×
Skakel na Engels

12 praktiese wenke om beter koekies te bak

Met hierdie wenke kan niks verkeerd loop nie … Deur Monaz Dumasia
beter koekies

Tuisgebakte koekies is ’n groot bederf, maar dit is gewoonlik ook ’n liefdesdiens, wat beteken dat jy dit die eerste keer wil reg doen. As jy al ooit gewonder het hoekom jou koekies taai en hard is, of waarom jou koekies in die oond uitsprei, gaan jy jou antwoorde hier kry …

1. Botter is beter

Tensy jy nie suiwel eet nie, bak botter die lekkerste koekies. Margarien het nie dieselfde komplekse geur nie en verleen ook nie so ’n bros tekstuur nie.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog. 

2. Gebruik die regte toerusting

Koekies hoef nie vreeslik te rys nie en kan verbrokkel en vol lugborrels wees as jy die deeg met ’n handklitser meng. Roer die bestanddele met ’n houtlepel, of probeer ʼn voedselverwerker – dit werk uitstekend sonder om lug in te meng.

3. Koel en kalm

Sukkel jy met koekies wat uitsprei? Die deeg is waarskynlik te warm. Amper alle koekiedeeg baat daarby om verkoel te word voordat dit uitgerol of gevorm word. ’n Paar minute in die yskas help om die botter te laat stol, wat maak dat die koekies tydens die bakproses hulle vorm behou. Dit voorkom ook dat jou koekies te olierig is.

4. Oppas vir te veel rol

Het jy al ooit gewonder waarom jou koekies kliphard uitkom? As jy gevormde koekies bak, moet jy daarteen waak om die oorskietdeeg te veel keer uit te rol. Dit lei tot die ontwikkeling van gluten en gevolglik harde koekies. As jy vind dat die deeg elasties is en moeilik uitrol, kan jy dit in kleefplastiek toedraai en tien minute in die yskas los sodat die gluten kan “skiet gee”.

5. Taai tameletjies

Nog ’n rede waarom jou koekies klipsteenhard is, kan wees dat jy dit te lank bak. Koekies wat direk uit die oond kom, voel soms nog ’n bietjie sag (dit verhard namate dit afkoel), dus is dit nie ’n goeie aanduiding dat dit klaar gebak is nie. ’n Oppervlak wat sanderig en droog voel wanneer jy daaraan vat, is ’n beter teken dat dit gaar is.

6. Breekskade

Aan die ander kant kan jy vind dat jou koekies te bros is. Jou resep benodig waarskynlik óf ’n bietjie meer vloeistof óf ʼn bietjie minder meel. Wees suinig met enige meel wat jy op die werksoppervlak sprinkel wanneer jy jou deel uitrol. Te veel sal dit uitdroog en jou koekies laat verbrokkel.

7. Pap en pieperig

As jou varsgebakte koekies steeds te sag is nadat dit afgekoel het, het jy dit moontlik  te gou uit die oond gehaal of te veel vloeistof gebruik.

8. Welgevorm

As jy ’n koekiedrukker gebruik, mag jy vind dat jou koekies rek en hulle vorm verloor wanneer jy dit oplig en op die bakplaat neersit. Gebruik eerder ’n paletmes of vismes om die koekies te lig. Vir ander koekies kan jy ’n klein roomys-skeplepel gebruik om die deeg uit te meet sodat al jou koekies ewe groot is.

9. Maak ’n bietjie plek

Spasieer jou koekies ver genoeg uitmekaar op die bakplaat. Dit verseker dat jou koekies eweredig bak, en as die deeg ’n bietjie uitsprei, sal die koekies nie inmekaarloop nie.

10. Vrieskas toe!

As jy vooruit wil werk, kan jy jou deeg in ’n bal rol, toedraai en vries vir later. Anders kan jy die koekies vorm, op ’n bakplaat vries en in ’n houer in die vrieskas bêre as dit hard is. Die koekies kan dan net so bevrore gebak word (tel net ’n paar minute by die baktyd). Dit werk veral goed met stewige deeg soos sjokoladsplinterkoekies.

11. Moenie sag wees nie

As jy vind dat jou koekies te sag raak nadat jy dit gebak het, bêre jy dit dalk nie reg nie. Suiker trek vog en tuisgemaakte koekies bevat gewoonlik baie daarvan, wat beteken dat jou koekies kort voor lank hulle bros tekstuur kwyt is. Voorkom dit deur jou koekies in ’n lugdigte houer te stoor. Strooi ’n bietjie rys op die bodem om enige waterdeeltjies in die lug te absorbeer.

12. Blaas lewe in ou koekies

Red jou sagte koekies deur dit op ’n gesmeerde bakplaat uit te pak en vir ’n paar minute by ongeveer 160 °C (140 °C waaier)/gasmerk 3 te bak om van die oortollige vog ontslae te raak. Laat dit op ’n draadrak afkoel. Dit werk nie áltyd nie, maar dit is die moeite werd as jy daaraan dink om jou koekies weg te gooi.

Van Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Choreograph

LEES OOK:

8 soorte koekies wat te mooi is om te eet!

10 eenvoudige wenke om elke keer die BESTE brownies te bak!

n Koekieresep vir elke dag van die week

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Ons 10 beste Kersfeeskoekie-resepte

Hier's ons lys van die lekkerste koekies om self te geniet of as geskenke te gee

Close