×
Skakel na Engels

5 dinge wat nooit verby jou lippe moet gaan nie

Die Brits-Nigeriese aktrise, TV-persoonlikheid en stylikoon Eku Edewor lei ’n fiks, gesonde leefstyl. Sy verklap aan ons die vyf eet- en drinkgoed waarvan sy wegbly

 

 

 

Die D-woord

Ek vermy die woord “dieet”, want ek dink saam met daardie etiket kom druk. Ek verkies “eet reg”, want ek weet wanneer ek reg eet, voel ek reg – en dieselfde geld wanneer ek “sleg eet”.

 

Wat vir my werk

Kook het my passie geword. Wanneer jy eers verstaan hoe om kos goed te laat smaak – of dit nou broccoli of sjokoladekoek is – is dit eintlik maklik om die regte goed te eet. Ek eet so te sê alles, maar ek vermy wel sekere kosse omdat dit geen voedingswaarde het nie of dit my net nie laat goed voel nie.

 

Ek pas porsiebeheer toe, wat beteken ek beperk my koolhidraatinname, eet baie groente en proteïen en peusel aan vrugte en neute. En ja, ek eet van tyd tot tyd nagereg!

 

 

Daar is egter sekere goed wat ek nooit verby my lippe laat gaan nie:

 

 

1. Dieetgaskoeldrank

 

Dit smaak nie net sleg nie; dis baie sleg vir jou en jou tande omdat dit meer suur bevat en weens al daardie chemikalieë. Ek weet nie hoe enige iemand dit kan drink nie.

 

 

2. Witrys

 

Witrys is ’n stapelkos in Nigerië. Toe ek daarheen teruggetrek het, het ek gevind ek loop in ’n lokval dat ek die hele tyd rys eet. Ek het agtergekom ek eet groot hoeveelhede rys, maar raak later weer honger en dat my energievlakke baie laag daal ná die aanvanklike energiehupstoot. Dit laat my nie goed voel nie en dis nie ’n voedsame opsie nie omdat dit meestal in suiker omsit en eindelik sleg vir jou is. Volgraankosse is ’n beter alternatief omdat dit my volgehoue energie gee.

 

 

3. Vetvrye kosse

 

Ek vermy kos wat op die etiket vetvry of laevet sê omdat sulke kos inderwaarheid slegter vir jou kan wees omdat dit waarskynlik bygevoegde suiker en chemikalieë bevat om vir die gebrek aan smaak op te maak. As jy na die volvet-opsie smag, eet ’n matige porsie en beperk hoe dikwels jy dit eet. Ek dink dis belangrik om jouself in ’n gewoonte te kry om gesonder snoepgoed te eet en die volvet-opsies net van tyd tot tyd te geniet. Niks smaak so goed soos die ware Jakob nie. Doen dus keuses wat jou toelaat om dit van tyd tot tyd te geniet.

 

 

4. Margarien

Ek haat die smaak van margarien én dis ’n gesondheidsgevaar. Dit verswak die immuunstelsel en jou insulienrespons en dit raak nooit sleg nie – selfs vlieë gaan nie naby margarien wanneer dit oop staan nie!

 

 

5. Bevrore etes

 

Ek het agtergekom die paar keer wat ek al bevrore maaltye geëet het, het dit my maag omgekrap. Dan wonder ek of ek dit reg verhit het of waardeur dié maaltyd gegaan het voordat dit in my plaaslike winkel se vrieskas beland het. Ek dink dit moet die preserveringsproses en die hoër natriuminhoud van die kos wees wat my maag omkrap. As ek enige iets vries, wil ek weet ek het dit vars gekoop en self berei.

 

 

Kliek hier vir meer oor Eku.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
4 gevalle waar jy die skil behoort te eet

Die skille, doppe en peule van sekere kosse is propvol vesel, vitamiene of proteïen

Close