×
Skakel na Engels

15 noodsaaklike artikels om in jou kar te hou

Hou die volgende noodsaaklikhede byderhand in jou motor, of jy nou ver of naby reis.
car essentials

 

Kyk lank en goed na die binnekant van jou kar. Wat kan jy sien? Leë CD-kassies? Waterbottels? ’n Leë wegneemkoffiekoppie? ’n Sak ou klere wat jy nou al weke lank by ’n liefdadigheidswinkel wil gaan aflaai? Hoewel dit raadsaam is om die minimum hoeveelheid goed in jou kattebak te hou om die lading op jou kar te verlig, is daar party goed waarsonder jy die huis eenvoudig nie moet verlaat nie:

  1. ’n Reserweband, domkrag en bandyster Maak seker jy weet waar jou reserweband is en dat dit behoorlik opgepomp is en jou gereedskap in ’n goeie toestand is. Leer ook hoe om ’n wiel om te ruil. Dit help nie jy probeer ’n wiel omruil as jou reserweband pap is of jy nie weet hoe die domkrag werk nie!
  2. ’n Bandpomp en seëlaar Jy kan jou eie band regmaak as jy nie die reserweband kan opsit nie en te ver van ’n motorhawe of bandewinkel is.
  3. ’n Stel oorleikabels ’n Pap battery gebeur met die beste van ons. Maak seker jy het ’n stel oorleikabels (jumper cables) en dat jy weet hoe om dit te gebruik.
  4. Jou motor se handleiding en diensplan Dié noodsaaklike boek moet altyd in jou paneelkissie wees. Lees deur die handleiding nadat jy ’n nuwe motor gekoop het. Dit sal jou die frustrasie spaar om noodsaaklike onderdele te probeer opspoor.
  5. ’n Rol buiskleefband Hierdie rolletjie wonderkleefband kan vir noodgevalle of herstelwerk gebruik word.
  6. Weerkaatsende driehoeke As jou motor onklaar raak, moet dit so sigbaar as moontlik vir ander motoriste wees. As jy nog nie weerkaatsende driehoeke in jou motor het nie, koop twee – een om aan die agterkant van jou motor te plaas en een aan die voorkant in die geval van ’n onklaarraking.
  7. ’n Basiese noodhulpkissie Maak seker jy het die basiese benodighede byderhand, veral wanneer jy die langpad vat.
  8. ’n Sterk flitslig Jy weet nooit wanneer jy in die donker gestrand kan wees nie – en wanneer jou foon se flits nie genoeg sal wees nie.
  9. ’n Onlangs bygewerkte kaartboek Ja, ’n papierkaartboek. Vir wanneer jou GPS of foon se battery dood is, of wanneer jy in sekere gebiede nie opvangs kan kry nie.
  10. ’n Kombers of warm baadjie ’n Ekstra warm laag kom altyd handig te pas, of jy nou iets warms wil gryp wanneer jy volgende keer by ’n sportgeleentheid of konsert is, of in ’n noodgeval, soos wanneer jy ’n passasier in die geval van ’n ongeluk wil ondersteun. Dit sal nie jou motor veel swaarder maak nie.
  11. Kleingeld of kontant Dit kan handig te pas kom, veral vir karwagte of fooitjies vir petroljoggies. Bêre dit in ’n onsigbare kompartement van jou motor om inbrake te keer.
  12. ’n Sambreel Moenie onvoorbereid wees op reënerige dae nie.
  13. Ekstra winkelsakke Wees eerlik: Hoeveel inkopiesakke hou jy met die bedoeling om dit saam winkel toe te neem, maar dan vergeet jy en koop maar nog ’n sak? Hou dit net in die motor.
  14. ’n Lys van noodnommers (jou versekering, die AA, jou plaaslike meganikus, ensovoorts). Ons weet, jy het dit op jou foon gestoor. En daar is altyd Google. Maar wat as jou foon se battery pap raak of jy is in ’n gebied met swak opvangs? Net om veilig te wees, hou jou noodnommers êrens waar jy dit kan kry sonder om ’n foon te gebruik.
  15. ’n USB-poort en -kabel En as jy regtig daarop aandring om nie sonder jou foon te wees nie (of sidder by die gedagte aan ’n papierkaart!), maak seker jy het ’n laaitoestel in jou motor.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 wenke om jou motor te verkoop

Haal die stres uit die verkoop van jou motor – en kry die prys wat jy wil hê

Close