek kan lyk. Genoeg daarvan! Hoewel jy nie daaroor hoef skaam te wees as jy ’n vlekkelose vel begeer nie, is ’n douagtige, natuurlike vel dié somer weer groot nuus. Verkort jou roetine en laat daardie gesonde vel asem skep!

5. Lippe wat buite die natuurlike liplyn omlyn word

Weer eens hoef jy nie skaam te wees om te erken dat jy voller lippe begeer nie. Maar kul jou pad na verleidelike lippe op so ’n manier dat ’n mens nie jou lipomlyner vanuit die buitenste ruim kan sien nie! Kies ’n neutrale lipomlyner of -potlood wat so na as moontlik aan jou natuurlike lipkleur is.

Moenie reg rondom jou lippe teken nie – beklemtoon eerder sekere dele deur die lyn met ’n ligte hand te trek. Vul die res van jou lippe met die lippotlood in vir ’n basis wat die hele dag sal hou. Laat jou lippe laastens voller vertoon deur ’n klein bietjie aksentgrimering aan die bokant van jou bolip en op die laagste middelgedeelte van jou onderlip aan te wend.

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief