×
Skakel na Engels

5 beleefde maniere om jou geld terug te vra

Kry jou geld terug sonder om ‘n vriendskap te ruïneer.
geld terug

Die meeste van ons het op een of ander tydstip vir ‘n vriend of familielid geld geleen. Die probleem kom as hulle dit nie terugbetaal nie.  Soms kan ons R50 of wat oorsien, maar wat gemaak as ‘n groot bedrag ná baie maande se gewag nog nie terugbetaal is nie? Hier is ‘n paar beleefde en niekonfronterende maniere om hierdie situasie te benader.

1. Maak ‘n afspraak

Nooi die persoon vir ‘n kuiertjie oor ‘n koppie koffie. Dit is beter om persoonlik te gesels as oor die foon. Die persoon sal duidelik sien wat jou bedoelings is en dit sal moeiliker wees om ander praatjies te maak.

2. Herinner haar op ‘n terloopse manier

Jou vriendin het dalk regtig van die R3 000 vergeet wat sy ses maande gelede by jou geleen het. Om haar op ‘n ongeërgde manier daaraan te herinner is ‘n goeie manier om haar geheue te verfris en heel moontlik aan te spoor om jou eerder vroeër as later terug te betaal. 

Lees: Hoekom ek nie vir my kinders sakgeld gee nie

3. Wees op die man af

Om doekies om te draai gaan jou niks in die sak bring nie – letterlik! Pak die bul by die horings en wees op die man af en eerlik met die persoon. Jy hoef nie ‘n omslagtige verduideliking te gee oor waarom jy die geld nou wil terughê nie – dis immers jou geld. Maak dit vriendelik duidelik dat toe jy die geld vir hom geleen het, dit op voorwaarde was dat hy jou sou terugbetaal, en dat jy graag jou geld wil terughê. 

4. Moet dit nie laat vaar nie

Hoe pynigend dit ook al is om die persoon daaraan te bly herinner dat hy jou nog nie terugbetaal het nie, moet jy probeer om dit nie te laat vaar nie. Hou aan om hom elke twee of drie dae te herinner om seker dat maak dat hy besef dat dit vir jou ‘n saak van erns is. 

5. Stel ‘n alternatief voor

Indien nie een van bogenoemde voorstelle werk nie, kan jy die saak dalk anders benader deur aan te bied dat die skuld via ‘n paaiementplan afbetaal word. Sodoende wys jy dat jy buigsaam is, al wil jy steeds jou geld terughê.

FOTO: iStock/jacoblund

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief