×
Skakel na Engels

11 slim gebruike vir Engelse sout

Die gebruike vir magnesiumsulfaat – oftewel Engelse sout – is goed vir veel meer as ’n genesende bad!
Engelse sout

1. MAAK ’N GESIGSKROP

Meng ½ teelepel Engelse sout met jou gewone reiniger en masseer dit in die vel in klein sirkelbewegings. Spoel jou gesig af en druk droog.

2.SKILFER VEL AF

Meng 2 koppies Engelse sout en ¼ koppie petroleumjellie (jy kan selfs ’n paar druppels van ’n esssensiële olie soos laventel byvoeg) en masseer dit oor nat vel. Begin by jou voete en werk boontoe. Bad of stort om af te spoel.

3. VERLIG SPIERPYN

Dit is fantasties vir mense met artritis of enige een met gespanne spiere of moeë, seer voete. Voeg 2 koppies Engelse sout by jou badwater, roer met jou hande om die sout te laat oplos en week vir sowat 15 minute.

4. VERLIG JIGPYN EN -ONTSTEKING

Voeg 2 tot 3 eetlepels Engelse sout by warm water in ’n wasbak of bad en week die liggaamsdele wat deur die jig geaffekteer word vir sowat 30 minute daarin. Niks meer geswolle, pynlike gewrigte nie!

5. VOORKOM ’N VERKOUE

Voeg Engelse sout by jou badwater sodra jy die eerste simptome van ’n verkoue begin voel. Die sout sal help om jou liggaam te ontgif en jou witbloedselle, wat infeksies beveg, te vermeerder.

6. VERLIG HARDLYWIGHEID

Maak jou eie ontgiftende lakseermiddel deur 1 teelepel Engelse sout in 1 koppie warm water op te los. Moenie hierdie remedie meer as een keer per dag gebruik nie, en as die probleem vir ’n paar dae aanhou, is dit beter om ’n dokter te gaan sien.

7. MAAK TEËLS SKOON

Vir ’n maklike, bekostigbare en doeltreffende teëlreiniger meng gelyke hoeveelhede skottelgoedseep en Engelse sout. Wend die mengsel aan kombuis- of badkamerteëls, skrop en spoel af.

8. MAAK POTTE EN PANNE SKOON

Om aangebrande kos of taai vlekke maklik van jou kookgerei te verwyder, skrop potte en panne met ¼ eetlepel Engelse sout en ’n bietjie water. Spoel af en laat droog word.

9. MAAK WASGOEDVERSAGMIDDEL

Meng 4 koppies Engelse sout en sowat 20 druppels van jou geliefkoosde essensiële olie om jou eie wasgoedversagterkristalle te maak. Dis vinnig, maklik en bekostigbaar! Gebruik ¼ koppie per bondel.

10. LAAT JOU TUIN FLOREER

Engelse sout is wetenskaplik bekend as magnesiumsulfaat, wat fantasties is om jou plante te bemes en jou grasperk ’n groeihupstoot te gee.

11. HOU SLAKKE WEG

Raak ontslae van daardie lastige tuinpeste deur Engelse sout rondom die deel te strooi wat jy slakvry wil hou.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
3 verrassende redes hoekom jy jou gesig met olie behoort te was

Voordat jy sê “jig”, lees hier. Reinigers met ’n oliebasis is om ’n rede groot nuus

Close