×
Skakel na Engels

36 slim maniere om elektrisiteit te spaar

Só doen jy dit:

slim maniere om elektrisiteit te spaar

Verkoeling van kos

1. Moenie jou yskas oorlaai nie, want dit sal meer elektrisiteit verbruik – so veel as 10% tot 20% meer vir elke produk!

2. Laat warm kos eers afkoel voordat jy dit in die yskas sit. (Om die groei van bakterieë te voorkom laat dit eers vir sowat 20 minute staan.)

3. Verwyder alle swaar verpakkingsmateriaal van kos voordat jy dit in die yskas bêre.

4. Bedek alle vloeistowwe wat in die yskas gebêre word (veral as dit ’n ysvrye model is).

5. Plaas kos effens van mekaar weg op yskasrakke sodat die koel lug kan sirkuleer.

6. Moenie jou yskasdeur meer gereeld oopmaak as wat nodig is nie en moet dit veral nie vir ’n lang ruk ooplos nie. Probeer eerder om verskeie artikels op ’n keer uit te haal en terug te sit om te keer dat die koue lug ontsnap.

Vries

7. Moenie vriestemperature laer as nodig (18 °C) stel nie. Dit vermors net soveel elektrisiteit as oormatige hitte.

8. Kos wat gevries word, moet met dié dele van die vrieskas in kontak wees wat die buise met koelmiddel bevat. Dis gewoonlik aan die kante van kisvrieskaste. You vrieskas moet so vol as moontlik gehou word om te keer dat ys swaar aanpak.

9. Moenie toelaat dat ys opbou nie. Kisvrieskaste moet een of twee keer per jaar ontvries word en regop vrieskaste twee of drie keer per jaar.

Kosmaak

10. Maak seker potte en panne bedek die hele stoofplaat waarop jy kos maak.

11. Bring kos vinnig tot kookpunt op die hoë verstelling en draai dan die hitte laer sodat dit gaar kan prut.

12. Moenie die oond se rooster gebruik om brood te rooster nie – dit werk baie duur uit.

13. Hou die oond se deur toe totdat die kos gaar is. Elke keer wat jy die deur oopmaak, daal die oondtemperatuur en moet die hitte vervang word.

14. Laat vrye lugsirkulasie in die oond toe. Plaas oondpanne en -bakke só dat dit nie aan mekaar of aan die kante van die oond raak nie.

15. Ontvries jou kos in die yskas pleks van die mikrogolfoond; dis meer ekonomies.

16. Gebruik jou mikrogolfoond net om klein tot mediumhoeveelhede kos gaar te maak. Vir groter porsies vleis is dit beter om ’n konvensionele oond te gebruik.

17. Gebruik ’n elektriese ketel om water te kook, nie ’n kastrol of die mikrogolfoond nie.

18. Gebruik klein kombuistoebehore pleks van die stoof, want dit kan energie spaar. Roosters, elektriese roosterapparate en braaipanne, prutpotte, elektriese koffiepotte en bottelverwarmers het gewoonlik minder energie as die stoof nodig wanneer dit reg gebruik word.

Skottelgoed

19. Skakel jou skottelgoedwasser ná die finale afspoel en voor die droogmaaksiklus af. Laat die deur oopstaan en jou skottelgoed sal binne minute lugdroog wees.

20. Maak die skottelgoedwasser heeltemal vol voordat jy dit aanskakel. Gedeeltelike ladings vermors elektrisiteit en water.

21. Maak jou skottelgoedwasser se filter gereeld skoon. ’n Verstopte filter verminder doeltreffendheid en vermors energie.

Was, droog en stryk van klere

22. Kies ’n voorlaaiwasmasjien, wat minder water gebruik en minder kos om te laat werk as ’n bolaaier, selfs al kos dit meer wanneer jy die masjien koop.

23. Was klere sover moontlik in koue water. Tot 85% van die energie wat gebruik word wanneer klere in ’n masjien gewas word, word gebruik om die water te verhit.

24. Maak die pluisfilter van jou tuimeldroër skoon elke keer nadat jy dit gebruik het sodat die lug behoorlik kan vloei en klere doeltreffend kan droog maak.

25. Gebruik ’n tuimeldroër net as dit regtig moet. Hang klere op en laat dit sover moontlik lugdroog word.

26. ’n Yster verbruik soveel energie as tien 100 watt-gloeilampe. Stryk dus eers materiale wat by ’n lae temperatuur gestryk moet word sodat dit nie so lank hoef op te warm nie, en stryk groot bondels klere op ’n keer om te keer dat energie vermors word wanneer die yster verskeie kere moet warm word. En skakel die yster af wanneer jy onderbreek word terwyl jy stryk.

Stofsuig

27. Maak jou stofsuier se sak gereeld leeg of vervang dit sodat dit doeltreffend werk.

Verwarmers

28. Elektriese komberse verbruik min elektrisiteit wanneer dit reg gebruik word. Skakel dit op die hoogste verstelling aan en maak die bed warm net voordat jy inklim – en skakel dit dan af.

29. Maak deure en vensters toe wanneer jy ’n verwarmer gebruik.

Kragproppe

30. Skakel alle lamp- en kragpunte af – basies enige iets wat ’n elektriese stroom trek en nie gebruik word nie. Maak seker jou televisie, radio en stereospeler is afgeskakel wanneer niemand kyk of luister nie.

Ligte

31. Skakel ligte waar moontlik af.

32. Skakel oor na sonkrag

33. Vervang jou grootste energie-vreter-ligte ( soos buitenshuise spreiligte, kombuis- en woonvertrekligte) deur LED-ligte. Dit het ’n lae energieverbruik en lang lewensduur (20 000 uur of meer).

Isolering

34. Isolering van jou plafon help om jou huis geriefliker en energiedoeltreffend te maak. Tot soveel as 50% van hitteverlies in ’n huis kan aan ’n gebrek aan plafonne en plafon-isolering toegeskryf word, sê Roger Bulgin van Mr Power, ’n maatskappy wat energiebesparende en ondersteunende oplossings bied.

Verhitting van water

35. Die gebruik van jou geiser kan tot 60% van die algehele kragrekening uitmaak. Stel dus jou geiser se termostaat op 65° en installeer ’n geisertydmeter of geiserreguleerder (’n reguleerder spoor ’n stroom op in die vooraf ingestelde tydperiode; ’n tydmeter verhit en herverhit die geiser gedurig gedurende die vooraf ingestelde tydperiode.) ’n Geiserreguleerder van Mr Power wat volgens die maatskappy jou kragrekening met 20% tot 30% kan verminder, kos sowat R1 500, wat installering deur ’n elektrisiën insluit.

36. Vermy dit sover moontlik om die warmwaterkraan te gebruik. Was byvoorbeeld jou hande in koue water.

FOTO: iStock/spyderskidoo

LEES OOK:

10 elektrisiteitsbesparende wasgoedwenke

5 vlekverwyderaars wat elke huishouding moet hê

5 wenke om ’n huurhuis te versier

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief