×
Skakel na Engels

12 goed wat jy van laserhaarverwydering moet weet

Moenie nou al jou skeermes weggooi nie
laserhaarverwydering

Of jy nou skeer, pluk of waks, dit bly ’n tydrowende takie. Maar vir vroue wat ’n gladde, haarlose vel wil hê, blyk dit die enigste beskikbare opsies te wees. As jy egter bereid is om ’n ekstra paar rand te betaal, kan jy ’n meer permanente opsie kies: laserhaarverwydering. Dié tegnologies gevorderde metode maak van lig gebruik om die haarfollikel te vernietig sodat jy met ’n dons- en stoppelvrye vel kan spog.

Ons het ’n paar kundiges uitgevra oor alles wat jy moet weet voordat jy dié prosedure oorweeg.

1. Hoe werk laserhaarverwydering?

Enige behandeling met die woord “laser” kan intimiderend klink, maar dis eintlik baie eenvoudig. “Wanneer laserenergie deur die pigment in die haarfollikel opgeneem word, vernietig dit die wortel,” verduidelik dr. Margarita Lois, ’n New Yorkse dermatoloog. Sodra die wortel vernietig is, kan daar nie meer hare geproduseer word nie.

2. Watter soort laser word vir verskillende behoeftes aanbeveel?

Volgens Rachel Sharoff, ’n skoonheidkundige by die Skintology Skin and Laser Center, is daar drie gewilde tipes laser:

Diode: Die diodelaser is baie effektief vir ligte en donker velle.

Alexandriet: Dié laser is die heel vinnigste laserterapie en word veral op groter liggaamsareas van pasiënte met ’n ligte tot olyfkleurige vel gebruik.

Nd:YAG: Hierdie langwerpige polslaser kan op alle veltipes gebruik word, insluitend ’n bruingebrande vel. In vergelyking met ander lasertipes is dit minder effektief vir ligte of fyn hare.

Lees ook: 8 wenke vir die gladste skeer

3. Watter liggaamsdele reageer die beste op laserhaarverwydering?

Hoewel laserhaarverwydering op enige liggaamsdeel met ongewenste hare werk, is dit veral effektief op die bikini-, lip-, ken- en onderarm-areas.

4. Wie is die beste kandidate vir laserhaarverwydering?

As jy donker hare het en al ooit beswaard gevoel het wanneer dit by die halsstarrige uitgroei en verwydering kom, het ons goeie nuus vir jou: Laserhaarverwydering werk die beste op dik, growwer hare. “Die laser word deur die pigment, of kleur, in die haarfollikel aangetrek,” verduidelik Sharoff.

Bygesê, dit kan ’n bietjie langer neem by dikker hare. “Sommige hare is eenvoudig baie hardnekkig, en somtyds verskyn nuwes as gevolg van hormonale veranderinge of haarwortels wat gedurende die behandelingstydperk aktief raak,” verduidelik dr. Birnur Aral, hoof van die Good Houseeekping-skoonheidslaboratorium in New York, wat self al laserhaarverwyderingterapie ondergaan het.

Lees ook: 7 goed wat jou bikiniwaks-terapeut wil hê jy moet ophou doen

5. Watter medikasie behoort jy vooraf te staak?

Net soos met waks, is daar sekere medikasies wat nie tydens hierdie velsorgbehandeling geneem kan word nie. “Enige medikasie wat fotosensitief is, moet ten mense een week voor behandeling gestaak word,” waarsku Sharoff. Sy noem ook dat die meeste antibiotika fotosensitief kan wees. Sou jy dus ’n infeksie hê, stel ons voor dat jy jou behandeling vir ’n paar weke uitstel.

“Tydens behandeling behoort pasiënte ook nie velsorgprodukte met sterk aktiewe bestanddele soos retinoïede en alfa-hidroksielsure te gebruik nie,” sê dr. Aral. Hierdie bestanddele kan selvernuwing verhoog, wat die vel meer kwesbaar vir die son en irritasie maak. As jy nie seker is of jou medikasie ʼn negatiewe uitwerking op laserhaarverwydering-behandeling gaan hê nie, behoort jy vooraf met jou dokter te praat.

6. Hoe lank neem dit voordat dit werk?

Almal verskil en daarom wissel die aantal sessies van persoon tot persoon, sê dr. Lolis. “Laserhaarverwydering werk wanneer die hare in hulle aktiewe groeitempo is,” verduidelik sy. Verskillende liggaamsdele het verskillende groeitempo’s, en dit kan daarom langer of korter neem, afhangende van die area wat behandel word. Sharoff sê egter dat die meeste kliënte ’n gemiddeld van ses tot agt behandelings vir algehele haarverwydering benodig.

Lees ook: 5 skeerfoute wat jy waarskynlik maak

7. Is dit nodig om vir ál my sessies te gaan?

Ja. “Een van die grootste foute wat mense maak, is om nie die nodige aantal sessies te voltooi nie,” waarsku dr. Lolis. “Mense is geneig om weg te bly wanneer die haargroei begin afneem. “As jy regtig wil hê dat jou behandeling effektief moet wees, moet jy na jou terapeut luister – hulle ken hulle storie.”

8. Hoe voel dit? Is dit seer?

“Met verdowing behoort dit nie pynlik te wees nie,” sê dr. Lolis, en voeg by dat dit soos ’n rekkie voel wat teen jou vel geskiet word. Sharoff sê die meeste van haar kliënte beskryf dit as ’n ligte, warm knypie.

Lees ook: Hoe om ingroeihare te verwyder

9. Moet jy jou afspraak skuif as jy menstrueer?

Anders as met ’n bikini-waks, behoort jy jou behandeling nie as gevolg van jou maandstonde te kanselleer nie, sê Sharoff. “Dit is baie belangrik om jou afsprake konsewent by te woon,” verduidelik sy. “Met ander woorde, al menstrueer ’n vrou en behandel ons haar bikini-area, vra ons net dat sy ’n op die dag van haar behandeling ’n tampon gebruik.”

10. Hoe behoort jy vir ’n afspraak voor te berei?

“Ons vra dat jy area vooraf skeer sodat die laser tot by die haarwortel kan deurdring. Die idee is nie om hare op of buite die vel te teiken of te skroei nie,” antwoord Sharoff. Sy is baie spesifiek oor die skeer-aspek van hierdie voorbereiding: “In die maand voor jou sessie behoort jy die hare nie te waks, pluk of bleik nie. Die wortel moet onbeskadig wees sodat laser die haar heeltemal kan vernietig.”

Lees ook: Jou gids tot ongewenste gesighare

11. Hoe moet jy die behandelde areas versorg?

Ná jou behandeling beveel ons aan dat jy sonblootstelling vermy en ’n sonskerm gebruik. (Maar ons weet dat jy in elk geval élke dag jou sonroom aansmeer.) Dr. Aral noem ook dat enige haargroei tussen sessies afgeskeer moet word – nie met waks of ’n draadjie verwyder word nie.

12. Wat is die risiko’s?

Laserhaarverwydering word as ’n veilige behandeling beskou, maar dr. Lolis waarsku dat jou vel gebrand kan word terwyl blase, verkleuring, rooiheid en letsels ook potensiële newe-effekte is. Daar bestaan ook ’n kans dat jou hare kan teruggroei, en volgens dr. Aral kan dit jaarlikse behandelings vereis om nuwe haargroei af te weer.

 

Van: Good Housekeeping US

Foto: iStock/LightFieldStudios

 

Lees ook: 

8 goed wat ons moet ophou om in die stort te doen

6 mites oor jou vagina

“Ek wens ek het dié 5 dinge geweet voordat ek my wenkbroue laat mikrolem het”

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die voordele van ’n oornagmasker

Kry jou skoonheidslapie in!

Close