×
Skakel na Engels

5 dinge wat jou naels oor jou gesondheid sê

Daardie wit strepe kan niks wees nie, of dit kan ’n teken van ’n ernstige gesondheidsprobleem wees …

1. BLEEK NAELS

As jou naelbed ’n bietjie bleek lyk, kan jy dalk bloedarmoede hê. Dis ’n bloedsiekte wat deur ’n lae rooibloedseltelling gekenmerk word. Verhoog jou ystervlakke deur meer groen blaargroente, bone en rooivleis by jou dieet in te sluit.

Op ’n ernstiger noot: Bleek naels kan ’n teken van vroeë diabetes of lewersiekte wees. ’n Besoek aan die dokter vir toetse sal ’n akkurater diagnose verseker.

LEES: Vyf maniere om jou naels te versterk

2. VERGEELDE OF VERDIKTE NAELS

Verdikte naels, met of sonder ’n geel toon, word deur swaminfeksies veroorsaak, waarvoor jou dokter mondelikse medikasie kan voorskryf. ’n Geel kleur kan egter ook wees weens jou liefde vir donker naellak, in welke geval dit binne ’n paar dae behoort op te klaar.

3. DROË, GEKRAAKTE OF BROS NAELS

Bros naels kan die gevolg wees wanneer jy dikwels sonder handskoene skottelgoed was, te veel naellakverwyderaar gebruik of dit kan bloot ’n teken van veroudering wees. As die probleem egter voortduur, praat met jou dokter, want dit kan ook op hipotiroïdisme dui.

Om droë naels te behandel, wend gereeld ’n hand- en/of naelvogroom aan. As dit nie help nie, probeer biotien, ’n oor-die-toonbank-aanvulling vir gesonde naelgroei.

LEES: Wat dit van jou sê as jy jou naels byt, volgens die wetenskap

4. WIT LYNE

Wit strepe wat horisontaal oor die nael loop, is bekend as Muehrcke se lyne. Dit kan ’n teken van ’n lewer- of niersiekte wees, of ’n gebrek aan proteïen. Dis wys om ’n dokter te gaan spreek sodat toetse gedoen kan word. Kleiner wit merke word egter gewoonlik deur ’n besering aan die naelbed veroorsaak. Dit behoort binne ’n paar weke te vervaag of uit te groei.

5. DONKER VERKLEURINGS

As jy nie onlangs jou vingers in ’n motordeur vasgeslaan (of ’n soortgelyke besering opgedoen het) nie, is dit raadsaam om so gou moontlik ’n dokter te gaan spreek, want hierdie donker merke kan op ’n melanoom dui. Dit kan ook ’n goedaardige moesie wees. Wat ook al die geval is, dit is wys om jou dokter se mening te kry.

LEES: 5 wenke vir gesonde hande en naels

Bronne:

news.health.comwww.prevention.comwww.shape.com

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Alles wat jy al ooit oor Botox en opvullers wou weet …

... maar te bang was om te vra, waaronder potensiële newe-effekte en minder ingrypende teenverouderingsoplossings. Deur Liat Hughes Joshi

Close