×
Skakel na Engels

5 algemene huishoudelike noodgevalle en hoe om dit te hanteer

Wanneer dit by huishoudelike noodgevalle kom, is tyd van uiterste belang
algemene huishoudelike noodgevalle

“In die geval van ’n huishoudelike noodgeval, is tyd van uiterste belang,” sê Brett Emmerson, die stigter en hoof van die nuwe Building Service Advisor-mobiwebwerf en -webwerf wat gebruikers help om die naaste hulpverskaffer vir hul noodgeval vinnig en maklik deurmiddel van geoligging op te spoor.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

“Hoe vinniger jy op ’n huishoudelike noodgeval reageer, hoe minder skade sal daar aan jou huis wees – en hoe minder koste sal daar aan die herstelling verbonde wees,” sê Emmerson, wat verder noem dat huishoudelike noodgevalle nie altyd binne werksure gebeur nie. “Om voorbereid te wees – en te weet wie om te bel – kan die wêreld se verskil in dié situasies maak.”

Volgens ’n opname wat deur NMRA Insurance gedoen is, is hierdie vyf van die algemeenste huishoudelike noodgevalle wat kan voorkom:

1. ’n Kragonderbreking

2. ’n Verstopte toilet, pyp of drein

3. ’n Stukkende of gebarste geiser

4. ’n Gebreekte glasvenster of -deur

5. ’n Gaslek

Emmerson gee raad oor wat om in elkeen van dié situasies te doen:

1. ’n Kragonderbreking

“As jy ’n kragonderbreking ervaar weens ’n fout met die elektriese bedrading in jou huis, of as daar ’n probleem met die kragtoevoer na jou huis is, bel dadelik ’n gekwalifiseerde elektrisiën en moet nóóit probeer om elektriese foute self te herstel nie!” waarsku Emmerson. “As ’n kragonderbreking egter weens iets buite jou beheer veroorsaak is, soos uiterste weerstoestande of ’n Eskom-onderbreking, is daar ongelukkig nie veel wat jy kan doen nie. Hou dus altyd kerse of lampe byderhand.”

2. ’n Verstopte toilet, pyp of drein

Indien ’n drein of toilet verstop raak, is die eerste ding wat jy moet doen om ’n suier te gebruik om die verstopping uit te suig. Nog ’n opsie is om ’n seepsoda-oplossing in die drein te gooi, maar werk versigtig daarmee en volg die aanwysings op die verpakking deeglik. ” ’n Verstopte toilet kan dikwels gespoel word deur ’n groot emmer water direk in die bak te gooi. As jy glad nie regkom nie, is die volgende beste ding om te doen om ’n loodgieter vir hulp te kontak,” sê Emmerson.

3. ’n Stukkende of gebarste geiser

’n Geiser het ’n beperkte leeftyd – as joune dus probleme begin gee, is dit waarskynlik tyd om dit te vervang. Die enigste ding wat erger is as ’n geiser wat probleme gee, is een wat bars en water op die plafon en moontlik die vertrek daaronder lek. “As jy ’n nuwe geiser nodig het – hetsy onder normale of noodomstandighede – moet jy natuurlik eers ’n ervare loodgieter bel,” beveel Emmerson aan. “Terwyl jy wag, draai solank die watertoevoerkrane buite die huis toe en probeer om die skade te beperk deur emmers en handdoeke neer te sit waar en soos nodig.” 

4. ’n Gebreekte glasvenster of -deur

As ’n venster- of deurruit gebreek het, moet jy dit so gou moontlik laat regmaak tensy jy aan kwaaddoeners en rondlopers ’n ope uitnodiging wil “adverteer”. Volgens Emmerson moet jy ’n glasinstalleerder bel om die gebreekte glas so gou moontlik te kom vervang. Jy wil nie jouself beseer of sny deur dit self te probeer regmaak nie.

5. ’n Gaslek

Al hoe meer Suid-Afrikaners gebruik gasstowe en -oonde. ’n Gaslek kan egter baie gevaarlik wees. As jy gas ruik of vermoed daar is ’n lekkasie, doen die volgende:

1. Moenie rook of enige vuurhoutjies aansteek nie

2. Moenie enige elektriese toestelle aan- of afskakel nie

3. Maak alle deure en vensters in die vertrek oop

4. Draai die gaskan of -toevoer toe

5. Kontak ’n gelisensieerde gasaanlêer om die probleem te kom vasstel en reg te stel

Kry vinnig en maklik hulp

Met die BSA-mobiwebwerf en -webwerf kan jy aanmeld en dan die unieke geoligging-funksie gebruik om vinnig die kontakbesonderhede te kry van ’n geskikte diensverskaffer in jou omgewing – dag of nag. Diensverkaffers word volgens hul geografiese ligging op die BSA-webwerf gelys, wat dit maaklik maak om die regte ambagsman – van verwers tot loodgieters en slotmakers – in jou omgewing te kry. BSA bied ook ’n geospesifieke soekfunksie sodat jy na oplossings reg in jou buurt kan soek. Besoek buildingserviceadvisor.co.za vir nog inligting.

FOTO: iStock/AntonioGuillem

LEES OOK:

10 noodartikels wat jy altyd in jou huis moet hê

5 dinge wat ek in ’n noodhulpkursus geleer het

3 noodnommers wat alle Suid-Afrikaners moet ken

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Dís waarna jy moet uitkyk wanneer jy na ’n nuwe huis soek

Dis makliker om ’n goeie besluit te neem as jy weet waarvoor jy op die uitkyk moet wees

Close