×
Skakel na Engels

11 vrae wat jy jou maat moet vra voordat julle trou

Dit gaan oor baie meer as die “wil jy kinders hê?”-gesprek … Dis egter deel daarvan.
trou

Ongeag of julle ‘n paar maande of ‘n paar jaar uitgaan, as daar prentjies van strooimeisierokke, romantiese trouplekke en vrolike ruikers in jou kop rondsweef, is dit tyd om ernstig te gesels. Want, ja, dis opwindend om ‘n troue te beplan — al kan dit sommige bruide tot waansin dryf — maar dis nie waar die beplanning ophou nie.

“ ’n Huwelik gaan daaroor om saam ’n lewe bou en ’n basis van eerlikheid, vertroue, vriendskap en gedeelde waardes te skep,” sê dr. Tara Fields, huweliksterapeut en outeur van The Love Fix: Repair and restore your relationship right now. “Dit vereis dat julle oor sekere belangrike sake moet praat, want ongeag of ons dit besef of nie, dinge verander wanneer julle van eenvoudig uitgaan na ’n huwelik oorgaan. Te veel paartjies beplan vir ’n dag – ’n troue – en nie ’n huwelik nie. Maar dit kan die verskil tussen ’n realistiese vir-ewig-en-altyd en ’n kortpaadjie na die skeihof beteken.”

Met ander woorde, dis tyd dat julle twee gesels. Kenners beveel aan dat hierdie onderwerpe aangeroer word voordat julle voor die kansel staan.

1.Wat laat jou geliefd voel?

Baie paartjies maak die fout om te aanvaar dat die manier waarop jý liefde gee dieselfde manier is waarop hý liefde gee. Alhoewel almal in een van die kategorieë van die “vyf liefdestale” val – fisieke aanraking, gehaltetyd, opbouende woorde, dade van diensbaarheid en geskenke – is dit nie baie algemeen dat twee mense in ’n verhouding dieselfde  “voorkeurtaal” het nie.

Dit is waarom die “dateologist”, Tracey Steinberg, skrywer van Flirt for Fun & Meet the One, sê dat dit belangrik is om die lug te suiwer. “Wat een persoon geliefd laat voel, verskil dikwels baie van iemand anders. Om te verstaan wat vir julle albei werk, sal help om julle band te versterk en groter probleme later te vermy,” sê sy. Voorbeeld: Jy dink dalk dat jy vir jou kêrel wys dat jy hom liefhet deur ’n heerlike bord kos gereed te hê wanneer hy ná werk by die huis kom. Dit is dade van diensbaarheid. Maar as sy eerste taal fisieke aanraking is, gaan dit baie meer vir hom beteken as jy op die bank met jou bene oor sy skoot sit en sy rug krap terwyl julle gesels.

Om uit te vind wat julle onderskeidelik verkies, stel Steinberg voor dat julle eenvoudige vrae vra soos: “Wat is die liefdevolste ding wat iemand al ooit vir jou gedoen het?” en “Hoe weet jy werklik as iemand vir jou omgee?” Vir ’n meer volledige benadering kan julle die die 5 Love Languages-vraelys voltooi en oor jul resultate gesels.

 2. Hoeveel skuld het jy?

’n Mens sou dink dat paartjies hierdie onderwerp bespreek – kredietkaartskuld, studentelenings, ensovoorts is belangrike syfers aangesien jou maat se skuld ook jou skuld word wanneer julle trou. Maar “dis een van die olifante in die vertrek wat liefs geïgnoreer word, en ek sien gedurig hoe paartjies daardeur gekniehalter word”, sê Fields. Vir sommige paartjies is dit ’n kwessie van “moenie vra nie, moenie sê nie”, maar nes ’n polis wat nietig verklaar word, moet so ’n benadering ook tot ’n einde kom. “Mense is dikwels skaam en verleë wat hul geldsake betref, maar elke vrees of konflik is ’n geleentheid om groter intimiteit en ’n sterker band te skep,” vervolg Fields. “Dit is belangrik om te kan sê: ‘Dit is my waarheid, dit is hoeveel geld ek skuld; kom ons besluit saam hoe ons dit gaan aanpak.’ ”

Wat jy ook al doen, moenie oor jou hoeveelheid skuld jok nie, selfs al skaam jy jou oor die manier (bv. ’n dobbel- of inkopieverslawing) waarop jy jouself daarin gedompel het. Field sê sy het al met mense gewerk wat in die geheim $20,000 tot $30,000(ongeveer R290 000 tot R390 000) in die skuld was; dit is nie ’n situasie waarin jy jou wil bevind nie, al wil jy jou maat teen minder ideale omstandighede beskerm. Op die ou end vreet daardie geheim aan jul vertroue, en aangesien finansies een van die grootste redes is waarom paartjies skei, sê Fields dat dit ’n maklike manier is om jou huwelik in vlamme te laat opgaan.

3. Hoe gaan ons ons skoonouers hanteer?

“Saam met geld is skoonouers seker die onderwerp wat die meeste konflik skep, en paartjies selfs na die skeihof kan dryf,” sê Fields. “Mense verstaan nie dat wanneer julle trou, julle as ’n paartjie ’n oorgang maak nie – en dit sluit in dat julle ’n eie gesin word wat in sommige opsigte afsonderlik van jul individuele gesinne funksioneer.” Dit behels ook dat julle jul eie tradisies skep wanneer dit by vakansies, kinderopvoeding en daaglikse besluite kom.

’n Algemene fout wat mans maak, is om sy ma se kant bo dié van sy vrou te kies, of om toe te laat dat hy in die middel van die twee beland, sê Fields. “Enige terapeut sal jou vertel dat hy ’n groot tree uit die middel moet gee en hom stewig langs sy vrou moet gaan plant. Skoonouers kan ongelooflike steun aan ’n verhouding bied of dit afbreek. Dit berus by die paartjie om grense te stel en van die begin af saam te stem dat julle ’n span is.”

En as daar nie spanning tussen jou en jou skoonouers is nie, koester dit. “Beklemtoon die positiewe punte en sê vir jou toekomstige skoonma dinge soos: ‘Ek is so dankbaar vir jou – ek hoor soveel aaklige stories oor skoonma’s, en ek wil net dankie sê dat jy ons toelaat om ons eie paadjie te loop en ons eie rituele te skep,’ ” sê sy. Sodoende gee jy haar nie net ’n klop op die skouer nie, maar beklemtoon jy ook dat julle twee hierdie dinge vir ’n gesonde verhouding nodig het.

4. Wie se mening is vir jou die belangrikste?

Nee, dis nie ’n strikvraag nie – hy is nie veronderstel om te sê dis joune nie. Wanneer jy hierdie vraag vra, wil jy weet wie die vermoë het om sy manier van dink en sekere scenario’s te beïnvloed. “Ons wil onsself graag as onafhanklike volwassenes beskou wat ons eie besluite neem, maar dit gebeur baie dat iemand anders se gedagtes jou maat se besluite bepaal,” sê Steinberg. “Dis ’n slim idee om uit te vind hoe daardie persoon dink en watter soort raad hy jou maat sal gee, want eendag gaan hulle dalk jul huwelik bespreek.”

Maar jy moet ook nie by daardie persoon witvoetjie soek net sodat hy mooi dinge van jou sal sê nie. Probeer eerder ’n opregte vriendskap aanknoop. As daar dan wel ’n probleem in jul verhouding opduik, is daar ’n groter kans dat hy onpartydig sal wees. “Om mekaar aan die belangrike mense in jul lewe voor te stel is verder ook ’n teken van vertroue en intimiteit,” sê Steinberg. Hierdie stap is bewys dat jul lewens besig is om ten volle te integreer.

5. Wie het wat in jou ouerhuis gedoen?

Dis iets waaraan jy nooit regtig gedink het om oor te praat nie – of Pa die een was wat kos gemaak het en of Ma die rekeninge betaal het – want die meeste paartjies besef nie in watter mate dit hul siening van verantwoordelikhede in die huwelik raak nie, sê dr. Les Parrott, kliniese sielkundige en medeskrywer van die topverkoper Saving Your Marriage Before It Starts. Maar dit “werp baie lig op die manier waarop julle die alledaagse aktiwiteite van jul huishouding gaan hanteer,” sê hy.

As een van julle in ’n huis grootgeword het waar jou pa die tuin versorg het terwyl jou ma die sosiale kalender en doktersafsprake hanteer het, is dit waarskynlik dat jy jou in daardie selfde rol sal sien – en dit ook van jou maat sal verwag, sê Parrott. Maar onthou, julle het in verskillende huishoudings grootgeword. En die manier waarop julle dinge doen voordat julle trou (selfs al bly julle saam), bly nie noodwendig só wanneer julle trou nie. “Paartjies is geneig om meer onafhanklik te wees wanneer hulle uitgaan; hulle dink nie noodwendig daaraan dat hulle saam aan ’n lewe bou of wat toekomstige pligte behels nie,” sê Fields. “Maar wanneer julle trou, gaan julle jul huishoudelike pligte waarskynlik anders hanteerhanteer”.

Dalk is dit tyd om die televisie een aand af te skakel en oor huishoudelike verantwoordelikhede te gesels en oor hoe julle dit gaan hanteer. Dit hoef nie in sement gegiet te wees nie (maar veels geluk as hy hom tot skottelgoeddiens verbind), maar Fields sê dis slim om ’n algemene idee van mekaar se verwagtings te hê voordat julle hierdie volgende fase van jul verhouding betree.

 6. Is ons albei besig om emosioneel en sielkundig te groei?

“Daar is min mense wat hierdie vraag oordink, laat staan nog verloofde paartjies, en dis te verstane,” sê Parrott. “Dit klink na harde werk. En dis nogal abstrak.”
 
Maar al is dit ’n vae konsep, is dit volgens Parrott noodsaaklik om daaroor te praat. “Jul huwelik kan net so gesond soos die twee afsonderlike individue daarin wees, en die ontwikkeling van jul emosionele welsyn is noodsaaklik vir jul groei as paartjie,” verduidelik hy. Maak dus die tyd om uit te vind hoe julle regtig voel en fokus daarop om jul selfbewussyn te verhoog sodat julle nie stagneer nie. Parrott stel voor dat julle ’n betroubare persoonlikheidsassessering, soos die Deep Love Assessment, voltooi om regtig uit te vind hoe julle kommunikeer, uitdrukking aan jul liefde gee, en wat julle nodig het om in verskeie situasies geliefd te voel. Dit kan jul huwelik maak of breek, want baie paartjies skei omdat hulle nooit die emosionele volwassenheid ontwikkel het om by dinge aan te pas wat buite hul beheer is nie, verduidelik hy.

7. Hoe voel julle oor huweliksterapie?

Van groei gepraat, julle sal openhartig moet gesels om uit te vind hoe julle regtig oor terapie voel. Vir sommige mense is dit glad nie ’n kwessie nie en ’n belangrike deel van persoonlike groei. Vir ander is dit ’n teken van swakheid. Fields sê dat julle nou al oor mekaar se standpunte moet praat. “Die gesondste mense en die beste soort terapie is wanneer daar nie enige groot probleme of konflik is nie, en waar julle deur weetgierigheid en die wil om te groei en te leer gemotiveer word.”

Die grootste fout wat paartjies ten opsigte van terapie maak — “buiten om te wag totdat jul huwelik aan ’n draadjie hang”, sê sy — is om op ’n vriend of mekaar te reken om deur probleme te werk. “Dis wonderlik om ’n vriend of vriendin te hê met wie jy kan praat, maar ’n terapeut se rol verskil baie daarvan,” verduidelik sy. “Hulle is daar om julle te ondersteun, gerusstelling te bied en julle die hulpmiddels te gee julle nodig het om as paartjie te groei.”

As jou maat nie van die idee hou nie, kan jy voorstel dat julle ’n terapeut kry by wie julle van tyd tot tyd ’n draai kan gaan maak. “Sodoende is terapie nie ekwivalent aan ‘ons is in die moeilikheid’ nie,” verduidelik Fiels. Om ’n terapeut te kry wat betroubaar is – nie net uit jou probleme wil ryk word nie – is van groot belang, sê sy, en julle kan eers telefonies met terapeute gesels om julle met daardie besluit te help. Wanneer julle op iemand besluit het, beteken dit eenvoudig dat julle die geleentheid het om in ’n veilige omgewing te praat en te leer hoe om ’n sterker span te wees. “Hulle is opgelei om die temperatuur van jul verhouding te meet en op enige gevaartekens te wys wat op ’n groot konflik kan afstuur,” vervolg sy.

 8. Hoe het jul gesin verjaardae gevier?

Dit kan nogal ’n probleem wees as julle nog nie lank saam is nie en dus nog nie baie verjaardae saam gevier het nie, sê Parrott. Baie mense beskou verjaardae nie net as ’n dag om iemand se geboorte te vier nie, maar as ’n geleentheid vir groot blyke van liefde en waardering. Sommige mense hou byvoorbeeld daarvan om ’n “verjaardagweek” of selfs “verjaardagmaand” te vier. Ander is gewoond daaraan om bloot ’n kaartjie of “veels geluk”-SMS te stuur en daarmee te volstaan. Dit beteken nie noodwendig dat hulle nie omgee nie – as dit is hoe hulle grootgeword het, beskou hulle dit as normaal, verduidelik Parrott. Spaar julself dus latere ongelukkigheid – en ’n moontlike bankslapery – en gesels oor jul verjaardagverwagtings (maak seker dat julle sommer die vakansiegesprek ingooi). Sodoende kan julle albei jul verwagtings aanpas en basies waarborg dat die ander persoon op sy of haar verjaardag geliefd en spesiaal sal voel.

9. Hoe voel julle oor kinders?

Dis waarskynlik die hoeveelste keer dat jy dit hoor, maar dit kan nie genoeg gesê word nie: Jy moet sonder enige twyfel weet of jou maat kinders wil hê of nie. Dis heeltemal in die haak as hy nie wil nie – veral as jy dieselfde voel. Maar as julle daaroor verskil, moet julle lank en hard dink voordat julle afhaak; dit is ’n gewigtige lewensbesluit wat tot gegriefdheid en woede kan lei, sê Karen Ruskin, ’n psigoterapeut en opgeleide huweliks- en gesinsterapeut.

“Wat jy ook al doen, moenie dink dat wanneer julle eers getroud is, jy hom tot jou standpunt sal oorhaal of dat hy ter wille van die liefde of vir jou sal verander of dat hy daarin sal groei nie,” sê sy. “As jy dit probeer doen, kan jy uiteindelik voel dat jy gekul is, en dit kan tot bitterheid, seerkry, pyn en selfs depressie lei.”

Aan die ander kant, as julle daaroor verskil, beteken dit nie noodwendig dat jul verhouding gedoem is nie. Maar dit vereis aanpasbaarheid aangesien een van julle sy of haar prentjie van die toekoms sal moet verander (van ’n huis vol kinders na een sonder ’n kroos). Hoe dit ook al sy, eerlikheid is van kardinale belang. “Julle durf nie van hierdie onderwerp wegskram nie,” sê Ruskin. “Wees reguit, en aanvaar dat hy ook is en nie van plan gaan verander nie. Besluit dan of jul verhouding die opofferings werd is wat dalk op julle wag.”

10. Watter soort liefdesbetuigings het jy tussen jou ouers gesien?

Nee, ons vra nie dat jy in die verlede gaan delf en herinneringe opdiep van die traumatiese dag toe jy Ma en Pa in aksie in die kombuis betrap het nie (ten minste is dit ’n teken van ’n goeie verhouding). Die manier waarop hulle mekaar hanteer het, kan jou eie maatstawwe van die liefde beïnvloed, sê Parrott. Dit hoef nie eens iets seksueels te wees nie. “Terugskouend kan dit die besef wees dat Pa elke oggend vir Ma koffie gebring het, of dat Ma altyd vir Pa ’n bakkie sjokoladeroomys ingeskep het nadat hy gholf gespeel het,” sê Parrott. Basies is dit die dinge wat, al het jul ouers blykbaar nooit daaroor gepraat nie, altyd daar was.

Hoekom sou ’n mens daaroor praat? “Almal van ons trou met onbewuste verwagtings gegrond op die huis waarin ons grootgeword het,” verduidelik Parrott. “Ons aanvaar dat sekere gedrag ’n aanduiding van liefde is. En as die gedrag nie daar is nie, wonder ons of die persoon ons regtig liefhet – ’n mens kan letterlik redeneer dat jou toekomstige man jou nie liefhet nie omdat hy nie dieselfde dinge, ongeag hoe onbeduidend, doen wat jy in jou ouers se huwelik gesien het nie.”

11. Wat is vir jou ononderhandelbaar?

Vir sommige paartjies is dit seks met ’n derde party. Vir ander vorm dit deel van ’n oop huwelik en dit pla hulle nie. Ongeag waarmee jy nie kan saamleef nie, jou maat moet daarvan weet, sê Ruskin, en omgekeerd. Dit hoef ook nie so dramaties soos seks te wees nie. “Die laaste paar jaar het die die gebruik van tegnologie ’n groot twispunt geword,” sê Ruskin. Sommige mense wil byvoorbeeld nie hê dat hul wederhelf met ’n eks op Facebook gesels nie, terwyl die hoeveelheid tyd wat daar aan sosiale media afgestaan word, ongeag met wie, vir jou ’n probleem kan wees.

Iets wat nou bloot ’n kleinigheid is, kan in ’n groot probleem ontaard aangesien dit direk aan jul verwagtings gekoppel is. “ ’n Mens het idees oor hoe dinge in jul huwelik gaan werk, en dit gebeur nie altyd só nie,” verduidelik Ruskin. “Dit kan tot heelwat konflik lei. Maar as julle vooraf daaroor praat en, indien nodig, sekere reëls neerlê (soos geen selfone op uitgaanaande nie of om nooit in verskillende kamers te slaap nie) is julle beter toegerus om moeilike situasies te hanteer wanneer dit opduik.”

via: Redbook

Lees nog:

Praat só om konflik te ver my

Die beste woorde om op jou maatsoekprofiel te gebruik om raakgesien te word

7 maniere vir ouers om die bande met hul lewensmaats opnuut te smee

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
15 tekens dat julle dalk verhoudingsberading nodig het

As julle enige van hierdie probleme ondervind, is dit tyd om ’n afspraak te maak

Close