×

4 realistiese Nuwejaarsvoornemens

Maak jou lys Nuwejaarsvoornemens meer realisties sodat jy in 2017 makliker daarby sal hou
Nuwejaarsvoornemens

 

Die gedagte aan “Nuwejaarsvoornemens” is genoeg om soms die mees optimistiese vrou haar oë te laat rol. Ons het vier realistiese Nuwejaarsvoornemens teëgekom waarby jy regtig sal kan hou.

  1. Nie alles gelyk nie
    Pleks van ’n lys van heldhaftige Nuwejaarvoornemens te maak (“Ek sal in 2017 suiker opgee” of “Ek sal spaar vir ’n oorsese reis”), breek dit in kleiner stappe op. Dis maklik om van die wa af te val of van jou voornemens te vergeet as die doelwit onbereikbaar lyk. Het jy besluit om heeltemal sonder suiker te bly en eet dan op 4 Januarie sjokolade ná aandete (ons doen dit almal!)? Beplan eerder om een of twee suikerryke happies op te gee wat vir jou moeilik is om van af te sien – begin deur minder suiker in jou koffie te drink, verruil jou melksjokolade vir hoëgehalte-donkersjokolade of vervang versoete gaskoeldrank deur gegeurde vonkelwater. Wil jy meer geld spaar? Kyk na jou huidige begroting en identifiseer waar jy te veel geld uitgee. Kontak jou bank of ’n finansiële beplanner oor opsies vir ’n beleggingspaarrekening en begin deur elke maand ’n klein bedrag weg te sit.
  2. Hou op soek vir onbereikbare inspirasie
    Hou op om jou eie lyf af te kraak! Moenie jou Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor takel deur foto’s van selebs as jou inspirasie te gebruik nie. Begin bewonder die regte vriende in jou lewe en begin om vir jou eie liggaam lief te wees.
  3. Plaas gesondheid bo gewig
    Ons het al almal besluit om ’n sekere aantal kilogram teen ’n sekere tyd af te skud (“Teen Februarie gaan ek 10 kg minder weeg, hou my dop!”), net om hoogs teleurgesteld te wees oor wat die skaal vir ons sê. Hou op om voornemens oor gewig te maak en maak dit eerder oor jou liggaam. Moenie vir jouself sê: “Ek wil gim toe gaan sodat ek in my jeans kan pas” nie. Sê eerder: “Ek wil oefening doen wat ek geniet om my gemoed, sirkulasie, bloeddruk en algehele gesondheid te verbeter.” Moet asseblief nie voor modieuse kitsdiëte swig nie!
  4. Vertroetel die verhoudings wat jy het pleks van vir “die een” te soek
    Of jy nou gelukkig getroud of in ’n verhouding is, of enkellopend en graag ’n maat wil hê, leef in die oomblik en begin waardeer die mense wat in jou lewe teenwoordig is. Bestee meer tyd om koffie-afsprake of prettige aktiwiteite saam met bestaande vriende te organiseer pleks van die ridder op die wit perd te soek.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om te oefen sonder om regtig te oefen!

Pas ’n bietjie oefening regdeur jou besige dag in

Close