×
Skakel na Engels

10 slim wenke vir partytjiekos wat kinders sal wíl eet

Jy hoef nie jou innerlike tuisgodin te vind om ’n heerlike verskeidenheid vir ’n kind se verjaardagpartytjie voor te sit nie. Hier is die wenke wat jy nodig het vir vermaaklike, bekostigbare partytjiekos vir ’n jong groep.

 

Om eet- en drinkgoed vir kinders se verjaardagpartytjies te maak is nie almal se forte nie. Sal daar genoeg vir almal wees, of hope oorskiet? Sal die kieskeurig eters … eet? Sal dit koek rys? Wat van allergieë? Maar dit hoe nie alles stresvol te wees nie, danksy ons – en ’n professionele partytjiebeplanner se – raad.

1. Aanvaar dat die kinders nie daar is vir die wortelrepies nie …

Daar is ’n tyd en ’n plek om daarop aan te dring dat jou kind net kos met die hoogste voedingswaarde eet, en daardie tyd en plek is nie ’n verjaardagpartytjie nie. Dit geld veral ouer kinders vir wie organiese wortelrepies en hoemoes nie regtig aanloklik is nie. Gaan dus maar saam met die stroom – dis nie elke dag nie en jy kan daarop aandring dat hulle vir aandete dubbel soveel groente eet (sterkte daarmee …)

2. Dit kan (’n bietjie) help om die soetgoed later te voorskyn te bring

As jy die koek en ander soetgoed dieselfde tyd as die southappies voorsit, sal die kinders se borde meer suiker as Wonka se sjokoladefabriek bevat terwyl die res geïgnoreer word. Slim gasvroue sit die southappies eerste voor en bring die soetgoed later uit.

Lees ook: 8 ongelooflike verrassingskoeke

3. Grond hoeveelhede op die tyd van die partytjie en die aktiwiteit

Jy wil verseker dat niemand honger ly nie, maar jy wil ook nie oorskiet eet vir die volgende week nie. Dit is deels oor die tydsberekening van die partytjie – as dit oor middag- of aandetetyd plaasvind, sal jy meer moet verskaf, as dit in die middel van die oggend of middag is, kan jy minder gee. Dit hang ook af of die partytjie-aktiwiteit sportief is, want dan sal kinders dalk hongerder wees. Maar hou in gedagte dat sommige kinders groter oë as magies het. Selfs al eet hulle dus net ’n halwe toebroodjie, sal hulle dalk die helfte van al die kos op hul bord pak, plus 5 000 Flings en 14 kolwyntjies. Daar sal heel waarskynlik minstens een wees wat dit doen, so sorg dat jy ’n bietjie ekstra voorsien.

4. Dollie eenvoudige kos op deur dit aantreklik voor te sit

Moenie dinge te ingewikkeld maak nie, veral as jy vir ’n klomp kinders (soos die hele klas) moet sorg. Katie Burnett van die geleentheidsbeplanningsmaatskappy Les Infants stel voor jy hou by eenvoudige kos, maar dien dit op interessante maniere op vir ’n sjoe-faktor.

“Jy hoef regtig nie ’n fortuin te bestee om ’n partytjie cool te maak nie. Gebruik net ’n bietjie verbeelding; dit verg nie ’n uitgebreide menu nie,” sê sy. “Hou by ’n tema, en een of twee items, en dink daaraan om dit op verskillende en funky maniere voor te sit.” Sy stel voor jy sit vis en tjips in koerantkeëls voor, burgers in wegneemstyl-boksies (albei goedkoop en maklik om te koop) of boereworsrolletjies toegedraai in waspapier met mooi patrone en op die punte gedraai, amper soos ’n klapper.

Lees ook: Ons 15 lekkerste tuisgemaakte burgers

5. Omskep die kos in ’n aktiwiteit

Laat die kos as ’n aktiwiteit dien en laat die kinders bolae op pizzas, roomys of Mariebeskuitjies sit. Dit kan morsig raak, maar ’n sjokoladefontein met vrugte en malvalekkers om daarin te doop sal baie gewild wees.

Om hul eie drinkgoed of sundaes te maak is nog ’n prettige idee wat Katie vir ouer kinders aanbeveel. “Dit gaan oor hoe jy dit voorsit – laat hulle hul eie meng – gebruik visbakke, vonkstokkies, interessante strooitjies, oulike roerstafies en meer – alles in gekleurde, weggooibare ‘glasware’ wat jy dikwels in afslagwinkels sal kry.”

6. Wees bedag op kosintoleransies en -allergieë

As enige van jou gaste kosallergieë het, is dit gewoonlik makliker om glad nie sulke kosse voor te sit nie, eerder as om dop te hou dat ’n spesifieke kind dit nie eet nie. Kyk uit na produkte waar allergene “ingesmokkel” word in iets waarin jy dit nie verwag nie, soos “oorblyfsels van neute” in kos wat tipies nie neute bevat nie – dis ’n goeie idee om op die bestanddelelys te kyk.

Lees ook: 12 fantastiese koekidees vir kinders

7. As die ouers bly, sal ’n drankie en eetgoed waardeer word

Hoewel ouer kinders se ouers hulle gewoonlik net aflaai en weer ry, sal die jongeres wie se ma’s en pa’s bly ’n bietjie verversings geniet. Vir oggendpartytjies is minipasteitjies en ’n warm drankie wenners, en vir middagpartytjies is skons, konfyt en room ’n lekker idee.

8. Nie genoeg tafels en stoele nie? Hou ’n piekniek, selfs al is dit binnenshuis

As dit reën, kry ’n paar komberse, skuif die meubels weg en laat die kinders op die woonkamervloer sit. As jy besluit om dit te doen, is dit ’n goeie idee om die kos in individuele boksies of papiersakke met mini-saphouertjies of bottels te sit – borde en koeldrankglase in die middel van die vloer sal waarskynlik omval of oor geval word.

9. Kry inspirasie vir resepte en voorsit-idees

Daar is talle inspirerende resepte vir partytjiekos aanlyn, van maklik tot ambisieus. Skep ’n Pinterest-bord met al jou gunsteling-idees en maak ’n plan!

10. Maar jy hoef nie te voel jy moet “Nigella” wees om die kinders gelukkig te hou nie

Die kinders sal waarskynlik heel tevrede wees met dieselfde ou gunstelinge. As jy dus nie ’n Nigella is nie of nie tyd het nie, moenie druk op jouself plaas om ’n perfekte, tuisgemaakte verskeidenheid voor te sit nie. Die kinders sal dit regtig nie teen jou hou as daar gekoopte gebak is eerder as tuisgebakte, keurig versierde koeke waaraan jy ure bestee het nie. Hulle sal heeltemal te besig wees om om te gee.

Van: Good Housekeeping UK

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Angelina Jolie praat oor hoe dit was om in Namibië geboorte te gee

En oor hoe sy en manlief Brad Pitt hul ses kinders grootmaak

Close