×
Skakel na Engels

4 goed wat alle vroue oor 40 van hul hare moet weet

Raak wys oor jou hare! Deur Sophie Hines
vroue oor 40

Net oos ons vel verander ons hare soos ons ouer word – en nie net omdat dit grys word nie.

Ons het met Christel Lundqvist, die stigter en direkteur van STIL Salon in die bekende Nottinghill in Londen, gepraat om uit te vind wat elke vrou bo 40 van haar hare moet weet.

1. Daar is verskeie opsies wanneer dit by haarkleur kom

Baie mense neem aan hulle het twee keuses wanneer hul hare begin grys word: om hul nuwe haarkleur te aanvaar of om permanente kleursel te gebruik om dit te bedek.

Daar is ander kleurmetodes om te oorweeg, sê Christel.

“Die grootste kwessie vir my kliënte ouer as 40 is dat die grys hare uitgroei. Hulle voel dit is te ooglopend en lyk sleg,” sê Christel. “Oorweeg verskillende kleurtegnieke of produkte om dit minder ooglopend te maak,” sê sy.

“As jou hare byvoorbeeld met een kleur gekleur is, kan jy dit met delikate skakerings en ligter strepies opbreek sodat dit minder ooglopend is wanneer dit uitgroei.

“Jy kan ook demi-permanente haarkleursel kies (wat langer as semi-permanente kleursel hou). Dit bied nie volledige bedekking soos permanente kleur nie, maar dit sal al die grys hare bedek.

“Dit sal die natuurlike grys tone in die hare komplimenteer en ’n sagter voorkoms verleen sodat jy in die geheel ’n natuurliker voorkoms het.”

Lees: Die haarkleurstap wat jy nie moet oorslaan nie

2. Jou hare se tekstuur sal verander namate jy ouer word

“Haarstruktuur en -tekstuur verander soos jy ouer word. Jou hare is geneig om noodsaaklike vog te verloor en dit kan dit droog, bros en glansloos maak,” sê Christel.

Produkte soos haarolies en -maskers is fantasties om dehidrasie in hare te beveg – ons is dol oor Moroccanoil Treatment (R459) en Wella Professional SP Hydrate Mask (R369).

3. Daar is geen ouderdomsperk op lang hare nie

Die hertogin van Cambridge se onlangse haarsnit het tot bespiegeling gelei dat “meisieagtige” lang hare nie meer vir die 35-jarige Kate geskik is nie.

Christel ruim egter die mite uit die weg dat iemand ouer as 40 verspot of ouer met lang hare sal lyk. “Mode het deesdae geen ouderdomsperk nie, en jy sal nie noodwendig jonger lyk as jy jou hare sny nie,” sê Christel.

“Maar as jy jou hare kort wil sny om ’n modestelling te maak en bekommerd is dat jy te oud is, sal ek beslis sê jy moet daarvoor gaan in jou 40’s!”

Lees: Te lank of te kort

4. Dink weer oor jou haarsorg

Net soos jou hare verander soos jy ouer word, moet jou haarsorg verander.

As jy byvoorbeeld agterkom jou hare is dunner of val makliker plat – veral ná die menopouse – is daar volgens Christel ’n paar “fantastiese sjampoes en kopvelbehandelings wat bloedvloei stimuleer en dikte verleen”. Viviscal en The Cosmetic Republic is van die gewildste keuses.

“Roosmarynolie is ook fantasties vir hare wat yler word. Wend dit net op die kopvel aan en masseer dit in,” sê Christel.

Ander sal dalk vind dat hul hare in hul middeljare growwer voel of minder blink. Die regte nasorgprodukte is weer eens belangrik. “Jou hare kan steeds vars lyk op 40 en ouer as jy ’n goeie tuissorgroetine het,” sê Christel.

Van: goodhousekeeping.co.uk

Foto: iStock/laflor

LEES OOK:

Hoe om die veranderinge in jou hare ná 40 te hanteer

Jou 8 vrae oor grys hare beantwoord

Wetenskaplikes ontdek die geen vir grys hare

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om die verandering in jou hare ná 40 te hanteer

Sorg dat jou kroon sy glans behou

Close