×
Skakel na Engels

4 wenke vir die perfekte Paaseierskattejag

Maak ’n prettige Paaseier-skattejag deel van jou gesin se Paastradisies
Paaseierskattejag

Paasfees word met baie dinge geassosieer, onder meer die Paashaas en sjokoladelekkernye. Maar die aktiwiteit wat seker die grootste aftrek by kinders kry, is die Paaseierskattejag. Hierdie wenke en truuks sal jou help om die perfekte skattejag vir jonk en oud te organiseer:

1. Die kinders

As jou kinders in verskillende ouderdomsgroepe val en by verskillende aspekte van ’n Paaseiersoektog sal baat vind, kan jy jou tuin of leefkamer in twee verdeel om in albei groepe se behoeftes te voorsien.

Ouer kinders

Ouer kinders sal ’n meer uitdagende soektog geniet, en jy kan dit doen deur ’n reeks leidrade te los of deur ’n bietjie moeiliker wegsteekplekke te kies.  Hou sommer ’n ordentlike skattejag deur leidrade in plastiekeiertjies in die tuin weg te steek.

Dit sal hulle uiteindelik na die groot skat lei – ’n Paaseiermandjie vol lekkernye! As jy ’n groot groep kinders het, kan jy hulle in spanne verdeel of ouer en jonger kinders twee-twee laat saamwerk sodat almal in die pret kan deel.

Jonger kinders

Kleiner kindertjies verkies makliker wegsteekplekke, met ’n sjokoladehasie se ore of voete wat as leidraad iewers uitloer. Kies maklike wegsteekplekke soos lae boomtakke, op die gras of agter ’n potplant. En hou by helder kleure sodat die eiers maklik gekry kan word. Sodoende sal hulle deel van die Paaseiersoektog voel en ervaar dat hulle iets bereik het wanneer al die eiers opgespoor is.

Om te voorkom dat hulle vir meer vra wanneer die soektog verby is, kan jy die Paaseiers nommer en hulle vooraf sê hoeveel hulle moet soek. Sodoende weet hulle wat om te verwag – en kan hulle sommer hulle optelvaardighede oefen!

2. Die eiers

Vir eet of speel… 

Gebruik die regte sjokolade-eiers en geskenkies vir die skattejag of gebruik plastiekeiers en beloon jou kinders ná die tyd met die ware Jakob. Hoe dit ook al sy, maak seker dat jy weet hoeveel items jy wegsteek sodat jy nie in Julie op ’n hartseer agtergeblewe sjokolade-eier afkom nie.

Meer as een kind

As twee of meer kinders na Paaseiers soek en jy die vrede wil bewaar, kan jy jou kinders se name op die eiers aanbring. (Maak tog seker dat elke kind dieselfde getal en grootte eiers kry!) Sodoende sal hulle weet dat hulle net eiers en lekkernye met hul naam daarop mag kry. Vir kleiner kindertjies wat nog nie kan lees nie, kan jy simbole soos sirkels, driehoeke en vierkante in plaas van hul name gebruik.

Lees ook: 5 idees vir ’n Paasfees-noenontbyt

3. ’n Resies

Wat van ’n Paaseierresies? Gee vir elke kind ’n mandjie om te sien wie die meeste eiers in die tuin kan uitsnuffel. Wie ook al die meeste kry, wen ’n ekstra prys. Al die eiers word dan bymekaargemaak en gelykop tussen die kinders verdeel. 

4. Die volwassenes

Wanneer die kinders se skattejag verby is, is dit jul beurt. Gee hulle ’n klomp malvalekker-eiers wat hulle in die tuin moet wegsteek. Kom ooreen op ’n afgebakende deel waar hulle die eiers kan wegsteek – hulle sal die verantwoordelikheid geniet en groot pret hê wanneer julle die eiers begin soek. Maak seker dat hulle sê of julle “warm” of “koud” is!

FOTO: iStock/LPETTET

LEES OOK:

6 roostergeregte vir jou Paasfeesete

6 wegbreekplekke vir Paasnaweek

5 maniere om dié Paasfees gesond te bly

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief