×
Skakel na Engels

11 tekens van borskanker wat jy dalk nie opgemerk het nie

Dit gaan nie net daaroor om vir knoppe te voel nie
Borskanker

Borskanker kan jou bekruip voordat jy enige idee het wat aangaan. Dit is deels omdat die meeste vroue vir ’n knop in hul borste soek – en nie vir ander algemene aanduidings nie. Dit is ’n fout, want hoewel ’n knop die simptoom van hierdie gevreesde siekte is wat die maklikste opgemerk word, is dit beslis nie die enigste nie. Verskillende soorte kanker het verskillende simptome, en baie kankers veroorsaak geen knoppe hoegenaamd nie.

Die Nasionale Kankerinstituut raam dat borskanker elke jaar by meer as 190 000 vroue gediagnoseer sal word. Een uit agt vroue sal in haar leeftyd borskanker kry. Hoewel die siekte dodelik kan wees as dit nie behandel word nie, is die vyfjaar-oorlewingskoers 100 persent as borskanker vroeg opgespoor word in wat die “gelokaliseerde stadium” genoem word. Om van ander simptome as bloot ’n knop in jou bors bewus te wees kan jou lewe red.

Teer tepels of afskeiding

Is jou tepels effens seer wanneer jy daaraan raak? Skei dit ’n vloeistof af wat nie borsmelk is nie?

Verandering in veltekstuur of vergroting van velporieë

Kankeragtige vel op die bors kan die tekstuur van ’n lemoenskil aanneem, word gesê.

’n Seerplek wat nie gesond word nie

Hoewel jy salf of antibiotika gebruik, wil die seerplek nie weggaan nie?

’n Hoes of heesheid wat nie weggaan nie

Het die hoes van nêrens af gekom (is dus nie verwant aan herstel van ’n verkoue of griep nie) en dit wil net nie weggaan nie?

Veranderinge in jou blaas of ontlasting

Het jy ongereeld opelyf? Sukkel jy met diarree of hardlywigheid om geen klaarblyklike rede nie?

Verlies aan energie

Voel jy baie swak of moeg, ongeag hoeveel jy slaap?

Gewigsveranderinge

Het jy om geen klaarblyklike rede nie baie gewig aangesit of verloor?

’n Knop in jou armholte

Het jy ’n knop in jou armholte eerder as jou bors ontdek? Borsweefsel strek so ver as die armholtes en kankeragtige knoppe sal nie noodwendig tot die borste beperk wees nie.

Onreëlmatige grootte

Het een bors merkbaar groter as die ander een geword?

’n Gedurige gejeuk

’n Jeukerigheid wat nie weggaan nie, kan dui op die opbou van vloeistof, swak limffunksie of dat jou liggaam nuwe bloedvate vir borsgewasse probeer skep, waarsku BreastCancer.org.

Pyn in die boonste deel van jou rug

Sukkel jy met rugpyn wat nie verbeter as jy strek, rus of chiropraktiese behandeling kry nie? Borskanker kan rugpyn veroorsaak wanneer gewasse groei en op senuwees en ligamente druk, of wanneer die kanker metastaseer en beenkanker word.

Wanneer behoort jy ’n afspraak te maak om jou dokter te gaan sien?

Jy sal meer geneig wees om te weet of hierdie simptome op ’n probleem kan dui as jy bewus is van hoe jou borste gewoonlik lyk en voel. Moet dus nie skaam wees nie. Ondersoek jou borste gereeld; ’n paar dae ná jou maandstonde as jy dit nog het, of min of meer op dieselfde dag van elke maand as jy nie meer menstrueer nie.

Kyk gedurende jou maandelikse selfondersoek na jou tepels en die vel op jou borste, en druk jou borste en die weefsel rondom dit om vir knoppe te voel. Sowat 20 persent van die tyd word borskanker in ’n fisieke ondersoek eerder as ’n mammogram gevind, volgens BreastCancer.org.

Moet dus nie hierdie belangrike selfsorghulpmiddel oorslaan nie. En onthou om jou armholtes ook te ondersoek. Breastcancer.org beveel aan dat jy van jou sleutelbeen tot die bokant van jou maag ondersoek, en van jou armholtes tot by jou borsgleuf. Kyk hier hom om self ’n deeglike borsondersoek te doen.

Gepraat van mammografie, volg jou dokter se aanbevelings oor hoe dikwels om ’n mammogram te kry. Hierdie tegnologie kan noodsaaklik wees om kankers op te spoor wat knoppe vorm of dié wat dit nie doen nie.

Van: Woman’s Day

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Meditasie kan die geheim vir gewigsverlies wees

Nuwe boek beweer dat vyf minute per dag kan help om jou kosdrange te beheer. Deur Jessica Bateman

Close