×
Skakel na Engels

10 nuttige wenke vir wanneer jy met jou baba vlieg

Dit is spanningsvol om alleen met jou baba te vlieg, maar hierdie wenke sal help!
baba

Om met jou kleinding te vlieg kan baie senutergend wees, veral as jou maat nie saam met julle reis nie, maar gelukkig is daar ’n paar wenke en truuks wat jou reis minder spanningsvol sal maak.

 

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

1. Wees ingelig voordat jy julle kaartjies koop

Skakel die lugredery vooraf om uit te vind wat jy alles vir jou baba aan boord van die vliegtuig kan bring. Die meeste rederye is baie tegemoetkomend en sal 20 kg se bagasie vir ’n baba toestaan. Vind ook uit of jy met ’n stootwaentjie en ’n motorstoeltjie kan vlieg. Indien die motorstoeltjie in die stootwaentjie pas en ’n eenheid vorm, is dit gewoonlik nie ’n probleem nie, maar ’n groter motorstoeltjie gaan dalk weggewys word. Maak seker dat jy dit weet sodat jy nie ’n motorstoeltjie saambring wat nie op die vliegtuig mag kom nie. Motorstoeltjies kan vir die duur van julle reis by motorverhuringsagentskappe of deur Baby Exchange gehuur word.

2. Wees voorbereid

  • Dink aan enige scenario’s wat op die vliegtuig mag afspeel en maak seker dat jy ’n oplossing vir elkeen het. Pak “skoon” peuselhappies in wat nie baie plek nodig het nie, sowel as tandekry-koekies en bottels wat reeds voorberei is.
  • Bind linte aan al die speelgoed vas wat jy aan boord gaan neem sodat jy jou bure nie ’n honderd keer hoef te vra om iets op te tel nie, en maak seker dat die fopspeen met ’n fopspeenspeld vas is.
  • Sorg dat al jou dokumente byderhand is sodat jy maklik daarby kan uitkom, en moenie jou baba se geboortesertifikaat vergeet nie. 

3. Aanvaar hulp

Dit is moeilik om alles self te doen; aanvaar dus hulp uit enige oord, van die persoon wat jou met jou trollie help wanneer jy by die lughawe aankom tot jou buurvrou op die vliegtuig wat jou baba vashou wanneer jy kleedkamer toe gaan – dis immers nie asof iemand jou baba kan steel terwyl julle duisende voet in die lug is nie! Sorg dat jy ’n R20-fooitjie byderhand het vir die persoon wat jou bagasie hanteer wanneer jy die waentjie stoot. Wees eerlik, en vra vir hulp as jy dit nodig het. Jy sal verbaas wees oor mense se goedgesindheid.

4. Bevriend ’n lugwaardin

  • Wink ’n lugwaardin nader sodra jy jou tuisgemaak het. Vra haar waar die doekruil-blad is en hoe dit werk.
  • Vra haar watter veiligheidsposisie (brace position) die veiligste vir jou en jou baba sal wees.
  • Vra haar ook om seker te maak dat jou doeksak nie diep in die oorhoofse bagasieruim ingeskuif word nie sodat jy dit tydens die vlug maklik kan bykom.
  • Indien daar kos op die vlug bedien word, kan jy ’n lugwaardin vra om jou kos te sny sodat jy met een hand kan eet terwyl jy jou baba vashou. 

5. Verlig die druk

Babas huil op vliegtuie omdat hulle ore nie by die veranderende lugdruk kan aanpas wanneer die vliegtuig opstyg en land nie. Om te suig bring egter verligting; maak dus seker dat jy heelwat bottels en ekstra fopspene vir die opstyging en landing is. Borsvoeding verrig ook wondere; dra dus iets wat jy maklik oor jou baba kan gooi, soos ’n poncho, of gebruik ’n babakombersie. 

6. Wees bedagsaam

Onthou jy daai sinkende gevoel wat oor jou gekom het wanneer jy in die ry by die instaphek wag en ’n baba sien? Dís hoe elke liewe passasier oor jou bondeltjie vreugde gaan voel; neem dus ekstra sorg om seker te maak dat jy nie tot die ergerlikheid bydra nie. Pak speelgoed in wat nie raas nie.  Dit beteken geen ratels, beertjies wat praat of boekies wat sing nie. Moet ook nie van ander passasiers verwag om te dink jou kind is so oulik soos jy nie. Om hom in die paadjie te laat rondkruip, grappies oor sy manewales te maak of hom op jou skoot rond te wip totdat hy skree van plesier, gaan nie noodwendig deur almal waardeer word nie.

7. Neem jou baba se slaaptyd in ag

Doen jou bes om seker te maak dat jou baba op die vliegtuig kan slaap. Hou hom ’n bietjie langer wakker of laat hom korter slaap om seker te maak dat sy slaaptyd met die vlug oorvleuel.

8. Gebruik ’n dradoek (sling) of ’n babadrasak

Indien jy nie met jou stootwaentjie vlieg nie, gaan dit ’n groot verskil maak om jou hande los te hê. Belê in ’n babadrasak of dradoek sodat jy jou handbagasie kan dra en maklik by julle instapkaarte en ID’s kan uitkom. 

9. Doen wat jy kan voordat julle aan boord gaan

Ruil jou baba se doek voordat julle aan boord gaan. As jy voorheen gedink het dat vliegtuigtoilette klein was, probeer om ’n doek in daai hokkie te ruil! Dit is ’n goeie idee om self ook ’n draai te loop voordat julle vlieg vir ingeval die kleinding in jou arms aan die slaap raak.

10. Tel julle bagasie

Maak altyd seker jy weet hoeveel items jy by jou moet hê sodat jy vinnig kan kontroleer om te sien of jy alles het. byvoorbeeld: 

1. Jou tas

2. Jou baba se tas

3. Jou handbagasie

4. Jou doeksak

5. Die motorstoeltjie

6. Die stootwaentjie

As jou baba ’n gunsteling-kombersie of sagte speelding het, moet jy dit ook in berekening bring – jy wil nie die vakansie ingaan met ’n kind wat die verlies van sy geliefde beertjie moet verwerk nie!

Foto: iStock/BraunS

 

LEES OOK:

10 reiswenke vir ’n veilige, gelukkige reis padlangs

8 maniere om veilig met kinders te bestuur

DIT is waar jy in ekonomiese klas moet sit as jy goed op ’n vliegtuig wil slaap

 

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
DIT is waar jy in ekonomiese klas moet sit as jy goed op ’n vliegtuig wil slaap

Volgens ’n vliegtuigontwerper...

Close