×
Skakel na Engels

10 reise waarop elke vrou behoort te gaan

Jy leef net een keer, so bespreek vir een van hierdie verrykende, vreugdevolle en lewensveranderende reise. Deur die Goeie Huishouding-webspan
reise

Ons weet almal reise is belangrik om weer met vriende en familie in verbinding te kom, en om daardie noodsaaklike tyd af te vat, maar ons wed jou jy het nie geweet reis is ook ’n bewese gemoedsopkikkeraar, ’n voordelige ervaring vir jou beroep, en een van die doeltreffendste maniere om jou eiewaarde te verhoog nie.

As jy nog ’n rede nodig het om uiteindelik ’n vakansie te bespreek, onthou dít: Jy lewe net een keer; benut dit dus ten beste! Hier is die 10 voordeligste (en prettigste!) reise wat ’n vrou in haar leeftyd kan onderneem.

’n Passiereis

Dol oor koffiewinkels? Besoek Seattle. Dol oor kosmaak? Besoek Italië. Dol oor blomme? Gaan kyk na die tulplande in Keukenhof, Holland, waar hulle vol in die blom is. Beplan ’n onvergeetlike reis om die mekka van jou stokperdjie of tydverdryf te besoek sodat jy jou belangstelling verder kan verken.

’n Ontspannende reis

Maak dit jou missie om tyd te neem om af te skakel en te ontspan deur ’n afgeleë bestemming te besoek. Of dit nou op ’n afgesonderde strand in Kuba (bo) is, of ’n knus hut iewers in ’n woud, gaan waar ook al jy vrede sal ervaar.

’n Alleenreis

Elke vrou moet minstens een keer in haar lewe ’n epiese onvergeselde reis beleef. Hierdie belewenis sal jou selfvertroue vir altyd ’n hupstoot gee en jou toelaat om die soort reis te onderneem wat jy wil hê sonder dat enige iemand anders iets van jou ondervinding wegneem. As jy idees kort, kyk na plekke wat veilig en toeganklik is, en na die aantal aktiwiteite wat in een sentrale gebied beskikbaar is.

’n Erfenisreis

Gaan terug na die begin en besoek die plek wat jou voorvaders lank gelede huis genoem het. In ’n studie aan die Emory-universiteit in Atlanta in die VSA is bevind dat kinders wat meer van hul familiegeskiedenis geweet het, hoër vlakke van selfversekerdheid gehad het en stres beter kon hanteer, volgens CNN.

En dieselfde kan van volwassenes gesê word. “Familiestories verskaf ’n sin van identiteit deur die tyd,” het een van die navorsers geskryf. Praat met jou familie, doen aanlyn navorsing of laat jou DNS toets sodat jy presies weet waarheen om te gaan.

’n Treinreis

Om per trein te reis is een van die beste maniere om plekke te sien. Dis nie duur nie en jy kan groot gebiede in ’n kort tyd sien. Boonop kan jy terugsit, ontspan en die pragtige omgewing dophou vanuit die gerief van ’n treinwa met vensters van die vloer tot die plafon.

Lees ook: Vliegtuigetiket 101

’n Laaste-minuut-reis

Maak dit ’n doel om minstens een spontane reis in die komende jare te onderneem. Pak ’n sak, gaan lughawe toe en kyk wat is beskikbaar. Moet niks vir hierdie avontuur beplan nie – kyk waarheen die reis jou neem!

’n Reis met vriendinne

Dié een het geen verduideliking nodig nie, maar hier is ’n aanmaning: Tyd saam met jou beste vriende is baie belangrik vir jou geluk en gesondheid.

’n Aktiewe reis

Ons weet almal oefening is ’n belangrike deel om jou gesondheid en welstand in stand te hou en te verbeter. Waarom pas jy dit nie by jou reisbeplanning in nie? Gaan snorkel, duik, ry fiets, ry foefieslaaid, gaan stap, seil of ry branders – dis van die beste maniere om die mooiste plekke op die aarde te sien.

’n Padreis

Dié een is basies ’n oorgangsritueel. Hoekom onderneem jy nie ’n reis padlangs op die platteland of in ’n oorsese stad nie?

’n Vrywilligerreis

Binne net ’n week kan jy jou horisonne en wêreldbeskouings verbreed en jou vaardighede gebruik om ander te help – wat kan beter as dit wees?

Van: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/lzf

LEES OOK:

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief