×
Skakel na Engels

5 goed wat jy nou dadelik kan weggooi

Hierdie items is nie so onmisbaar soos jy dink nie
weggooi

Enige dag is ‘n goeie dag om van onnodige items ontslae te raak. Gebruik die eerste beste 10 minute wat jy kan afknyp om alles uit te gooi wat nie meer ‘n doel dien nie.

1. Smaakmiddels en speserye wat verval het

Hoe baie ons ook al van die gratis sousies hou wat saam met wegneemetes kom, breek daar ‘n dag aan dat hulle moet groet. Dieselfde geld halfleë houertjies kerrie en hoenderaftreksel, of botteltjies kruie en speserye wat al ‘n ewigheid in jou kas deurgebring het. Al wat hulle doen, is om kosbare spasie in jou kas op te neem. Gaan die vervaldatums op jou smaakmiddels na en gooi dié uit wat verby hulle “beste-voor”-datum is.

2. Medikasie wat verval het

Ja, jy het drie jaar gelede R140 vir daai ekstra groot pakkie Corenza-C betaal. Maar geen medikasie sal verligting bring as die vervaldatum reeds verstreke is nie. Trouens, dit kan jou meer kwaad as goed doen. Maak egter seker dat jy op ‘n veilige manier daarmee wegdoen. Jou apteker behoort ‘n houer vir mediese afval te hê waarin jy jou ou pille kan gooi.

3. Kombuissponse

Ou sponsies is die ideale gasheer vir kieme en bakterieë. Maak ‘n reël om hulle elke twee weke te vervang. Dit sal help om jou kombuis higiënies en skoon te hou.

Lees: 11 alledaagse noodsaaklikhede wat ons almal in ons handsakke moet hou

4. Halfleë drankbottels

Ja, ons weet jy wil nie alkohol mors nie, maar om die laaste bietjie wyn uit te gooi wat al vier maande lank in jou yskas staan, is nie mors nie. En in plaas daarvan om ‘n nuwe bottel whisky oop te maak, kan jy eers dié klaarmaak wat in jou kas is. As jy nie van die perskesnaps hou wat ‘n vriend twee jaar gelede na ‘n braai toe gebring het nie, is dit tyd om dit uit te gooi.

5. Uitgediende klere

Jy het dalk kosbare herinneringe aan aande uit in jou leerminiromp, maar wees eerlik – jy het dit jare laas gedra en gaan dit waarskynlik nie gou weer aantrek nie. Maak al die uitgediende kledingstukke in jou klerekas bymekaar en skenk dit aan iemand wat dit nodig het.

LEES OOK:

FOTO: iStock/Image Source

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief