×
Skakel na Engels

5 goed wat jy moet weet voordat jy jou volgende sportbra koop

’n Sportbra is een van die belangrikste oefenkledingstukke wat elke vrou nodig het, en een wat reg pas, kan ’n groot verskil aan die gesondheid van jou borste en die gehalte van jou oefening maak

Volgens Shock Absorber, ’n toonaangewende sportbrahandelsmerk, oefen ’n groot persentasie vroue sonder ’n sportbra. Om die regte branommer vir elke dag se dra te kry beteken nie altyd dat ’n sportbra in dieselfde nommer net so goed sal pas nie. Volg hierdie stappe om te verseker dat jy ’n bra sal kry wat jou die regte ondersteuning vir jou aktiwiteitsvlak sal gee.

1. NEEM MATES

Staan voor die spieël en neem mates van jou bors met die maatband oor jou bors en weer onder jou bors en maak seker dat die maatband op dieselfde vlak bly. As jy tussen nommers is, kies die groter keëlnommer.

2. WAT IS JOU AKTIWITEITSVLAK?

Omdat verskillende sportsoorte verskillende vlakke van ondersteuning nodig het, is die meeste sportbra’s ontwerp om te verseker dat jy die beste ondersteuning kry, ongeag jou aktiwiteitsvlak. Jou borste het byvoorbeeld meer ondersteuning nodig gedurende hoë-impak-aktiwiteit soos draf as gedurende ’n lae-impak-aktiwiteit soos joga. Kyk uit na etikette wat aandui vir watter aktiwiteit die bra die geskikste is: laag, medium of hoog. Sommige kan selfs aandui dat draers van sekere branommers ’n hoër-impak-bra vir lae- of medium-impak-aktiwiteite kies.

3. SWEETVRYE MATERIAAL

Die meeste bra’s word gemaak van materiaal wat vog van die vel na buite trek om jou droog te hou en te keer dat die materiaal jou skaaf. Kyk uit na woorde soos “CoolMax” en “Cool Cotton” op die etiket.

4. DOEN DIE TOETS

Wanneer jy die bra gekry het wat jou perfek pas, maak jou oefenbewegings na. Spring, lig jou arms op en swaai dit rond en buig oor – die bra moet stewig en gemaklik voel. Kyk vir enige uitdyings en of jou borste in posisie bly. Maak ook seker dat die bra nie opskuif nie. Haal ’n paar keer diep asem; die bra moet stewig pas, maar jou nie knel nie. As jou borste by die keëls uitpeul, beteken dit die bra is te klein, en as dit plooie maak, beteken dit die keëlnommer is te groot. Kyk dat die middelste deel van ’n ingekapselde vra (’n bra met twee afsonderlike keëls) plat teen jou borsbeen lê. As dit wegstaan, behoort jy ’n groter keëlnommer te probeer. Die agterkant van die bra moet ook nie opgly nie. As dit wel die geval is, kry ’n kleiner nommer.

5. WANNEER OM JOU SPORTBRA TE VERVANG

Afgesien van die ooglopende tekens dat jy ’n nuwe sportbra nodig het – as dit nie meer elasties is nie, daar skeure in die materiaal is en as jou borste al hoe meer beweeg gedurende aktiwiteit – behoort jy jou bra elke ses tot 12 maande te vervang as jy dit drie tot vier keer per week dra.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
GH raak fiks met Adventure Boot Camp

Is jy op soek na ’n oefenklas wat jy sal geniet en wat jou gemotiveerd sal hou? Goeie Huishouding se...

Close