×
Skakel na Engels

5 goeie redes waarom jy vandag nog moet begin mediteer

Meditasie sal jou help om af te skakel, gefokus te bly en om by jouself en ander uit te kom
mediteer

In ’n wêreld waar tyd min is en alles nóú gedoen moet word, is dit maklik om oorweldig en oorspanne te voel. Juis daarom moet ons tyd maak om te mediteer, want dit verlig die liggaamlike en emosionele uitwerking van stres, soos uitputting, hoofpyne en spierpyne sowel as frustrasie, ongeduld en woede.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

In ’n artikel deur die lewensafrigter Hannah Braime op lifehack.org beskryf sy ’n paar van die voordele van meditasie. Sommige daarvan is dalk nuus vir jou!

Dit versterk jou immuunstelsel

Hoe? Stres en angs het ’n negatiewe uitwerking op jou immuunstelsel en deur te mediteer, kan jy jou stresvlakke verlaag. Die gevolg is dat jy minder waarskynlik sal siek word aangesien die produksie van die streshormoon kortisol verlaag word.

Dit skep bewustheid – van onsself, ons onmiddellike omgewing en ander

Deur die prefrontale korteks van die brein te stimuleer, stimuleer ons dié deel van die brein wat vir konsentrasie verantwoordelik is, skryf Jonni Pollard by alustforlife.com. En deur op onsself te konsentreer en van onsself bewus te raak, kom ons in voeling met ons ware self. Dit maak ons meer standvastig en stel ons in staat om met ander te identifiseer, en op ’n sinvolle manier met diegene rondom ons om te gaan. In daardie sin baat ons verhoudings ook by meditasie.

Dit verlig pyn

Volgens ’n studie wat in 2011 deur die Massachusetts Institute of Technology in Amerika gedoen is, stel meditasie ons in staat om pynvlakke bewustelik te verlaag. Volgens Braime het toetspersone hulleself geleer om op fisieke sensasies van sekere liggaamsdele te fokus; navorsers kon daaruit aflei dat mense wat aan chroniese toestande ly, hulleself kan leer om hulle “pynvolume” laer te stel.

Dit versterk die vermoë om te leer

Deur die prefrontale korteks van die brein te stimuleer word die brein se leersentrum geaktiveer, sê Pollard. Meer breinvolume is gelyk aan meer breinkrag.

Dit vertraag die verouderingsproses

Volgens Pollard word die produksie van melatonien en DHEA deur meditasie gestimuleer terwyl dit kortisol laat afneem. Die verblydende gevolg is ’n vertraging in die verouderingsproses.

Maar hoe mediteer ’n mens? Volgens artofliving.org sal hierdie wenke jou help om effektief te mediteer:

Kies ’n geleë tyd

Dis jou tyd om te ontspan, dus doen jy dit op ’n tyd wat jóú pas.

Kies ’n stil plek

Kies ’n plek waar jy nie gesteur sal word nie – jy wil stilte hê!

Neem ’n gemaklike houding in

Maak seker dat jy ’n ontspanne, gemaklik en stabiele posisie inneem. Sit regop; ontspan jou nek en skouers, en hou jou oë deur die hele proses gesluit.

Jou maag moet relatief leeg wees

Jy behoort nie so honger te wees dat jy aan niks anders as kos kan dink nie, maar direk na ete mag jy dalk aan die slaap raak.

Begin met ’n paar opwarmingsoefeninge

’n Paar opwarmingsoefeninge sal help om jou bloedsomloop te verbeter en rusteloosheid te voorkom.

Haal diep asem

Asem diep in en uit. Dit help om jou liggaam en verstand op vreedsame meditasie voor te berei.

Glimlag effens

Dit werk, want dit laat jou ontspan.

Maak jou oë stadig oop

Aan die einde van jou meditasie behoort jy jou oë stadig oop te maak terwyl jy weer van jou omgewing bewus raak.

FOTO: iStock/PeopleImages

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke om in ’n spanningsvolle tyd kalm te voel

Ja, dit ís moontlik. Deur Lucy Fry

Close