×
Skakel na Engels

4 eetvoorskrifte wat hartdokters volg

Neem hierdie reëls ter harte om een van jou belangrikste organe te beskerm
hartdokters

Wanneer ons aan ʼn gesonde dieet dink, kom gewigsbeheer gewoonlik by ons op. En hoewel ʼn gesonde gewig noodsaaklik vir ons algehele gesondheid is, moet ons ook daarop let om ons belangrikste organe, insluitend die hart, gesond te hou. Hartdokters beveel aan dat ons dié voedingswenke volg:

1. Kies jou proteïenbronne versigtig

Volgens studies aan die Harvard-universiteit is dit nie slegs die korrekte hoeveelheid proteïene nie, maar ook die bron van proteïen wat noodsaaklik is vir optimale hartgesondheid. Diervette soos rooivleis is geneig om versadigde vette te bevat wat tot verstopte slagare kan lei.

Hou eerder by maer vleis soos hoender of vis. Of kies plantaardige proteïene soos bone, lensies, sade en neute.

2. Vermy suiker

Suiker is die oorsaak van ʼn magdom gesondheidsprobleme – en hartgesondheid word ook deur hoë suikerinname geaffekteer. Suiker lei tot ʼn skerp styging in insulienvlakke, tot gewigstoename en veroorsaak ʼn inflammatoriese reaksie in die liggaam, alles faktore wat ʼn negatiewe uitwerking op hartgesondheid het.

ʼn Suikerryke dieet kan ook tot hoë bloeddruk lei en veroorsaak dat die lewer skadelike vette in die bloedstroom vrystel – wat weer die gevaar van hartsiektes verhoog.

Lees: 5 voordele van ’n suikervrye dieet

3. Sluit goeie vette by jou dieet in

Moenie van vette af wegskram eenvoudig omdat hulle digter in kilojoules as ander voedselgroepe is nie. Onversadigde vette ryk aan omega 3 is uitstekend vir hartgesondheid aangesien dit cholesterolvlakke verlaag en inflammasie in die liggaam beveg.

Hierdie fantastiese voedingsmiddel word in vetterige vis soos salm, tuna, forel, haring, makriel en sardiens aangetref. Al ruik daai blikkie vis dus dalk ʼn bietjie skerp in die kantoorkombuis, is ʼn sardientjietoebroodjie dalk net wat jou hart nodig het! 

Lees: Kan omega-3 jou kind met AGHS help?

4. Moenie van jou vesel vergeet nie 

Voeg oplosbare vesel soos hawermout by jou dieet. Oplosbare vesel verlaag cholesterol – dit neem dit op uit die spysverteringskanaal en voorkom dat dit in die bloedstroom opgeneem word. Vermy kits-hawermout en versoete graankosse – hou by outydse hawermout, gegeur met vrugte en ʼn knippie kaneel. Hoe’s dít vir ʼn heilsame winterontbyt?

Vrywaring: Hierdie artikel bevat slegs riglyne en dien nie as amptelike mediese advies nie. Raadpleeg jou dokter of dieetkundige vir verpersoonlikte riglyne oor jou eetgewoontes en hartgesondheid.

FOTO: iStock/laflor

LEES OOK:

Sjokolade verminder die risiko op hartkwale 

30 dae tot gesonder hartgewoontes 

Eet jou hart gesond

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Het jy ’n ongesonde verhouding met kos?

Dis dalk tyd om op te hou om die kilojoules te tel ...

Close