×
Skakel na Engels

4 verrassende gesondheidsvoordele van dankbaarheid

Om gereeld oor al die goeie dinge in jou lewe na te dink kan jou geluk, optimisme én gesondheid ’n hupstoot
 gee. Betoon sommer vandag nog meer dankbaarheid!
dankbaarheid

Gereelde waardering, of dit vir groot-prentjie-goed is (soos gesonde kinders) of vir kleiner dinge (soos dat die son skyn), sal jou gevoel van vergenoegdheid en optimisme met 25% verhoog, volgens navorsing. Maar om aan jou dankbaarheid te werk doen meer as om jou gelukkig te maak – studies toon dat dit ook jou welstand kan verbeter op maniere wat jy nooit sou kon raai nie. Hier is dus vier redes hoekom jou liggaam jou sal bedank wanneer jý dankie sê: 

1. ’N BETER NAGRUS

Volgens navorsing aan die Universiteit van Manchester in Brittanje kan ’n dankbaarder denkwyse jou slaapgehalte verbeter. Navorsers het bevind dat mense wat net voor slaaptyd gedink het aan al die dinge in hul lewe wat reg verloop, vinniger aan die slaap geraak het en meer uitgerus opgestaan het as dié wat net aan hul dag in die algemeen gedink het.

LEES: Hou só ’n dankbaarheidsdagboek 

2. ’N VIETSER FIGUUR

Prof. Robert Emmons, ’n Amerikaanse topnavorser oor dankbaarheid, het ontdek dat om jou seëninge te tel ’n onverwagse voordeel het: Dit kan jou motiveer om te oefen. In sy studie was ’n groep mense wat 10 weke lank ’n dankbaarheidsdagboek moes hou een en ’n half uur langer aktief per week as dié wat nie dagboek gehou het nie. Die rede hiervoor bly ’n raaisel, maar een teorie is dat ’n fokus op pluspunte help om stres en angstigheid te verminder, wat jou meer energie gee om te oefen.

3. MINDER PYNE EN SKETE

Volgens navorsing deur Emmons het mense wat elke twee weke ’n bladsy lange brief geskryf het om iemand te bedank wat ’n positiewe invloed op hul lewe het, ná slegs agt weke ’n verbetering in die simptome van depressie en fisieke pyne en skete gemerk, selfs al het hulle nie die brief gestuur nie. “Iets gebeur wanneer ons ons gevoelens neerpen,” sê hy. “Ons brein begin wesenlik verander. Onlangse neurobeeldingstudies dui op die moontlikheid van ’n dankbaarheidsgedrewe neuroplastisiteit.”

LEES: Die wetenskap van geluk

4. MINDER VERKOUES

Al hoe meer navorsing dui daarop dat gevoelens van dankbaarheid tot sielkundige veranderinge lei wat immuniteit en fisieke gesondheid verbeter. Volgens ’n Switserse studie maak dankbaarheid jou op twee maniere gesonder – dit verminder stres, wat jou immuunstelsel versterk, en dit motiveer jou om beter na jou gesondheid om te sien. “Dankbaarheid genees, versterk en verander lewens op talle maniere,” sê Emmons.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om by jou oefenroetine te hou

Sukkel jy om met ’n nuwe oefenroetine vol te hou? Volg hierdie wenke om oefening ’n belangrike deel van jou...

Close