×
Skakel na Engels

3 heerlike Banting-nageregte

Ons deel ’n paar van ons gunsteling-nageregresepte van die blog Jeanette’s Low Carb Eats. Jeanette is die skepper van die gewilde Banting-vetkoekresep!

1. Individuele ongebakte lemmetjiekaaskoekte met ’n krummelkors 

banting desserts1cheesecake

Genoeg vir 6 tot 8, na gelang van die grootte van jou houers.

KRUMMELKORS:

Maak die krummelkors en druk dit in die bodem van klein ramekins of glase vas.

KAASKOEKBESTANDDELE:

1½ t gelatien

5 t koue water

500 g (2 bakkies) roomkaas by kamertemperatuur

9 e (135 ml) lemmetjiesap

250 ml room, plus ekstra vir bo-op, indien verkies

10 tot 12 e (150 tot 180 ml) fyn xilitol. Proe vir die regte balans tussen suur en soet. Gebruik ’n koffiemeul om die xilitol fyn te maak.

2 t fyngerasperde lemmetjieskil en ekstra vir versiering

METODE:

Meng die gelatien met die koue water en laat dit sponserig raak. Plaas die roomkaas en 150 ml xilitol in die bak van ’n elektriese menger. Klop om te meng. Voeg die lemmetjiesap by en klits. Klits die room in ’n afsonderlike bak totdat dit begin styf raak. Verhit die gelatien in die mikrogolfoond vir ’n paar sekondes totdat dit opgelos het. Laat afkoel en voeg dit by die room. Hou aan klits totdat stywe punte vorm. Voeg die room by die roomkaasmengsel. Toets nou vir die regte balans tussen soet en suur. Voeg die res van die xilitol by indien nodig. Ek het die hele hoeveelheid – 180 ml – gebruik. Voeg die lemmetjieskil by en roer deur. Maak met die agterkant van ’n lepel glad en rasper ’n bietjie lemmetjieskil bo-oor. Versier met ekstra geklitste room as jy wil.

2. Malvapoeding

banting desserts2malva

Genoeg vir 6 tot 8

Bak in ’n diep Pyrexbak of individuele ramekins.

BESTANDDELE:

1 ekstragroot eier

⅓ k fyn xilitol – gebruik ’n koffiemeul om die tekstuur van strooisuiker te verkry en meet dan  ⅓ k af

2 e (30 ml) botter, saggemaak

1 e (15 ml) suikervrye appelkooskonfyt

1 t koeksoda

125 ml (½ k) melk

1 k amandelmeel

’n knippie sout

½ t xanthaangom

1 e witasyn

OPSIONEEL: Voeg die gerasperde skil van ’n lemoen by die deeg.

SOUS:

¾ k (185 ml) room

¼ k water (60 ml)

125 g botter

¼ k xilitol

5 ml vanielje

METODE:

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die bak of ramekins. Verroom die eier en xilitol saam. Voeg die saggemaakte botter by en hou aan klits. Voeg die appelkooskonfyt by en meng. Los die koeksoda in die melk op. Voeg die droë bestanddele (afsonderlik) om die beurt met die melkmengsel by. Roer laastens die asyn by. Bak vir 30 tot 45 minute. Bedek die poeding ná 20 minute losweg met foelie om te keer dat dit te donker word. Die groot bak sal langer neem as die ramekins. Verwyder uit die oond en steek gaatjies met ’n tandestokkie in die poeding.

SOUS: Verhit al die sousbestanddele (behalwe die vanielje) saam tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat vir twee minute prut. Voeg die vanielje by. Giet die sous oor die warm poeding sodra jy dit uit die oond haal. Sit voor met tuisgemaakte vla. (Kliek hier vir Jeanette se crème anglaise-resep.)

OPSIONEEL: Vervang ½ van die room deur lemoensap en voeg die gerasperde skil van ’n lemoen by die poeding vir ’n ander geur.

3. Bosbessie-en-lemoen-pondkoek

banting desserts3cranberry

As jy nie van ’n tradisionele Kerskoek hou nie, is hierdie ’n heerlike alternatief!

BESTANDDELE:

4 e (57 g) saggemaakte botter

¾ k xilitol (Jeanette het gelyke hoeveelhede eritritol en xilitol gebruik.)

100 g saggemaakte roomkaas

4 eiers

fyngerasperde skil van een lemoen

½ t lemoenekstrak

1¼ k amandelmeel

1 t bakpoeier

’n knippie sout

1 k bevrore bosbessies wat oornag in die yskas ontvries is; dreineer enige vloeistof

METODE:

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n klein broodpan en voer dit met bakpapier uit.

Verroom die botter en versoeter saam. Voeg die saggemaakte roomkaas by en klits om te meng. Voeg die eiers een-een by en klits goed ná elke byvoeging. Voeg die lemoenskil en -ekstrak by en meng. Voeg die droë bestanddele by en klits om te meng. Plaas ’n derde van die deeg in die pan, gevolg deur ’n derde van die bosbessies. Herhaal die lae en eindig met die bosbessies. Druk dit halfpad in die deeg in.

Plaas die pan in die oond en bak vir 35 minute. Bedek die koek liggies met foelie om te keer dat dit te donker word. Bak vir nog 10 tot 20 minute. Omdat oonde verskil, is dit belangrik om dit koek ná altesaam 45 minute te toets. Haal dit uit die oond wanneer ’n toetspen skoon uitkom.

VERSIERSEL:

125 g saggemaakte roomkaas

250 g kloproom

5 ml vanielje

2 tot 3 e fyn xilitol of eritritol (Gebruik ’n koffiemeul om dit fyn te maak.)

vars kersies of granaatpitte

Klits die roomkaas om klonte te verwyder. Voeg die room, vanielje en xilitol of eritritol by en klits met ’n ballonklitser-hegstuk tot ferm. Versier die koek met vars kersies of granaatpitte. Jeanette het eetbare blinkertjies en gedroogde bosbessies gebruik. Klapperskaafsels is ook lekker.

Foto’s en resepte van die blog Jeanette’s Low Carb Eats.

Besoek Jeanette’s Low Carb Eats vir nog fantastiese banting-vriendelike resepte.

LEES OOK:

Raak besig in die kombuis met hierdie Banting-boeke

5 Banting-vriendelike etes vir weeksaande

Die vyf algemeenste foute wat mense met Banting maak

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
5 hipermaklike soethappies op Instagram

Ons het nie tyd om deur ingewikkelde resepte en hope bestanddele te sif om soethappies te maak nie. Daarom hou...

Close