×
Skakel na Engels

12 kosse wat jou moeg maak

Is jy moeg daarvoor om smiddae, wel, moeg te voel? Dis dalk tyd om jou dieet te verander … Deur Vicky Chandler
foods that make you tired

Kom jy ooit by daardie punt in ’n dag dat jou energievlakke begin val en jy geen benul het hoekom jy so moeg voel ondanks agt uur slaap laas nag nie? Wel, dit gaan dalk nie oor hoeveel slaap jy kry nie, maar oor die kos wat jy jou liggaam gee.

Quill.com het hierdie nuttige inligtingstuk saamgestel sodat ons kan weet watter kosse om te vermy as ons baie dinge van ons doenlysie wil afmerk:

1. Bagels: Kos met verfynde grane soos wit meel is gewoonlik hoër op die glisemiese indeks (kosse wat bloedsuiker en insulienvlakke beïnvloed).

Alternatief: Kies ’n volgraanbagel of volgraan- Engelse muffin.

2. Graankos: Die meeste graankos bevat hoë-fruktose-mieliestroop, suiker en verfynde koolhidrate. Suiker word met chroniese moegheid verbind.

Alternatief: Kies eerder gerolde of gekerfde hawermout. Moet ook nie dink pakkies kitspap is goed nie; dis propvol suiker.

3. Muffins: Die meeste is hoog aan suiker en verfynde koolhidrate en die hoë soutinhoud kan ons ook swaar en moeg laat voel weens verhoogde waterretensie.

Alternatief: Oorweeg dit om jou eie by die huis te maak.

4. Koffiedrankies: Jou gunsteling-koffiewinkeldrankie bevat oor die algemeen hope suiker en stroop, asook kunsmatige kleursel, geursel, preserveermiddels en sulfiete.

Alternatief: Hou by gewone swart koffie met ’n bietjie melk, of drink groen- of swart tee.

5. Lemoensap: Baie daarvan is nie 100% sap nie. Dit bevat hoë-fruktose-mieliestroop, kunsmatige geursel en kleursel en bygevoegde suiker. Jig.

Alternatief: Voeg lemoenskyfies by water vir ’n verfrissende drankie, of eet sommer ’n hele lemoen.

6. Vrugte-smoothies: Smoothies wat jy in ’n winkel koop, bevat dikwels baie suiker.

Alternatief: Eet liewer die hele vrug of maak jou eie en verlaag die suikerinhoud deur krulkool of spinasie by te voeg.

7. Toebroodjies: Behalwe vir die groot snye witbrood, word verwerkte toebroodjievleis wat natriumnitraat en byvoegings soos MNG bevat ook vir baie gekoopte toebroodjies gebruik. (Albei word met moegheid verbind.)

Alternatief: Maak jou eie by die huis met 100% volgraanbrood en natuurlike deli-vleis.

8. Jogurt: Ongelukkig bevat baie jogurts nie hoë vlakke van gesonde probiotika (wat dit makliker verteerbaar maak) nie. Suiwel, sonder ’n goeie bron van gesonde bakterieë, kan ook energieprobleme veroorsaak.

Alternatief: Ongegeurde Griekse jogurt met jou eie natuurlike versoeters soos heuning of vars vrugte.

9. Skyfies: Die meeste skyfies bevat verfynde koolhidrate, ongesonde vette en hope sout. Hoëvetkosse word ook met hoër vlakke van slaperigheid verbind.

Alternatief: Bevredig ’n kosdrang met ’n paar neute of sade, of maak jou eie skyfies met krulkool, wortels of rape.

10. Gaskoeldrank: Dit bevat hope suiker (of kunsmatige versoeters, as dit dieetkoeldrank is). As jy dit gereeld drink, kan dit ’n negatiewe uitwerking op jou breinfunksie en denkprosesse hê.

Alternatief: Kies vonkelwater en vars vrugteskyfies.

11. Gebraaide kosse: Dis vanselfsprekend – gebraaide kosse soos burgers en tjips is propvol olie en transvette. Waar gesonde vette soos olyfolie en avokado ons energievlakke kan aanhelp, verstop hierdie ongesonde vette ons slagare en kan dit ons stadiger maak.

Alternatief: As jy uitgaan vir middagete, kies ’n toebroodjie of slaai en probeer diepgebraaide kosse vermy.

12. Water: As jy nie genoeg H2O drink nie, kan dit jou deurmekaar en slaperig laat voel. Water is ongelooflik belangrik, nie net om ons gehidreer te help bly nie, maar ook om gifstowwe uit te spoel en ons energievlakke hoog te hou.

Alternatief: Belê in ’n groot waterbottel om op jou lessenaar te hou om gehidreer te bly.

Van: www.prima.co.uk

LEES OOK:

4 maniere om jou energie terug te kry

10 stappe om jou suikerverslawing te verbreek

10 kosse wat verbasend baie suiker bevat

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om op te hou op die sluimerknoppie te druk

Dis koud en donker, en al wat jy wil hê, is nog ’n paar minute in die bed. Daarom druk...

Close