×
Skakel na Engels

5 fantastiese wegbreke vir die gesin

Dis nie te laat om jou vakansie te beplan nie! Ons vertel jou van ’n paar van ons gunstelingplekke vir ’n bietjie gehalte-gesinstyd

 

Hoog in die bome | KwaZulu-Natal

Speel Robinson Crusoe in ’n prettige boomhuis

WAAR Mtunzini Forest Lodge, net 400 meter van ’n ongerepte private strand af.

WAT OM TE DOEN Verken die woud met sy seldsame wortelbome, klimvisse en vioolspelerkrappe, vaar op ’n trekskuit en kyk uit na visarende, sebras, rooiduikers, bosapies en skugter bosvarke.

INLIGTING Huisies met slaapplek vir vier of ses. Sluit DStv, braaiplek, swembaddens, speletjieskamer en restaurant met kroeg en grootskerm-TV in.

BESPREEK 035 340 1953 of 083 894 4497 | Mtunzini, 90 minute van Durban aan die KwaZulu-Natalse Noordkus | www.mtunzini.co.za/mtzforest.htm | Viermanhuisie vanaf R1090 en sesmanhuisie vanaf R740 per nag.

Woudwegbreek | Limpopo

Rus uit vir die res van die jaar met ’n gesinswegbreek in die natuur.

WAAR Stanford Lake Lodge, tussen Haenertsburg en Magoebaskloof, Limpopo, het gerieflike selfsorghuise en rustieke kothuise wat tussen inheemse woude en ’n pragtige meer lê.

WAT OM TE DOEN Stap deur die woud, ontdek bergfietsroetes, gaan kunsvlieghengel of ontspan en geniet die uitsig en die voëllewe. Avontuurlustige gesinslede kan binnebandry, perdry, klooftogte aanpak, abseil of verfbal speel.

NODIGE INLIGTING Die huise het plek vir ses tot tien en die kothuise vir twee tot agt.

BESPREKING EN KOSTE 079 519 9211 | Stanfordplaas A21 vanaf die R71 | Vanaf R500 per persoon per nag in ’n huis en R300 in ’n kothuis. | www.stanfordlake.co.za

 

Plaaswegbreek | KwaZulu-Natalse Middelland

Pak af by The Potato Shed, ’n ou plaasskuur, vir ’n ontspanne naweek.

WAAR In die vreedsame Dargle Valley in die Middelland, 45 km van Pietermaritzburg.

WAT OM TE DOEN Gaan stap in die woud, swem en vang baars in die plaasdam, of ontspan met ’n boek in die lieflike tuin terwyl die kinders fietsry en help koeie melk. Die Howickwaterval, Midmardam en Karkloof Canopy Tours is alles net ’n entjie se ry weg.

INLIGTING Slaapplek vir ses volwassenes en twee kinders onder 12 in drie dubbelkamers en die sitkamer (oopplan met ’n kaggel). Daar is sonkrag, maar die kombuis is ten volle toegerus en daar’s ’n buitebraai. Plaasmelk word daagliks verskaf.

BESPREEK 072 251 3513 of 082 786 9718 | Op die Dargle/Impendle-pad, KwaZulu-Natalse Middelland | www.thepotatoshed.co.za | R2 000 per nag; skoonmaak: R100 per dag.

 

See toe! | Weskus

Gaan stap op die strand of krul op met ’n lekker boek – die Weskus is ideaal vir somer- én winterwegbreke.

WAAR Paternoster, Weskus. Sowat 1 uur en 45 minute se ry van Kaapstad af.

WAT OM TE DOEN Dié witgekalkte dubbelverdieping-huis reg oorkant die spierwit strand is knus dog gerieflik. Soos die eienaar sê, dit het alles wat jy nodig het, “selfs ’n aartappelskiller en ’n botteloopmaker”. Wanneer dit kreefseisoen is, kan julle dit self uithaal of by plaaslike inwoners koop. (Maak net seker die kreef is nie ondermaats nie!)

INLIGTING Slaapplek vir nege. Die aangrensende woonstel, met slaapplek vir twee, is ideaal vir Ouma en Oupa – of tieners – wat ’n bietjie privaatheid wil hê. Die huis het ’n lae, onopvallende muurtjie, wat dit kinder- en troeteldiervriendelik maak. Die inwonende huishoudster hou die huis netjies.

BESPREEK Vanaf R1 600 per nag | 083 261 5617 | diepomphuisie.wordpress.com

 

Digitale detoks | Wes-Kaap

Skakel letterlik en figuurlik af en waardeer weer die natuur by die Akasha Mountain Retreat met sy Kaaps-Marokkaanse styl.

WAAR Hoog op in die Langeberge, sowat 12 km noord van Heidelberg.

WAT OM TE DOEN Geniet die uitsig, voetslaan deur die kloof, besigtig voëls of dut in die hangmat terwyl die kinders tussen skattejag, bordspeletjies of visvang kan kies.

INLIGTING Die hoofhuis het slaapplek vir zes volwassenes en een kind; die suite kan twee volwassenes en een kind huisves. (Dit word as ’n eenheid verhuur.) Al twee is volledig toegerus en gebruik sonkrag.

BESPREEK 082 090 1741 | Uit die R322, uit die N2 naby Heidelberg | www.akasharetreat.co.za | Vanaf R3 000 per nag.

 

* Pryse korrek teen publikasiedatum en is onderhewig aan verandering.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 motorveiligheidstoetse wat jy moet doen voordat jy die langpad vat

Moenie dat motorprobleme jou vakansie in die wiele ry nie. Gebruik hierdie nuttige afmerklysie om seker te maak jou motor...

Close