×
Skakel na Engels

5 algemene kure vir slaaploosheid. Werk dit regtig of nie?

Laventelolie, skape tel en meer. Ons plaas dit onder die mikroskoop

1. ’n Beker warm melk

Ma was reg oor hierdie een, hoewel nie om die rede wat jy waarskynlik gehoor het nie. Volgens konvensionele wysheid sus die melk jou aan die slaap omdat dit triptofaan, ’n slaapwekkende aminosuur, bevat wat ook in kalkoen voorkom. Maar in onlangse studies is bevind dat triptofaan nie baie doeltreffend is wanneer dit saam met baie proteïen ingeneem word nie – waarvan melk baie bevat.

Hoekom maak warm melk jou dus vaak? Waarskynlik omdat dit bloot vertroostend is, volgens ’n artikel in die New York Times, en ’n glas vol voordat jy gaan slaap beteken ook jy sal minder waarskynlik deur honger wakker gehou word.

 2. Skape tel

Die oudste, bekendste, vreemdste slaaploosheidsremedie van almal. Hoekom skape? Niemand weet regtig nie, maar die idee is dat wanneer jy hulle in jou kop tel, dit jou van ander gedagtes sal aflei wat jou snags wakker kan hou. Verrassing: Dit werk nie!

Of dit is ten minste wat navorsers aan die Universiteit van Oxford bevind het toe hulle verskillende tegnieke getoets het om vinniger aan die slaap te raak. Toe deelnemers aan die studie opdrag gegee is om hul aandag af te lei deur skape te tel, het dit hulle trouens langer geneem om aan die slaap te raak as op nagte wanneer hulle geen instruksies gegee is nie.

3. Visualisering

“Verbeel jou jy is op ’n strand …” Ons was al almal daar, of hoe? Om jouself te verbeel jy is êrens waar dit rustig en idillies is, is een van die eenvoudigste slaapwenke wat daar is, en die goeie nuus is dat dit sowaar werk.

In dieselfde Oxford-studie wat ons reeds genoem het – die een wat skaaptellery as ’n mite ontbloot het – het die deelnemers die vinnigste aan die slaap geraak wanneer hulle opdrag gegee is om hul aandag af te lei deur hul verbeelding in te span. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat dit is omdat dit meer kognitiewe energie verg om jouself op ’n strand (of watter rustige landskap jy ook al kies) te visualiseer as ’n meer basiese afleidingstaak soos om skape te tel. Hoewel dit natuurlik afhang van hoeveel moeite jy in daardie verbeelde skape insit.

4. Laventelolie

Die meeste mense sal saamstem dat die geur van laventel ontspannend is, maar die uitwerking daarvan op slaap is dramaties. In verskeie studies is bevind dat ’n paar druppels laventelolie op jou kussing slaapgehalte verbeter. Deelnemers in een Britse studie het ’n 20% beter nagrus gerapporteer nadat hulle in ’n laventelgegeurde vertrek geslaap het. In ’n ander studie is bevind dat proefpersone wat teen slaaptyd laventel geruik het, ook die volgende oggend meer verfris en energiek gevoel het – beslis ’n wenner!

5. ’n Warm bad

Jy is geneig om energiek te voel wanneer jou liggaamstemperatuur styg en slaperiger wanneer dit daal. Hierdie een sal dalk teenintuïtief klink, maar dink daaroor. Nadat jy uit daardie stomende warm bad geklim het, sal jou kerntemperatuur drasties daal terwyl jy jou afdroog, wat jou dan slaperig sal maak. Maar werk dit?

Dit hang van jou liggaam af. Sommige mense is van nature minder geneig om af te koel, want kan beteken dat hul kerntemperatuur hoog bly ná ’n slaaptydbad en dit trouens moeiliker maak om aan die slaap te raak – en studies het getoon dat dit slaapgehalte verminder as jy warm raak voordat jy in die bed klim. As ’n warm bad dus vir jou werk, doen dit, maar dis beslis nie ’n gewaarborgde oplossing nie.

Van: elleuk.com

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om op te hou op die sluimerknoppie te druk

Dis koud en donker, en al wat jy wil hê, is nog ’n paar minute in die bed. Daarom druk...

Close