×
Skakel na Engels

10 nuwejaarsvoornemens wat jou veiliger op die pad sal hou

Kom ons maak 2018 ’n jaar van laer padongeluk- en sterftesyfers! Deur Caira-Lee Durand
iStock/monkeybusinessimages

2017 se padongelukke en sterftesyfers het verkeersbeamptes meer as genoeg rede gegee om nalatige en gevaarlike bestuurders vas te vat, terwyl dronkbestuur en spoedoortredings onder die hoofoorsake van padsterftes getel het. Om ’n goeie bestuurder te wees beteken dat jy oor taktiese én veilige bestuursvaardighede moet beskik.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Dit is maklik om in slegte gewoontes te verval soos om teksboodskappe te tik terwyl jy bestuur, om nie in jou blinde kolle te kyk nie of om van jou veiligheidsgordel te vergeet. Maar as jy enige skade aan jou motor of jouself wil vermy, is daar sekere goed waarvan jy ’n goeie gewoonte moet maak:

1. Los jou foon

Om teksboodskappe te stuur of oor jou foon te praat terwyl jy bestuur is ’n baie algemene gewoonte wat tot heeltemal te veel padongelukke lei. Die AA-navorsers wat breinaktiwiteit bestudeer, het bevind dat om bloot na ’n oproep te luister, die hoeveelheid breinaktiwiteit wat met bestuur geassosieer word met 37% laat afneem. Sit jou foon neer en stel ’n voorbeeld vir ander afgetrokke bestuurders wat vir padsterftes verantwoordelik kan wees.

2. Hou by die snelheidsgrens

Om ’n snelheidsgrens te ignoreer is nie net gevaarlik nie, maar kan jou ook ’n hele paar rand uit die sak jaag. Padongelukke en -sterftes, veral gedurende vakansies in Suid-Afrika, word dikwels deur motoriste veroorsaak wat nie by snelheidsperk hou nie en dus nie ’n gevaarlike situasie kan vermy nie. Jy kan ook swaar beboet word vir hierdie oortreding.

3. Handhaaf ’n veilige volgafstand

Wanneer ons haastig is, vergeet ons dikwels om ’n gaping van twee tot drie sekondes tussen ons en die motor voor ons te handhaaf. ’n Veilige volgafstand kan jou in meer as een opsig beveilig. Om ’n goeie volgafstand te handhaaf kan voorkom dat jy in die motor voor jou vasry indien die verkeer onverwags tot stilstand kom. Met die hoë risiko van motorkapings in Suid-Afrika, bied dit jou ook die geleentheid om uit ’n gevaarlike situasie weg te rits.

4. Skakel jou hoofligte aan indien nodig

Veilige bestuurders skakel hul hoofligte aan wanneer sigbaarheid swak is, soos wanneer dit reën, tussen sononder en sonop, of wanneer jy nie 150 meter voor jou duidelik kan sien nie.

5. Laat jou bande, olie en water nagaan

Maak dit ’n gewoonte om altyd jou banddruk, olie en watervlakke na te gaan wanneer jy brandstof ingooi. Olie verminder die gevaar van enjinwrywing, en om seker te maak dat jou motor genoeg water het, is ’n belangrike deel van motorinstandhouding. Onthou ook om jou banddruk te laat nagaan voordat jy ver ry.

Lees ook: 9 gereelde instandhoudingsinspeksies wat elke motor nodig het

6. Moenie drink en bestuur nie

Die gevare van dronkbestuur is legio en die meeste mense sal saamstem dat dit ’n slegte idee is om ná te veel drankies agter die stuur te klim. Jy loop nie net gevaar om by ’n padblokkade voorgekeer te word en die naweek in ’n sel deur te bring nie, maar as jy onder die invloed bestuur, stel jy ander mense (in die motor en op die pad) in gevaar. Veilige bestuurders maak eerder van ’n taxi gebruik of neem ’n Uber huis toe.

7. Wees paraat en bewus van jou omgewing

Daar is verskeie dinge wat ons paraatheid affekteer wanneer ons bestuur: Wanneer jy moeg is of as jou volle aandag nie op die pad is nie, kan jy nie op skielike situasies reageer wat andersins maklik vermy kon word nie.

8. Stel jou musiek sagter

Jy bestuur dalk op jou lekkerste wanneer die musiek deur jou ryding pols, maar dit kan ’n groot afleiding en baie gevaarlik wees. Harde musiek belemmer ’n bestuurder se vermoë om op enige skielike of onverwagse bewegings of insidente op die pad te reageer.

9. Sit ’n veiligheidsgordel aan

Die wet stel dit duidelik dat dit by die motorbestuurder berus om te sorg dat alle passasiers vasgegordel is. Om ’n sitplekgordel te dra is die eenvoudigste manier om jou lewe te spaar en ’n goeie bestuurder sal daarop aandring dat almal in die motor hulle vasgordel.

10. Flikkerligte en blinde kolle

Daar is niks so frustrerend soos ’n bestuurder wat skielik draai of van baan verander sonder om roetineprosedures te volg nie. Wanneer jy jou flikkerlig gebruik voordat jy draai, weet ander bestuurders wat jy gaan doen en handhaaf hulle ’n veilige volgafstand. Om in blinde kolle te kyk is dalk ’n beslommernis, maar jou blinde kol is ’n area wat nie in jou tru- of kantspieëltjies gesien kan word nie.

Bron: WOW

FOTO: iStock/monkeybusinessimages

LEES OOK:

Noodnommers wat jy nodig het wanneer jy op die N2 ry

Wenke om veilig in die reën te bestuur

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
6 Nuwejaarsvoornemens wat jy nié moet maak nie

... en wat jy eerder kan probeer!

Close