×
Skakel na Engels

4 dieetmites wat dokters wil hê jy moet ophou glo

Dis tyd om die leuens oor gesonde eetgewoontes te vergeet
dieetmites

Daar is ’n klomp onwaarhede rondom gesonde eetgewoontes, van die onnodige uitsnyding van gluten tot die keuse van laevetkosse. Dié wanvoorstellings kan nie net jou oordeel beïnvloed nie, maar selfs keer dat jy gesond leef.

Om dinge op te klaar het ons vier dokters gevra om die dieetmites te onthul wat hulle dink mense behoort te weet:

Mite #1: Beperkings lewer resultate

Die NHS-gewigsverliesdokter en stigter van Vavista Life dr. Sally Norton sê:

“Die grootste mite wat daar is, is dat laevet-, lae-koolhidraat- of enige ander kosbeperkingsdiëte ’n goeie opsie vir volhoubare gewigsverlies is – dis bloot nie waar nie. Ons liggaam is ontwerp vir ’n verskeidenheid vars, onverwerkte kosse en dit is die belangrikste ding om op te fokus. Daar is geen wonderkos, superdieet of wonderpil wat wonderbaarlik tot gewigsverlies sal lei nie. Dit gaan daaroor om volhoubare gesonder eetgewoontes te kweek en meer te beweeg.”

Mite #2: Vleis laat jou gewig aansit

Dr. Gil Jenkins, raadgewer vir die Health Supplements Information Service (HSIS), sê:

“Ek raak vies wanneer mense sê vleis is sleg vir jou, want ons is van nature omnivore. Wanneer jy vleis eet, hou dit vars en maer, eet ’n verskeidenheid, moenie die vleis in olie braai nie en moet dit nie skroei nie. Namate ons ouer raak, het ons proteïen nodig om ons spiere op te bou om te keer dat ons val en verwak raak. Maer vleis is ’n goeie, verteerbare bron van proteïen en yster, asook ander minerale.”

Mite #3: Jy moet groot veranderinge aanbring om resultate te sien

Dr. Ashton Harper, spesialis in die gebied van voeding en maagdermsiektes en Bio-Kult-kenner sê:

“Die beste dieet is een waar daar ’n daadwerklike en beheerbare gedragsverskuiwing is, soos om nie gemorskos te eet nie en om kleiner porsies te eet sonder om die verskeidenheid bestanddele te beperk.”

Mite #4: Wat vir een mens werk, sal vir ’n ander werk

Dr. Daniel Jones, direkteur van die vitamienaanvullingsmaatskappy Revive Active, sê:

“Mense moet skepties oor nuwe neigings in die dieetkosbedryf wees, tensy dit deur voldoende en goeie navorsing ondersteun word. Die belangrikste ding om te onthou is dat voeding nie vir almal dieselfde is nie. Elke individu is uniek, met ’n unieke fisiologie wat op sy eie manier op voedingstimulisse reageer. Beskou dit as ’n belegging in jou gesondheid, emosies en welstand en soek vir iets wat vir jou werk.”

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
’n Vars uitkyk op kos en wyn

’n Nuwe en verbeterde Good Food & Wine Show word in Kaapstad bekendgestel

Close