×
Skakel na Engels

3 maniere om jou Facebook-rekening te beveilig

Sekuriteit is belangrik! Ons verduidelik jou stap vir stap. Deur Carrie-Ann Skinner
facebook

Facebook het onlangs al wat ’n voorblad is gehaal nadat dit aan die lig gekom het dat Cambridge Analytica, ’n Britse politieke konsultasiemaatskappy, 51 miljoen Facebook-gebruikers se persoonlike data sonder hulle toestemming gebruik het om hulle gedurende die aanloop tot die Amerikaanse verkiesing met politieke advertensies te teiken. Die ergste van alles is dat Facebook bewus was daarvan, maar nagelaat het om gebruikers te waarsku oor wat aan die gang was.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Mark Zuckerberg, die hoof van Facebook, het nou beloof om dié sosiale netwerk veiliger te maak deur strenger beperkings op die data te plaas waartoe app-ontwikkelaars toegang het, sowel as ’n funksie waarop prominent aangetoon sal word watter apps toegang tot jou inligting het. Intussen is daar ’n paar stappe wat jy kan doen om jou Facebook-profiel veiliger te maak en jou persoonlike data te beveilig.

1. App-vergunnings

Telkens wanneer jy op ’n app aanteken of jou Facebook-aantekenbesonderhede gebruik, gee jy daardie app toegang tot jou data – van jou e-posadres en geboortedatum tot toestemming om namens jou plasings op jou Facebook-profiel aan te bring. Die strekking van daardie vergunnings hang van die app af, maar ons raai aan dat jy hierdie lys apps gereeld nagaan en alles verwyder wat jy nie herken of dikwels gebruik nie.

Dit kan slegs op ’n rekenaar gedoen word, nie vanaf die Facebook-app nie. Maak jou Facebook oop en gebruik die aftrekpyltjie regs bo om “Settings” te selekteer. Kliek op “Apps” aan die linkerkant van die skerm vir ’n lys van al die apps wat toegang tot jou data het. Indien jy ’n sekere app nie herken nie of nie meer gebruik nie, kliek op die X regs van die app-ikoon om toestemming te kanselleer (of tiek die boksie lanks die betrokke app en kliek dan op “Remove” regs bo). Kliek op die potlood-ikoon om jou verstellings te redigeer indien jy dit wel soms gebruik.

Rol nou af tot by die afdeling gemerk “Apps Others Use” en kliek daarop. Apps waarop jou vriende via Facebook aanmeld, het potensieel toegang tot almal op hulle vriendelys (insluitend jou), afhangende van die soort vergunnings wat hulle verleen het. Enige app wat jou op ’n vriendelys kan sien, het toegang tot enige data wat met ’n blou regmerkie in hierdie afdeling gemerk is, al gebruik jy die app nie self nie. Ons beveel aan dat jy alles kanselleer en op “Save” kliek om te verseker dat niemand sonder jou medewete toegang tot jou inligting het nie. (Indien hierdie “Apps Others Use”-afdeling nie meer beskikbaar is nie, kan jy bloot na die apps onder die hofie “Logged in with Facebook” gaan, op die potlood-ikoon kliek en jou veranderings hiér aanbring.)

WENK:

Let daarop dat wanneer jy die app verwyder, dit nie outomaties die inligting uitvee waaroor hulle reeds beskik nie. Daarvoor het jy die ontwikkelaar se hulp nodig. Besoek hulle webwerf en stuur ’n e-pos. Indien jy jou gebruiker-ID nodig het, kan jy die apps in bogenoemde afdeling oopmaak waarop jy aangemeld is en op die potlood-ikoon kliek. Rol af tot by die opskrif “Get Help From The App Developers”.

2. Deaktiveer geteikende bemarking

Facebook gebruik nie net data wat jy (oor byvoorbeeld jou ligging of ouderdom) verskaf om advertensies op jou profiel te verpersoonlik nie; dit gebruik ook jou aktiwiteite op dié sosiale netwerk, soos die Facebook-bladsye wat jy “like” of die skakels wat jy oopmaak. Jy kan die “Advert Preferences”-beheerpaneel (of bloot “Ads”) gebruik om spesifieke adverteerders, belangstellings en persoonlike inligting soos “Education”, “Relationship Status” of “Employer” te wysig wat gebruik word om jou met advertensies te teiken.

3. Twee-stap-aanmelding

Aktiveer “Login Approvals” om te verseker dat niemand sonder jou medewete toegang tot jou rekening kan verkry nie. Wanneer jy deur jou rekenaar of ’n ander toestel op Facebook wil aanmeld, sal daar ’n kode na jou selfoon toe gestuur word wat jy op die spesifieke toestel moet insleutel voordat jy jou rekening kan oopmaak.

As jy Facebook op ’n rekenaar oopmaak, kliek op die aftreklys regs bo en selekteer “Settings”, gevolg deur “Security and Login.” As jy die Facebook-app gebruik, kan jy “Settings” op die kieslys selekteer. Kliek dan op “Account Settings” gevolg deur “Security and Login”.

Kliek op die afdeling gemerk “Two-factor Authentication” en selekteer die eerste venstertjie. Jy sal versoek word om jou wagwoord te verskaf. Nadat jy dit ingesleutel het, moet jy seker maak dat die selfoonnommer wat gelys is, wel joune is en dan op “Continue” kliek. Jy sal ’n teksboodskap met ’n sessyferkode ontvang wat jy moet insleutel om die proses te voltooi.

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/coffeekai 

LEES OOK:

10 Facebook-etiketreëls wat jy altyd moet nakom

Is tronkstraf ons voorland vir Facebook-foto’s van ons kinders?

Sien jou Facebook-nuustoevoer soos jy daarvan hou

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 apps wat elke werkende vrou móét hê

Bly op hoogte van werksverpligtinge, deel doenlysies en kry selfs tyd vir oefen terwyl jy by die werk is

Close