×
Skakel na Engels

12 keer wat jy ’n nuwe bra moet koop

Hier is alles wat jy van jou bra moet weet, van puberteit tot swangerskap tot die menopouse

Ons dra amper elke dag ’n bra, maar dis maklik om die belangrikheid daarvan as vanselfsprekend te aanvaar. Bra’s ondersteun ons borste, verminder die risiko dat dit sak of plooie vorm, help ons om gemaklik te voel en, met die regte bra, laat dit ons sexy voel. Dit is dus belangrik om seker te maak dat ons die regte een op verskillende tye in ons lewe dra. Die konsultant-borschirurg Tena Walters by die London Breast Clinic praat oor die 12 keer in ’n vrou se lewe wat ’n nuwe of spesiale bra verg. Waar jy ook al op die tydlyn val, maak seker jy oorweeg jou volgende bra-opgradering …

Maar hier is eers ’n les oor bra-passing …

Bra’s moet volgens die volgende vier mates gekies word: die borsgleuf tot by die armholte; die projeksie van die bors vanaf die borskas uitwaarts; die hoogte; en rondom die rug. Nie alle bra’s neem hierdie elemente in ag nie. Daarom kan nommers in verskillende handelsmerke heelwat verskil. Jy kan dus nie aanneem dat jy altyd dieselfde nommer kan kies nie – pas elke bra aan om te verseker dat dit reg pas.

Om te weet of jou bra reg pas, kyk waar die inkepingslyn is wanneer jy dit uittrek – dit behoort die lyn van die borsvou te volg. As bra’s nie reg pas nie, kan die draadondersteuning in die borsweefsel indruk en veroorsaak dat klein knoppies vorm. Dis niks om oor bekommerd te wees nie, maar behoort deur ’n dokter ondersoek te word om die oorsaak te bepaal.

Dit is belangrik om te weet dat sodra die ligamente in die bors gerek het weens ontoereikende ondersteuning of verandering in grootte, dit nie sommer vanself sal regkom nie. Jy kan onnodige ligamentverrekking voorkom deur ’n ondersteunende bra te dra wat behoorlik pas.

1. Voor puberteit

Dit is algemeen vir meisies so jonk as sewe jaar om ’n borsknoppie agter die tepel te ontwikkel. Dit kan soms hard voel, maar dis niks om oor bekommerd te wees nie en dis nie nodig om dan ’n bra te dra nie.

2. Gedurende puberteit

Dis belangrik om deur puberteit ’n sagte bra te dra wat kan aanpas soos die borste groei. Dit hoef nie swaar ondersteuning of draadondersteuning te hê nie, want die borste verander konstant.

3. Gedurende menstruasie

Sommige vroue ervaar opmerklike veranderinge in hul borste gedurende hul maandstonde, waaronder teerheid en swelling. Dit is soms nodig om ’n bra te dra wat effens groter is om jou borste gedurende menstruasie te ondersteun.

4. Gedurende swangerskap

Gedurende swangerskap swel die borste in voorbereiding op borsvoeding. Swanger vroue moet dit oorweeg om ’n nuwe, groter bra in die derde tot vierde maand van swangerskap te kry en dalk weer aan die einde van die swangerskap as die borste steeds groter word.

5. Gedurende borsvoeding

Gedurende hierdie tyd het vroue ’n gepaste bra nodig wat voorsiening maak vir tepelkussinkies, indien nodig, en sag teen seer tepels en ’n teer vel voel, en maklik is om te verwyder.

6. Ná menopouse

Weens ’n afname in estrogeenvlakke kan die borsweefsel gedurende die menopouse verander en minder elasties word en begin hang. Dit vereis ’n bra wat borste behoorlik kan ondersteun. Dit is algemeen dat vroue ná die menopouse gewig aansit, wat die rugmates van die bra kan vergroot.

7. Snags

Sommige vroue, veral dié met groot borste, kan gemakliker voel wanneer hulle snags ’n sagte bra dra om hulle te ondersteun, selfs terwyl hulle slaap. Dit kan borspyn help verlig en die borsligamente en -vel op hul plek help hou.

Lees: 5 algemene foute wanneer jy ’n bra kies

8. Gedurende chemoterapie

Dit is algemeen dat vroue gewig aansit terwyl hulle chemoterapie ondergaan. Daarom is dit belangrik om seker te maak dat jou bra in hierdie tyd gemaklik en ondersteunend is.

9. Ná borskanker

Vroue wat borschirurgie weens kanker gehad het, moet dalk ná behandeling ’n ander bra kry. Dit sal dalk vir ’n prostese moet voorsiening maak of kan ’n rol speel om hulle meer selfvertroue ten opsigte van hul lyf te gee. Sommige vroue se dokters sal dalk ná sekere borschirurgie aanbeveel dat hulle glad nie ’n bra nodig het nie.

10. Sport

Behoorlike ondersteuning gedurende sportaktiwiteite is noodsaaklik om te keer dat borste sak weens verrekte ligamente.

11. Wanneer jy gewig aangesit of verloor het

Elke keer wanneer ’n vrou se gewig wissel, behoort sy ’n nuwe bra te kry om by die nuwe vorm en grootte van haar liggaam aan te pas.

12. Ouderdom

Dit is algemeen dat vroue gewig verloor wanneer hulle ouer word en hul borste kleiner raak, wat hulle met vetweefsel laat eerder as melkkliere. Dit vereis steeds ’n bra wat behoorlik pas.

Van: Good Housekeeping UK

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 nuttige goed wat almal behoort te weet

Maak jou lewe makliker, eenvoudiger en beter met hierdie slim wenke

Close