×
Skakel na Engels

4 geldlesse wat dié vroue met ander vroue wil deel

Hierdie eenvoudige lesse sal ’n groot verskil maak
geldlesse

Wanneer dit by geldsake kom – soos met baie ander dinge in die lewe – is vroue nie soos mans nie. Ja, ons verdien minder (die salarisgaping tussen mans en vroue is steeds ’n skokkende werklikheid), ons leef langer en ons is steeds gewoonlik dié wat ons werk opoffer om na kinders en ouer geliefdes om te sien.

Maar die verskille is baie groter en subtieler as dít. Gee natuur, instink of al twee die skuld: Vroue ontvang en verwerk inligting oor geld op hul eie manier. Ons wil die groter prentjie sien voordat ons klein veranderinge aanbring. Ons wil al die opsies, of soveel as moontlik, oorweeg voordat ons ’n besluit neem.

En vroue wil by iemand tasbaars van geld leer. Sowat twee derdes van suksesvolle vroue wat sê dat hulle selfversekerde beleggers is (die meeste is nié, net sodat jy weet), is deur iemand anders touwys gemaak eerder as deur enige ander metode, volgens navorsing deur die Amerikaanse finansiëlediensteverskaffer Wells Fargo.

Ons voel op ons gemaklikste wanneer ons van en saam met ander vroue leer.

Les 1: Jy’s ’n rolmodel – tree op soos een

Wanneer dit by geldbestuur kom, kan jou dade ’n groter uitwerking as jou woorde hê. En hoewel jy nie jou salaris aan almal in jou kantoor (of vriendekring) hoef uit te blaker nie, is dit gaaf om dit af en toe met iemand te deel wat raad nodig het. Wanneer jy ’n voorbeeld vir ander vroue stel, veral dié wat jy probeer leer, is dit belangrik om eerlik te wees.

Die tydskrifredakteur Meredith Rollins sê voordat sy haar laaste werk verlaat het, het sy vir haar opvolger presies gesê hoeveel geld sy verdien het om dié vrou met haar eie salarisonderhandeling te help. Sy het dit gedoen omdat sy haarself voorheen onderverkoop het – sy het later uitgevind dat mense met meer junior poste meer as sy verdien het – en sy onthou hoe aaklig dit gevoel het.

Sy sê om haar raad te deel, het haar bemagtig laat voel. ‘Ek probeer om net so eerlik met my eie vrouepersoneel te wees en vertel hulle van die geldfoute wat ek vroeër begaan het (’n aftree-annuïteit wat ’n bedrogspul was, kredietkaartskuld) in die hoop dat hulle daaruit kan leer.’

Les 2: Slegte goed gebeur

As jy nog nie ’n noodfonds het nie, probeer om R10 000 bymekaar te maak. Sit dan al hoe meer weg en probeer om genoeg te spaar dat jy ses maande sonder ’n inkomste sal kan oorleef as net jy ’n salaris verdien, en drie maande as julle twee inkomstes het. Bemagtig jouself deur jou CV en LinkedIn-profiel gereeld by te werk.

Die oplossing is om te weet dat terugslae sal kom en om in jou loopbaan én geldelik daarvoor voor te berei. Dit laat jou ten minste vóél dat jy in beheer is. Dis byvoorbeeld hoekom Joanna Coles, die inhoudshoof van Hearst Magazines, lankal ’n “FU-fonds” het (en ja, dit beteken presies wat jy dink dit beteken).

‘Ek probeer altyd om genoeg geld daarin te hou dat as ek wou bedank omdat ek gevra is om iets te doen waarmee ek baie ongemaklik voel, ek vir ses maande sou kon oorleef,’ sê sy. ‘Dit laat jou baie selfversekerd voel. Dié geld koop vir jou ’n gevoel van beheer en vryheid.’

Lees: 5 fantastiese begroting-apps

Les 3: Dis ’n marathon, nie ’n naelloop nie 

As jy nie iets doen wat jou genoegdoening verskaf nie, gaan sit en beplan op papier wat jou meer bevrediging sal bied. Sit dan minstens 10 uur per week opsy om daaraan te werk. En as jy dink jy het nie 10 uur nie? Monitor ’n bietjie hoeveel tyd jy aan a) TV-kyk en b) sosiale media bestee. Daar ís tyd.

In ’n wêreld van werklikheid-TV kan dit soms voel of jy oornag sukses kan behaal. Trouens, Robin Koval, die medeskrywer van Grit to Great (Random House USA), sê: ‘Die samelewing skep hierdie verwagting dat as jy teen 25 nog nie sukses behaal het nie – as jy dus nie Mark Zuckerberg is nie – is jy ’n mislukking.’

Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Sukses verg volharding, dryfkrag en die vasberadenheid wat maak dat jy vir ’n lang tyd aan ’n doelwit getrou kan bly.

Les 4: Geldelike sukses gaan alles oor goeie gewoontes

Om vir die toekoms te belê is nie opsioneel nie. Wanneer jy begin om bydraes tot spaar- en beleggingsrekeninge te maak, sal jy waarskynlik aanvanklik onseker voel. Maar hou vol daarmee. Wag ’n paar maande en hou dan daardie rekeninge elke maand dop. Jy sal sien hoe jou geld groei en jou selfvertroue sal floreer.

Wanneer die markte laag is – en dit sal gebeur – moenie fokus op hoeveel geld jy het nie, maar op hoeveel aandele jy koop, want dis juis wanneer jy meer sal kan koop. Dit sal jou van krag tot krag help gaan.

Toe Gretchen Rubin, die skrywer van Better than Before (Broadway Books), eers die onderwerp van geluk begin bestudeer het, het sy ’n patroon opgemerk: ‘Wanneer mense ook al begin praat het oor ’n struikelblok wat hulle van geluk weerhou, het dit entlik oor ’n slegte gewoonte gegaan waarmee hulle sukkel,’ sê sy.

‘Iemand sou sê: “Ek is heeltyd moeg.” Dit gaan oor die gewoonte om genoeg slaap te kry. Of hulle sou sê: “Ek het gedurig te min geld en dit maak my angstig.” Dit gaan oor die gewoonte om by ’n begroting te hou.’ Rubin het gevolglik besef dat ons ons gewoontes kan gebruik om onsself gelukkiger, gesonder, produktiewer en ja, selfs ryker te maak.

FOTO: iStock/Melpomenem

LEES OOK:

5 wenke om geldsake in jou verhouding te bestuur

3 geldlesse om jou tieners te leer

5 wenke om dié maand geld te spaar

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 fantastiese begroting-apps

Bestuur jou geld slim met hierdie begroting-apps

Close