×
Skakel na Engels

3 maniere om ekstra geld met jou huis te verdien

Deborah Herd vertel hoe jy jou huis in 2017 vir jou kan laat werk
huis

 Die meeste van ons koop ons huise met die hoop dat ons eendag die verband sal kan afbetaal en huurvry kan leef. Namate die jare verbygaan, kan ons eiendomme soos bodemlose geldputte voel – eindelose uitgawes sonder enige wins op wat die grootste belegging is wat die meeste van ons ooit sal maak.

Met lewenskoste wat al hoe duurder raak, is dit maklik om te verstaan hoekom party van ons dit oorweeg om geld te maak uit ’n bate wat, hoewel dit gewoonlik in waarde toeneem, duur en illikied is. Vorige generasies het Tupperware-partytjies gehou en loseerders ingeneem, maar ons het gaan kyk na kreatiewer maniere om die boeke te laat klop. 

1. BEGIN ’N KLAS

Om klasse – soos joga, pilates of kuns – in jou huis aan te bied raak ’n al hoe gewilder manier om letterlik geld in jou huis in te bring. Debbie Solomon het 17 jaar in die geleentheidsbestuurbedryf gewerk voordat sy op 48 haar passie gevolg het om as ’n sjef opgelei te word.

Nadat sy gekwalifiseer het, het sy ’n ateljeekombuis in haar huis in Westville, Durban, laat bou waar sy nou kooklesse aanbied (cookingcooks.co.za). Daar is soveel voordele daaraan verbonde om ’n ateljee in jou huis te hê, sê sy. “Ek staan op, stap in die ateljee in en begin dadelik werk.” 

Debbie sê die ateljee het haar eiendom se waarde verhoog, wat die boukoste daarvan vergoed.

LEES: 4 wenke wat jou in 2017 ryk(er) sal maak 

2. WORD ’N AIRBNB-GASHEER

Helen* het twee jaar gelede ’n Airbnb-gasheer (www.airbnb.com) geword toe sy ’n kamer in haar huis in Observatory, Kaapstad, begin uithuur het. Dit was so suksesvol dat sy later ’n tweeslaapkamersolder uitsluitlik vir Airbnb-gaste laat aanbou het. Die nuwe kamers het haar huis se waarde verhoog en Helen voorsien dat die inkomste haar in staat gaan stel om die boukoste binne vyf jaar af te betaal.

Gaste betaal die volle bedrag aan Airbnb wanneer hulle die bespreking doen; gashere betaal ’n klein dienskoste aan Airbnb. Airbnb hou die volledige bedrag en betaal die geld in die gasheer se rekening in wanneer die gaste opdaag. “Dit word geweldig goed bestuur en elk liewe gas was nog doodollies,” sê Helen.

LEES: 4 maniere om die rente op jou huislening te verminder

3. VERHUUR JOU HUIS VIR FILMS OF FOTO’S

Met sommige huise is die feit dat dit mooi lyk genoeg om geld daaruit te kan maak. As jy ’n huis van stergehalte of een met ’n klassieke voorkoms het, kan jy geld maak deur dit vir film- of fotosessies te verhuur. Films – van advertensies tot rolprente – is die winsgewendste, maar fotosessies vir tydskrifte, katalogusse en handelaars kan jou eiendom van ’n gereelde inkomste voorsien. Plaaslike sessies bied nie dieselfde tariewe as internasionale sessies nie, maar dit wissel van R1 500 tot R4 000 per dag.

Volgens Romy Anderson, die besturende direkteur van Location Gallery in Kaapstad (www.locationgallery.co.za), is natuurlike lig en genoeg werkruimte vir die fotograaf en span die belangrikste eienskappe in ’n eiendom. 

Die enigste nadeel is dat jy jou huis vir die dag moet verlaat. Huiseienaars moet ook inskiklik wees, want die meeste sessies word eers die dag vooraf bevestig en kan in oortyd ingaan.

 

*Van is weerhou

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Raak verlief op jou werk!

Hoe om die werk te geniet wat jy reeds het.

Close