×
Skakel na Engels

4 briljante en bekostigbare afspraakidees

Jy weet ’n aandjie saam met jou maat doen jul verhouding goed. Só kan julle ’n asemrowende aand hê. Deur Allison Berry
date night

’n Romantiese aandjie uit hoef nie hope beplanning, tyd, moeite of selfs geld te verg nie. Kikker jou romantiese lewe en jou verhouding op met hierdie prettige aktiwiteite wat vinnig en maklik is om te reël:

 

1. GAAN WEER OP JUL EERSTE AFSPRAAK

Paartjies wat hul eerste afspraak met soveel detail as moontlik herleef, bring dieselfde liefderike (of vurige) gevoelens terug wat hulle aan die begin van hul verhouding ervaar het. “Om jou herinneringe te herleef voer jou emosies terug in tyd,” sê dr. Guy Winch, skrywer van Emotional First Aid (Plume). Pizza en bier het immers vantevore die ding gedoen, of hoe?

2. KIKKER DINGE TWEE-TWEE OP

As jy voel jul verhouding is besig om van gemaklik na gemaksugtig te beweeg, volg Deidre Guillory van die blog WifeMomSuperwoman se raad en gooi ’n paar moeitelose afspraakidees in ’n fles wanneer jy ook al aan iets dink. Indien julle skielik ’n paar ledige ure het, kies twee idees en gaan doen dit – moenie te veel dink nie! “Soms is ’n onbeplande aand van Chinese wegneemkos en ’n potjie minigholf net wat ’n huwelik kort,” sê sy.

3. MAAK DIT ’N DUBBEL

Die teenintuïtiefste ding wat julle as paartjie nodig het: nog mense. Nooi vriende saam op jul afspraak. Navorsers aan die Universiteit van Maryland in die VSA het bevind dat om vriendskappe met ander paartjies te behou jou verhouding met jou eie maat versterk en julle meer aangetrokke tot mekaar maak.

4. KYK EN LEER

’n Fliek en aandete is ’n fantastiese afspraak, veral as jy dit reg om doen. Elly Klein, skrywer van Men Are Like a Box of Chocolates (Messenger Group), sê om eers fliek te kyk en dan te eet maak dat julle meer opwindende onderwerpe as die kinders en rekeninge het om oor te gesels. Kenners meen boonop dat wanneer paartjies bespreek wat hulle van ’n fliek geniet of nié geniet het nie, verdiep dit hul verhouding. Al wat jy nou hoef te besluit, is of julle van romkoms of aksieflieks hou.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
9 tekens dat jy in ’n zombie-huwelik vasgevang is

En hoe om jou "slaapwandelende" huwelik te laat herleef indien dit wel die geval is

Close