×
Skakel na Engels

10 slim maniere om van 9 tot 5 beter te voel

Span jou kantoorure in om minder te stres en fikser te word
  1. Doof spanning uit

Jou risiko vir hoë bloeddruk en gewigstoename verhoog wanneer jy ’n lang ent werk toe moet ry. Trek jou aandag van die kners-op-jou-tande-verkeer af met luisterboeke en musiek.

  1. Ontbyt oorgeslaan?

Eet jogurt met vrugte terwyl jy jou e-pos nagaan. Voeg okkerneute by om jou brein ’n hupstoot te gee – die antioksidante daarin kan jou geheue versterk – en die proteïenryke kombinasie sal jou honger stil.

  1. Haal diep asem

Die webtuiste www.calm.com verskaf ’n tweeminuut-ontspanningsoefening – dis goed vir jou hart én jou gemoed.

  1. Oefen

’n Sweedse studie het bewys dat oefensessies twee keer ’n week werkers se doeltreffendheid vir die res van die week soveel laat toeneem het dat dit meer as genoeg vir die verlore tyd vergoed het.

  1. ’n Goeie bord kos

Volgens ’n Kanadese studie kan ’n voedsame middagete jou help om beter besluite te neem.

  1. ’n Uur vakansie …

… van jou e-pos. Indien jou werkgewer dit toelaat, kan dié mini-ruskans jou help om te konsentreer én meer ontspanne te voel, meen navorsers aan die Universiteit van Kalifornië, Irvine in die VSA.

  1. Vermy postuurpyn

Draai elke uur jou kop van die een kant na die ander kant, en laat sak dan jou ken en beweeg jou kop terug sodat jou nek kan strek; druk jou skouerblaaie teen mekaar om jou bors uit te stoot. Strek jou een arm na bo en daarna jou ander arm. Loop ook elke uur of so rond, en stimuleer jou laerug deur jou boudspiere styf te trek

  1. Gaan stap ’n entjie …

… in die teenoorgestelde rigting as die peuselhappies! Wanneer daardie Lunch Bar jou naam begin roep, sal dit help om ’n bietjie te gaan stap. In ’n Britse studie is bevind dat ’n stappie van 15 minute die hoeveelheid sjokolade wat mense by die werk inneem, kan halveer.

  1. Kollega of vriend?

Dis goed om tyd saam met kollegas buite kantoorure deur te bring. Positiewe werkverhoudings word aan ’n langer lewensduur verbind.

  1. Goeienag, slimfoon (of tablet)

Genoeg rus beteken meer doeltreffendheid die volgende dag. Hier is nog ’n rede hoekom jy jou slimfoon of tablet moet wegsit voor slaaptyd: In een opname het 15% van die respondente erken dat tegnologie met meer intieme sake ingemeng het.

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
H&M se Kaapse winkel sal een van die grootstes ter wêreld wees!

Wees gereed! H&M se gewilde winkel maak binnekort in die V&A Waterfront oop.

Close