×

3 fantastiese feestelike resepte met bier

Maak ’n koue bier oop en begin kook! Probeer sjef Peter Ayub se partytjieresepte met bier

 

Het jy al ooit met bier kos gemaak? Indien nie, probeer dit hierdie somer wanneer vriende en familie yskoue plaaslike bier drink. “Daar is geen reëls wanneer kom by kosmaak met bier nie,” sê die sjef Peter Ayub van die Sense of Taste Catering Company. “Geniet dit net. Of jy nou roostergeregte, bredies of marinades maak, bier voeg ’n heerlike aardse, ryk geur by kos. Moenie bang wees om daarmee te eksperimenteer nie.”

Sjef Pete is ’n kenner op die gebied van onthaal en het al vir sterre soos Beyoncé en Jay-Z en Kim en Khloé Kardashian kos gemaak, en was geëerd om die gunstelingmaaltyd (beesstert) van wyle president Nelson Mandela te maak by die opening van die Nelson Mandela Gateway by die V&A Waterfront.

Met die feestyd in gedagte het hy drie resepte geskep met Windhoek-bier as die X-faktor-bestanddeel: ’n swartmosselpot en hoenderborsies met koeskoes, albei met Windhoek Draught gemaak, en ’n gourmet-Bratwurst-worsbroodjie wat met Windhoek Lager gemaak is. Knak ’n bier en geniet dit!

 

1. Windhoek Draught-swartmosselpot met bros Portugese rolletjies en botter (voorgereg)

Genoeg vir 6 tot 8

 

windhoek-draught-black-mussel-pot

Bestanddele

  • 100 g gesoute botter
  • ¼ k plaaslike olyfolie van goeie gehalte
  • 1 middelslag-rooi-ui, gekap
  • 1 bossie sprietuie, fyngekap
  • 1½ e vars tiemie
  • 1 blikkie Windhoek Draught
  • 1 e bruinsuiker
  • ½ t gedroogde rissievlokkies
  • sout en peper, om te geur
  • 3 kg vars swartmossels, skoongemaak
  • ½ k fyngekapte pietersielie, vir garnering
  • bros Portugese rolletjies, met botter gesmeer

Metode

  1. Smelt die botter saam met die olyfolie in ’n groot pot en soteer die rooi-ui, sprietuie en tiemie daarin.
  2. Voeg die helfte van die Windhoek Draught, die suiker, rissievlokkies, sout en peper by.
  3. Laat prut vir sowat 5 minute.
  4. Voeg die mossels by die pot en voeg die ander helfte van die Windhoek Draught by.
  5. Sit die deksel op die pot en laat prut totdat die mossels oopgaan.
  6. Gooi enige mossels weg wat nie oopgegaan het nie of wat minder as ’n kwart oop is.
  7. Sit die mossels in ’n groot bak/skottel voor en giet die kookvloeistof bo-oor.
  8. Die bros gebotterde Portugese rolletjies is noodsaaklik om al daardie heerlike mossel-en-biervloeistof mee op te vee.

Sjef se wenk: Hoe om vars swartmossels skoon te maak

  • Skrop die skulpe met ’n harde naelborseltjie onder lopende water.
  • Plaas die mossels in ’n emmer gesoute water – dit hou hulle vir verskeie ure lewend.
  • Terwyl die mossels in die gesoute water is, sal dit enige sand of vuiligheid uitwerp.
  • Plaas die mossels in ’n groot vergiettes en was dit goed onder lopende water.
  • Gebruik ’n skerp mes om enige knoppies en seegras af te skraap.
  • Baie belangrik: Enige mossels wat beskadig of gebreek is of nie oopmaak nie, moet dadelik weggegooi word.
  • Verwyder laastens die baard – trek dit af soos jy iets sou ooprits. Soms klou die baard vas. Wanneer dit gebeur, los dit tot nadat jy die mossels gaargemaak het. Jy sal dit dan maklik kan aftrek.

Nota:

Swartmossels kan vars of bevrore by die meeste plaaslike supermarkte en vishandelaars gekoop word, asook by spesialis-deli’s.

2. Windhoek Draught-feestydhoender

Genoeg vir 4

“Die geursensasies en mooi kleure in hierdie gereg maak dit absoluut perfek vir ’n feestafel,” sê sjef Pete.

windhoek-draught-chicken-breast-with-ricotta-cheese-sage-cranberries

Vir die hoender

  • 1 k ricottakaas, goed gedreineer
  • 1 e fyngekapte salie
  • ¼ k fyngerasperde parmesaankaas
  • ¼ k gedroogde bosbessies, fyngekap
  • 1½ t gerasperde suurlemoenskil
  • sout en peper, om te geur
  • 4 borsies van vryloophoenders
  • 8 repies strepiespek
  • 1 blikkie Windhoek Draught
  • 1½ e bruinsuiker
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • ¼ k gedroogde bosbessies, grofgekap
  • ¼ k vars room
  • ’n klont botter
  • goeie gehalte plaaslike olyfolie om die hoenderborsies mee te verf terwyl dit bak
  • 1 t mielieblom, in water opgelos

Vir die koeskoes

  • 1 k koeskoes
  • 1 k warm hoenderaftreksel
  • sout en peper, om te geur
  • ½ rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 1 k koljander, fyngekap

Metode

Vir die hoenderborsies en sous

  1. Meng die ricottakaas, salie, parmesaankaas, fyngekapte bosbessies en suurlemoenskil goed en geur met sout en peper. Hou eenkant.
  2. Gebruik ’n skerp mes om ’n sakkie binne-in elke hoenderborsie te sny. Geur elke borsie met sout en peper.
  3. Vul elke borsie met die ricottamengsel.
  4. Draai elke borsie met twee repies spek toe en steek dit versigtig met tandestokkies vas sodat die vulsel in die hoenderborsies bly en die spek stewig om die borsies gedraai is.
  5. Giet die Windhoek Draught in ’n diep pan en verhit dit. Voeg die suiker by en laat oplos.
  6. Posjeer die hoenderborsies liggies in die vloeistof vir sowat 5 minute.
  7. Skep die hoenderborsies uit en hou eenkant.
  8. Plaas die hoenderborsies op ’n bakplaat wat met olyfolie gesmeer is.
  9. Verf die hoenderborsies met ’n bietjie olie en bak in die oond by 200 ºC vir sowat 15 tot 20 minute totdat die spek bros en goudbruin is.
  10. Voeg nou die fyngedrukte knoffel en grofgekapte bosbessies by die biervloeistof.
  11. Laat prut en afkook en voeg dan die room en botter by.
  12. Geur met sout en peper.
  13. Voeg die opgeloste mielieblom by die vloeistof om die sous te verdik.
  14. Plaas die deksel op om die sous warm te hou en plaas eenkant.

Vir die koeskoes

  1. Plaas die koppie koeskoes in ’n diep, reghoekige bak.
  2. Giet die warm hoenderaftreksel oor.
  3. Bedek die bak met kleefplastiek en laat dit vir sowat 8 minute stoom totdat die koeskoes gaar is.
  4. Gebruik ’n vurk om die koeskoes los te maak en geur met sout en peper.
  5. Voeg die rooi soetrissie en koljander by en meng.
  6. Verhit dit vinnig in die mikrogolf voordat jy dit voorsit.

Nota:

Om voor te sit: Skep die koeskoes in ’n vlak bakkie, plaas die hoenderborsie bo-op en giet die sous bo-oor.

Sjef se wenk: Onthou om sagkens te werk te gaan wanneer jy die tandestokkies verwyder.

 

3. Windhoek Lager-gourmet-worsbroodjies met bratwurst en sauerkraut

Genoeg vir 6 tot 8

 windhoek-lager-gourmet-bratwurst-hotdog

Bestanddele

  • 2 e fyngekapte seldery
  • ½ t karwysade
  • 2 t Oryx- gerookte sout
  • 2 t mosterdpoeier
  • 1 t uiepoeier
  • 3 e goeie gehalte olyfolie vir pasta
  • 1 e bruinsuiker
  • 6 tot 8 stukke bratwurst
  • 1 bottel Windhoek Lager
  • 2 x 400 g-blikke sauerkraut
  • 1 t mielieblom, in water opgelos
  • 2 e kanola-olie, om die bratwurst in te braai
  • 2 bros Franse brode (langes) – kry 4 stukke uit elke brood
  • ’n skeut Duitse mosterd vir elke worsbroodjie as garnering
  • 2 hande vol gekapte vars pietersielie, vir garnering

Metode

  1. Druk die seldery, karwysade, gerookte sout, mosterdpoeier, uiepoeier, olyfolie en suiker in ’n vysel en stamper fyn totdat jy ’n pasta het.
  2. Plaas die pasta in ’n groot pan oor matige hitte.
  3. Braai die bratwurst in die pan in die pasta vir sowat 3 minute en voeg dan die Windhoek Lager by.
  4. Laat prut vir sowat 12 minute en skep dan die bratwurst uit en hou eenkant.
  5. Laat die vloeistof prut en voeg die sauerkraut by.
  6. Laat die vloeistof vir sowat 10 minute afkook.
  7. Voeg die opgeloste mielieblom by die sauerkraut en sous om dit te verdik.
  8. Verhit nog ’n pan oor hoë hitte en blitsbraai die bratwurst in die kanola-olie tot verbruin.
  9. Sny die Franse brood in stukke. Plaas elke stuk bratwurst op elke stuk brood, voeg ’n ruim skep sauerkraut en sous by en dan ’n skeut van die Duitse mosterd en sprinkel laastens van die vars pietersielie oor.

Lees ook:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
7 maklike aandete-idees vir die week

Aandete in ’n japtrap!

Close