×
Skakel na Engels

10 nuttige grimeerwenke vir mense wat bril dra

En wat om met daai hinderlike rooi merke op jou neusbrug te maak! Deur Hanna Ibraheem
bril

Om bril te dra kan ’n hele paar skoonheidsprobleme oplewer – van maskara wat op jou lense afkom tot die hinderlike rooi merk wat die raam op jou neusbrug laat. Hannah Martin, ’n senior grimeerkunstenaar van Bobbi Brown, deel haar beste wenke oor hoe om te keer dat jou styl deur jou bril belemmer word.

Pin hierdie artikel vir later! Volg Goeie Huishouding op Pinterest vir nog.

Hoe grimeer jy as jy nie sonder jou bril kan sien nie?

“Dis nogal moeilik om ooggrimering aan te wend as jy nie goed sien nie, maar dit is moontlik!

“Jou eerste belegging behoort ’n goeie vergrootspieël te wees,” sê Martin. “Probeer jou bril dan tot op die punt van jou neus trek, hou jou kop agteroor, lig jou wenkbroue en kyk in ’n spieël wat verkieslik gekantel kan word – sodoende sal jy jou ooglid deur jou lense sien en terselfdertyd genoeg plek hê om oogskadu, oogomlyner of maskara aan te wend.”

Hoe voorkom jy dat jou wimpers aan jou brilglase raak?

“As jy baie lang wimpers het, gaan dit dalk aan jou lense raak. Om dit te voorkom kan jy jou wimperkruller inspan; dit sal dit lig en ’n bietjie afstand tussen jou wimpers en die lens skep. Vir ’n meer blywende oplossing kan jy jou wimpers ook permanent laat krul.”

Hoe behoort jy jou maskara aan te wend sonder dat dit op die lense afkom?

“Kies ’n langblywende formule sodat dit nie op jou lense afkom wanneer jou wimpers daaraan raak nie. ’n Goeie wimperkruller is ook ’n oplossing. Gee jou maskara genoeg tyd om droog te word voordat jy jou bril soggens aansit.”

Hoe verbloem jy die rooi merke wat jou bril op jou neus agterlaat?

“Jy kan verbloemer soggens aanwend voordat jy jou bril aansit, maar hou dit in jou handsak vir opknapping, indien nodig.”

’n Bril is geneig om ’n skadu onder jou oë te vorm. Hoe kan jy voorkom dat jou oë hol lyk?

“Om te vermy dat jou bril ’n skaduwee onder jou maak en jou oë hol laat lyk, kan jy ’n gewone of kleurverbloemer in ’n skakering ligter as jou onderlaag gebruik om daardie area op te helder. Dit sal die skaduwee-effek uitskakel.”

Lees ook: Kies die regte soort vals wimpers om jou oë te laat uitstaan

Hoe behoort jy jou wenkbroue in te kleur?

“Dit is belangrik om jou wenkbroue te aksentueer sodat dit nie agter jou brilraam verdwyn nie. Daar is verskeie potlode op die mark, maar ek verkies om wenkbroue met dieselfde kleur oogskadu in te vul vir ’n meer natuurlike voorkoms. Trek jou kwassie eenvoudig oor jou wenkbroue in die rigting van die haargroei. Onthou, die vel agter die wenkbroue hoef nie solied ingekleur te word nie – dit kan jou wenkbroue ’n bietjie swaar laat lyk. Jy hoef dus net ’n klein hoeveelheid aan te wend.’

Hoe behoort jy die res van jou grimering te balanseer?

“As jou oë mooi gedefinieer en jou wenkbroue ingekleur is, kan jy ’n bietjie onderlaag gebruik om ’n egalige velkleur te skep en enige rooiheid te verbloem. Wend ’n tikkie blosser op die ronding van jou wang aan en dra ’n lipstiffiekleur van jou keuse.”

Watter kleur oogskadu pas die beste by ’n swart/bruin/helder/skilpaddop-raam?

“Ek stel voor dat jy nie ’n oogskadu soek wat by jou brilraam pas nie. Kies ’n ondertoon wat donkerder as jou raam is en kleure wat jou oogkleur komplementeer. Perse en bloue lyk ongelooflik by ligblou oë, en blou en groen oë is treffend met ryk bronse en bruine.”

Hoe behoort jy jou oë te definieer as jy ’n bril dra?

“Die beste manier om jou oë te definieer is met ’n oogomlyner in ’n skakering dieper as jou brilraam. As jy nie van oogomlyner hou nie, kan jy die ‘tightlining’-tegniek probeer. Dit behels dat jy ’n bietjie kleur tussen jou wimpers en op die waterlyn van jou boonste ooglid aanwend. Jou grimering sal nie bokant jou wimpers sigbaar wees nie, maar jou wimperlyn sal heelwat donkerder en jou wimpers digter vertoon, en dit sal help om jou oë te laat uitstaan.”

Wat is die grimeeropsie vir ’n aandjie uit as jy ’n bril dra?

“Daar is eindelose kleuropsies vir ’n aandvoorkoms, maar ek beveel aan dat jy jou wimperlyn beklemtoon om te verseker dat jou oë die fokus agter jou lense is. Swart oogomlyner sal altyd die meeste definisie skep, maar speel gerus met kleur. Gebruik ’n dik oogomlyner in ’n diepgroen of -blou, maar wend ’n titseltjie swart reg teen jou wimpers aan. Dit sal vir pret en drama sorg sonder dat jy noodwendig baie oogskadu gebruik.”

Uit: Good Housekeeping UK

FOTO: iStock/Deagreez

LEES OOK:

Keer dat jou ooggrimering jou ouer laat lyk met wenke van Adele se grimeerkunstenaar

7 maniere om finaal van donker kringe onder jou oë ontslae te raak

3 slim gebruike vir brilhuisies

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
8 oogskaduwenke van grimeerkunstenaars

Wend oogskadu só eksie-perfeksie aan

Close