×
Skakel na Engels

20 motorterme wat jy moet ken

Kennis is mag! Deur Caira-Lee Durand
motorterme

Hier is 20 van die algemeenste motorterme om jou motorwoordeskat op te skerp:

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. ABS (sluitweerremstelsel)

Wanneer daar skerp gerem word, voorkom ABS dat jou motor se wiele sluit en die motor gly. Dit verseker dat die bestuurder die motor steeds kan beheer en stuur. Voor die koms van ABS moes die bestuurder die rempedaal pomp om dieselfde effek te verkry.

2. ACC (aktiewe kruisspoedreëling)

Ons almal weet wat kruisspoedreëlaars (cruise controls) is en hoe dit werk; jy stel jou snelheid in en dit word deur die stelsel gehandhaaf. Indien jy egter stadigbewegende verkeer teëkom, moet jy rem om die spoedreëlaar te deaktiveer. ACC maak van ’n radar voor aan die motor gebruik om stadige voertuie te bespeur en ’n ooreenstemmende snelheid te handhaaf.

3. ATC (aktiewe traksiebeheer)

Dit speel ’n rol in veld- of 4×4-toestande en verminder krag na die tollende wiel. Terselfdertyd word die wringkrag na die wiel of wiele gekanaliseer wat wel traksie het om seker te maak dat die voertuig bly beweeg.

4. AWD (allewielaangedrewe)

Dit verwys basies na voertuie met permanente vierwielaandrywing. Kortliks beteken dit dat die krag gelyktydig aan al vier wiele gestuur word in plaas van nét die voor- of agterwiele.

5. BAS (remhulpstelsel)

Hierdie stelsel, wat ook as noodremhulp (EBA) bekend staan, verhoog remdruk in noodtoestande. Dit interpreteer die snelheid waarteen die voertuig beweeg en die krag waarmee die rempedaal getrap word om vas te stel of die bestuurder ’n noodstop probeer uitvoer. Indien die stelsel bespeur dat daar nie voldoende gerem word nie, word die nodige remkrag vrygestel om die motor tot stilstand te bring.

6. CVT (palwisseltransmissie) 

CVT is basies outomatiese transmissie en kan – deur van ’n band en kegel-uitleg aan die binnekant van die outomatiese ratkas gebruik te maak – bestuurverhoudings afwissel. Anders as by ’n tradisionele outomatiese ratkas met ’n spesifieke hoeveelheid ratte, bied CVT dus ’n onbepaalde hoeveelheid ratverhoudings.

7. DAC (afdraandebeheer)

By veldvoertuie voorkom hierdie stelsel dat voertuie teen styl of gladde skuinstes afgly. Dit word geaktiveer deur van die voertuig se ABS en versnellerbeheerstelsel gebruik te maak.

8. DSG (dubbelkoppelaarratkas)

DSG verwys na ’n rekenaarbeheerde handratkas, maar sonder die gewone koppelaarpedaal. Dit bied bestuurders volle outomatiese of semi-outomatiese beheer oor die ratte en aangesien die rekenaar die volgende rat vooraf selekteer, word daar seepglad van rat verwissel.

9. EBD (elektroniese remkragverspreiding)

EBD, ’n substelsel van ABS, beheer die hoeveelheid remkrag wat na elk van die motor se vier wiele gestuur word. Die stelsel, wat faktore soos padtoestande, snelheid en voertuiggewig in ag neem, sal minder of meer remkrag na elke individuele wiel lewer om te verseker dat optimale traksie en beheer gehandhaaf word.

10. ECU (elektroniese beheereenheid)

Dit is die elektroniese brein van jou voertuig en beheer stelsels soos enjinbeheer, die ratkas en elektriese stelsels.

Lees: 8 slegte bestuurgewoontes – en waarom dit so gevaarlik is

11. EDC (elektroniese demperbeheer)

EDC, ʼn stelsel wat deur die voertuig se ECU beheer word, maak aanpassings aan die skokbrekers volgens die pad- en bestuurstoestande. Deur die dempkrag te beheer wat op elke skokbreker uitgeoefen word, verseker dit ʼn gladde en minder stamperige rit.

12. ELR (rukstopgordel)

Daardie rukbeweging van die sitplekgordel wat jy voel wanneer jy skielik skerp rem? Dis die ELR in aksie.

13. ESP (elektroniese stabiliteitsprogram)

Dié program, ook bekend as die DSC of ESC, beheer voertuigstabiliteit in situasies van oorstuur of stuurtraagheid. Oorstuur kom voor wanneer jy om ’n hoek ry en die neus te skerp draai sodat die agterkant van die motor uitwaarts beweeg. Stuurtraagheid, aan die ander kant, is presies die teenoorgestelde; die neus van die voertuig draai nie skerp genoeg nie.

14. FWD (voorwielaangedrewe)

Die meeste motors is vandag FWD. Dit beteken dat die enjin se krag slegs deur die voorste wiele van die voertuig gelewer word.

15. HAC (opdraandewegtrekhulp)

Wanneer daar teen ’n skuinste weggetrek word, voorkom die HAC dat die voertuig agteruit beweeg deur die remme vir ’n breukdeel van ’n sekonde te “hou” terwyl jy die versnellerpedaal intrap.

16. PAS (kragstuurhulp)

Hierdie stelsel, algemeen bekend as kragstuur, verminder die inspanning waarmee jy jou stuurwiel moet hanteer. Dit kan hidroulies, elektronies of ’n kombinasie van die twee wees, en dit is veral effektief teen lae snelhede, soos wanneer jy parkeer.

17. PDC (parkeerhulp)

Heelwat moderne motors is met hierdie sensors (in die voorste en agterste buffers) toegerus. Dit waarsku die bestuurder met ’n alarm wanneer die voertuig te naby aan ander motors of voorwerpe kom. Soms word dit saam met parkeerkameras geïnstalleer wat jou ’n visuele aanduiding van die afstand tussen jou voertuig en ander voorwerpe gee.

18. RWD (agterwielaangedrewe)

In teenstelling met die FWD, word die enjin se krag by agterwielaangedrewe voertuie deur die agterwiele gelewer.

19. SRS (aanvullende veiligheidstelsel)

Indien jou motor moet lugsakke toegerus is, sal daar ’n SRS-stempel op die stuurwiel en op die paneelbord voor die voorste passasier wees. In die geval van ’n botsing sal die voertuig se SRS-sensors ’n voorafbepaalde trefkrag identifiseer en die lugsakke ontplooi.

20. VVT (veranderlike kleptydreëling)

Dit is nog ʼn ingewikkelde tegniese kenmerk, hierdie keer wat enjindoeltreffendheid, prestasie en uitlatings betref. ʼn Voertuig se enjin benodig baie lug, veral teen hoë snelhede. Dit word deur die inlaatkleppe beheer, wat soms sluit voordat genoeg lug in die verbrandingskamer ingelaat is, iets wat voertuigprestasie belemmer. As die kleppe egter te lank oop bly, sal onverbrande brandstof uit die enjin ontsnap en ʼn toename in uitlatings veroorsaak.

Uit: WOW

FOTO: iStock/BrianAJackson

LEES OOK:

Hoe om trauma ná ‘n motorongeluk te hanteer

Kies só die beste paneelklopper vir jou en jou motor

8 wenke vir wanneer jy in die reën moet bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 stappe om die beste herverkoopwaarde vir jou motor te verseker

Die wenkriteria vir die beste herverkoopwaarde. Deur Caira-Lee Durand

Close