×
Skakel na Engels

11 goed wat jou borste vir jou probeer sê

Van swangerskap tot ernstiger kwessies …
boobs

Borste, nunga nungas of tatas, wat jy dit ook al wil noem, dis nogal cool om dit te hê – veral aangesien hulle dalk vir jou iets oor jou gesondheid probeer sê wat jy nie eens besef het nie.

1. Jou maandstonde is op pad

Jou borste verander deur jou hele siklus, maar wanneer daardie tyd van die maand gaan aanbreek, is hulle geneig om erg geswel en seer te raak. In sommige vroue gaan dit voort terwyl hulle hul maandstonde het – wat regtig ’n pyn in die dinges (of bors, tegnies gesproke) kan wees, maar dis ook heeltemal normaal en nie gewoonlik ’n rede vir kommer nie. Om op en af van die Pil te wees kan ook dieselfde uitwerking hê.

2. Jy is swanger

Aangesien jou borste jou duidelik laat weet wanneer jy beslis nié swanger is nie, maak dit sin dat hulle ook sal aandui wanneer jy wel swanger is. Aan die begin van jou swangerskap sal dit waarskynlik ’n uiterste weergawe van die gevoel wees wat jy net voor jou maandstonde kry, maar dan sal hulle ook begin groter raak – jou keëlgrootte en die grootte van jou areolas.

3. Jy het ’n nuwe bra nodig …

As jou bra se draad jou steek, jou borste uitpeul of jy gereeld rug-, nek- of skouerpyn kry, kan dit wees dat jou liggaam jou vra vir ’n nuwe bra. Maak behoorlik voorsiening vir jou borste en voorkom pyne en kwale deur vir ’n behoorlike passing te gaan en ’n styl te kies wat prakties en ondersteunend is, eerder as net mooi. Dit sal ook jou postuur en silhoeët verbeter.

4. Of jy moet dit was

Oukei, ons weet albei jy gaan dit nie met die hand was nie, maar dit moet nietemin gewas word. Om dieselfde bra weke aaneen te dra beteken sweet en bakterieë word in die materiaal vasgevang, wat swaminfeksies (lieflik) kan veroorsaak en tot daardie jeukerige, geïrriteerde vel kan lei wat jy dalk ervaar.

5. Jy verloor gewig

Wanneer jy gewig verloor (of aansit), is jou borste dikwels die eerste plek wat reageer. Dit is omdat hulle uit ’n kombinasie van borsweefesel en vetweefsel bestaan, en hoe hoër jou persoonlike geneigdheid tot laasgenoemde, hoe vinniger sal hulle krimp of groter word. Jy kan dalk ook rekmerke in die proses kry, en dit maak nie regtig saak nie – dit kan dalk aanvanklik rooi en ooglopend lyk, maar sal mettertyd vervaag totdat jy dit nie meer kan sien nie. Intussen is Bio-Oil ’n redder.

6. Jy eet te veel sout

Is jou borste seer en geswel selfs al is dit nie daardie tyd van die maand nie? Waterretensie kan dalk die sondaar wees. O, ja, opgeblasenheid is nie net tot jou maag beperk nie, en as jou trooskos baie sout bevat, kan dit jou borste beïnvloed. Slegte nuus: Dis koebaai aan tjips, maar gelukkig behoort jy taamlik vinnig ’n verbetering te sien as jy verwerkte kosse beperk en eerder vars, onverfynde kosse kies.

7. Jy drink te veel koffie

Jammer om die draer van nog slegte nuus te wees, maar ’n studie deur die Duke-universiteit in Kalifornië het getoon dat 61% van vroue wat kafeïen uitgesny het, minder pyn in hul borste gehad het, en vorige navorsing toon dat dit die pyn vir ’n geraamde 25% van vroue kan beëindig. Kafeïen laat die bloedvate in jou borste uitsit en dit het daardie geswelde, swaar gevoel tot gevolg. As jy dus gereeld borspyn kry en dit sal kan verdra om kafeïenvrye koffie te drink, kan dit die moeite werd wees om dit te doen.

8. Jy oordoen dit in die gim

“Maar oefening is GOED vir my!” sê jy. Jy is nie verkeerd nie – dis net dat jou borste nie altyd saamstem nie. Om nie ’n toereikende sportbra te dra nie en te hard te oefen (ja, atletiese godin!) is twee regtig algemene oorsake van borspyn. Trouens, een uit drie van ons voel ’n mate van pyn gedurende oefening, en dit raak erger hoe groter jou borsmaat is. Om dit te keer, maak seker jy gee hulle genoeg veilige ondersteuning en moenie huiwer om ’n blaaskans te vat nie, veral gedurende ’n hoë-impakoefensessie. Om een dag van die week van hoë-intensiteit-intervaloefening na joga oor te skakel kan byvoorbeeld regtig help.

9. Jy het ’n ystertekort

Die verband kom van die feit dat yster noodsaaklik vir jou skildklier is. Die skildklier is ’n skoenlappervormige klier in jou nek wat hormone vervaardig wat die groei en metabolisme van jou liggaam beheer. In 2004 het navorsers bevind dat die toevoeging van jodiumaanvullings tot ’n vrou se dieet borspyn in die helfte van hul deelnemers beduidend verminder het – maar hoewel aanvullings kan help dat jou borste minder klop, behoort jy steeds raad te vra as jy enigsins bekommerd is oor die gesondheid van jou skildklier. Jy kan dalk medikasie of verdere ondersoek na die oorsake nodig hê.

10. Jy het dalk PSOS

Polisistiese ovariële sindroom het verskeie opmerklike simptome, waaronder ongereelde maandstondes, oormatige gesig- of lyfhare, ’n olierige vel en aknee, asook gewigstoename, maar as jy nog nie weet dat jy dit het nie, kan jou borste dit ook vir jou probeer sê. Vroue met PSOS loop ’n hoër risiko van waterretensie en teer borste. As dit dus soos jy klink en ander oplossings het nie gewerk nie, is dit ’n goeie idee om vir ’n ondersoek te gaan, net ingeval.

11. Jy moet ’n dokter gaan spreek

Hoe jonger jy is, hoe minder waarskynlik is dit, maar borskanker is steeds ’n baie werklike moontlikheid vir elke vrou. Sodra jy enige van die bekende simptome het – ’n knop in jou bors of armholte, veranderinge in die vorm of grootte van jou borste, kuiltjievorming in jou vel, ensovoorts – moet jy met jou huisdokter praat. Vroeë diagnose en behandeling kan jou lewe red.

Via Cosmo UK 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Die een botteltjie waarsonder geen noodhulpkissie behoort te wees nie

Of dit nou ’n insektbyt of ’n sny is, ongelukkies gebeur die hele tyd. Jy sou dus wou hê jou...

Close