×
Skakel na Engels

5 goed wat jy waarskynlik nie oor gesigolies geweet het nie

Toe ons in ons tienerjare met puisies gesukkel het, is olies as die vyand beskou. Ons het ’n olierige gelaat soos die plaag gevrees en dit met sterk saamtrekmiddels, sepe en skropmiddels beveg. Maar eintlik is die “boosheid van olie” ’n totale mite.
face oils

Hier is vyf feite oor gesigolies wat jou sal oorhaal om hoëgehalte-olie by jou gesigsorgroetine te voeg.

  1. Gesigolie is nie wat dit was nie

“Olie soos ons dit ken is nie dieselfde as wat dit was nie,” sê dr. Jeannette Graf, ’n dermatoloog en assistent- kliniese professor in dermatologie aan die Mount Sinai- mediese sentrum in die VSA. Vooruitgang in die vermoë om olie te verfyn het gelei tot kosmetiese-graad-olies wat dikwels nader aan die konsistensie van water kom. “Dit was voorheen dik en verstoppend, soos mineraalolie, maar nou is dit versagtend en laat geen residu op die vel agter nie,” sê Graf.

  1. Gesigolie is eintlik voordelig vir ’n olierige vel én een wat tot aknee geneig is

Gesigolie is goed vir alle veltipes, veral wanneer jy die regte soort kies. Dit help om die natuurlike balans van die vel se vogvlakke te herstel, wat die T-strook (die deel van jou gesig wat uit die voorkop, neus, ken en gedeelte rondom die mond bestaan) minder olierig maak en droë dele meer bevog. Dit is hoekom gesigolie geskik is om bedags onder grimering te gebruik, en ook in ’n tropiese klimaat.

Jou vel verander ook deur die loop van die dag. Selfs al word jy met ’n olierige vel wakker, kan jou vel teen die middag droog voel. Gesigolies reguleer die produksie van sebum gedurende jou olierige tye, maar help keer ook inflammasie gedurende jou droër ure.

  1. Gesigolies komplementeer jou gesigroetine

Natuurlike botaniese olies kan veltoleransie verbeter deur die irritasie te voorkom wat deur sommige teenverouderingsbestanddele veroorsaak word. Die kragtige antioksidante daarin verminder inflammasie en kalmeer die vel. As jy ’n olie voor jou teenverouderingsroom aanwend, tree die oliemolekules boonop soos Trojaanse perde op wat die vel kul om voordelige bestanddele soos retinol, vitamien C en glikolsuur dieper in die vel toe te laat.

  1. Lipiede is jou vriende

Olies, wat ook as lipiede bekend staan, kom natuurlik in die vel voor om dit daardie gesonde gloed te gee. Lipiede skep ’n beskermende laag wat vog binne hou en die elemente, soos die son en wind, buite hou. Namate jy ouer word, vervaardig jy minder lipiede, Dit gee aanleiding tot dehidrasie en ’n geneigdheid tot plooie. Wanneer olies aan die vel aangewend word, sonder die inmenging van was, word dit direk in die boonste lae van die epidermis geabsorbeer waar dit oombliklik werk om die lipiedskeidsfunksie te verbeter. Deur die olies aan te vul wat jy weens veroudering en blootstelling verloor, stel jy jou vel in staat om te doen wat dit van nature doen – om vog te behou en aanslae van die son en wind te weerstaan.

  1. Olies is doeltreffende reinigers

Die buitenste laag van die vel is ’n olierige laag en die doel daarvan is om vog in die vel te hou. Dit is ’n belangrike funksie, want vog fasiliteer ensiemaktiwiteit, wat weer tot ’n gesonde, stralende vel lei. Wanneer jy dit daagliks was, kan dit baie skade aanrig omdat seep en water albei uitdrogend is en die vel se olierige laag afstroop.

Waar reinigers met ’n seepbasis rondom vuiligheid en olies vou, wat dan met water weggewas word, het reinigers met ’n oliebasis die vermoë om ander olierige materiaal op te los. Oortollige sebum en versamelde vuiligheid op die vel se oppervlak is albei olierig. ’n Reinigingsolie los dus hierdie stowwe sagkens op sonder om die vel se natuurlike olierige laag te verwyder. Dié sagte reinigers laat dan die vel bevog en het geen uitdrogende uitwerking nie – selfs met verlengde en gereelde gebruik.

Ons is dol oor Lipidol Cleansing Face Oil, wat vuiligheid en grimering verwyder sonder om die vel se natuurlike olierige laag te stroop. Wend dit eenvoudig aan jou droë gesig aan en vuiligheid en grimering sal met die olie bind. Voeg ’n bietjie water by en hou aan masseer. Die olie sal emulsifiseer om ’n waterige room te vorm. Spoel af en voilà!

“Lipidol Cleansing Face Oil is sorgvuldig ontwerp en wetenskaplik geformuleer om te verseker dat dit die maksimum reinigingskrag het om oortollige sebum en versamelde vuiligheid te verwyder, en terselfdertyd jou vel optimaal gesond te hou,” sê die kosmetiese wetenskaplike John Knowlton. “ ’n Spesiale vermenging van arganolie, sesamsaadolie, saagpalmolie en niemolie verskaf voeding vir die vel, en die lig gegeurde nuanses van roosmarynolie en niaouli-olie maak die produk ’n plesier om te gebruik.”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om gesigolies en -serums reg aan te wend

Ja, daar is ’n regte en ’n verkeerde manier om dit te doen. Volg hierdie maklike stappe om die maksimum...

Close