×
Skakel na Engels

4 dinge om nié vir iemand te sê wat skei nie

Wat presies kán jy doen om ’n vriendin te help wie se huwelik op die rotse is?
divorce

Die kans is goed dat jy iemand ken wat besig is om te skei. Dis maklik om blomme, tuisgemaakte maaltye of selfs wyn te neem, maar wanneer dit daarby kom om met jou vriend(in) te simpatiseer, is dit net so maklik om heeltemal die verkeerde ding te sê. Ons weet jou bedoelings is goed. Maak dus seker jou woordkeuse doen iets positiefs, eerder as om skade aan te rig:

 

1. “JULLE HET SO GELUKKIG GELYK! EK HET GEDINK DIS DIE VOLMAAKTE HUWELIK …”

Die waarheid is dat niémand ’n volmaakte huwelik het nie. Verhoudings is harde werk en mense steek dikwels die probleme in hul huwelik weg omdat dit hulle bang en skaam laat voel – veral as die probleme seksverwant is. Dié soort opmerking kan maak dat die persoon vir jou moet vertel hoe die huwelik verbrokkel het, wat baie pynlik kan wees.

PROBEER EERDER DIT:

Dit sal meer behulpsaam wees om jou vriendin vir koffie of ’n ete te nooi, of selfs jou gastekamer aan te bied. En nooi steeds vriende wat skei na groepsgeleenthede, want selfs al wys hulle dit van die hand, help dit hulle om te voel dat die res van hul lewe nog ongerep is.

 

2. “EK’S SO JAMMER!”

Dit is baie mense se eerste reaksie, maar hoewel dit simpatiek klink, kan dit vir iemand wat deur ’n egskeiding gaan soos bejammering voel. En vir ander, veral dié wat dit geïnisieer het, kan die einde van ’n huwelik ’n welkome verandering wees nadat hulle jare lank in ’n verbrokkelende verhouding was.

PROBEER EERDER DIT:

Sê iets soos: “Moenie voel dat jy daaroor móét praat nie, maar ek is hier vir jou as jy wil.” En as hulle praat, luister sonder om te oordeel en laat hulle toe om van hul hartseer te verwerk.

 

3. “TREK HOM KAAL UIT! VAT ELKE SENT!”

Hierdie soort “raad” is olie op die vuur vir gemene gedrag en kan dit op lang termyn moeiliker maak om aan te beweeg. Plus, as iemand op hul eksmaat probeer wraak neem, het dit ’n rimpeleffek, veral as hulle kinders het.

PROBEER EERDER DIT:

Gee jou vriendin kans om te praat oor wat tot dusver gebeur het. Probeer om meer te luister as te praat en ondersteun en help haar om haar verdriet en pyn te verwerk sonder om op die geldelike aspek te fokus.

 

4. “IS JY SEKER DIS GOED VIR DIE KINDERS?”

Om vir ’n ouer te sê dat sy ’n slegte besluit vir haar kinders neem, sal haar aaklig laat voel. Daar is ’n algemene aanname dat kinders nie ná ’n verandering soos ’n egskeiding kan herstel nie, maar dis nie noodwendig die geval nie.

PROBEER EERDER DIT:

Maak seker jou vriendin hoor hoe jy vir haar sê watter goeie ouer sy is en dat jy weet hoe lief sy haar kinders het. En bied dalk aan om na die kinders te kyk wanneer sy ’n blaaskans nodig het.

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 goed wat jy nooit na ’n troue moet dra nie

Vermy hierdie doodsondes wanneer jy ’n uitrusting vir ’n troue kies

Close