×
Skakel na Engels

10 maniere om jou kosdrange te kortwiek

Leer hoe om jou gepeusel te beheer en by jou voornemens te hou om ’n gesonde dieet te volg

Young woman craving food choosing near refrigerator at night

Laatmiddag daal die meeste van ons se energievlakke, en dis dán wanneer ons meer geneig is om toe te gee aan ’n drang na suiker.

Dís hoe jy jou kosdrange kan kortwiek en by jou voornemens om ’n gesonde dieet te volg, te kan hou:

  1. Hou lekkergoed uit die oog. Hoe meer sigbaar soetigheid is – en hoe nader ons daaraan is – hoe meer eet ons, so hou daardie beskuitjies so ver as moontlik van jou lessenaar af.
  2. Te dikwels slaan ons ontbyt oor of vergeet skoon van middagete, net om dan later in die dag deur ’n kosdrang gekierang te word. Dink vooruit en beplan ’n gesonde ontbyt, middag- en aandete wat koolhidrate, proteïne en ‘goeie’ vette insluit.
  3. Hou lae-kilojoule versnaperinge soos druiwe, bessies of kersietamaties op jou lessenaar om aan te peusel. Of maak vol met twee brosbeskuitjies met maaskaas.
  4. Hou jou huis en kantoor kosdrangvry. Die maklikste manier om ’n kosdrang te fnuik, is om daardie kossoorte uit jou omgewing te verban. As jy wel beskuitjies of sjokolade koop, kies klein pakkies om te keer dat jy oorboord gaan.
  5. Eet elke drie ure. Een van die grootste sondebokke is dalende bloedsuikervlakke. As jy daardie vlakke stabiliseer, sal jy eenvoudig nie lus hê vir dieselfde goed nie.
  6. Sjokolade is nie so goed vir jou middel nie, maar die donker soort kan jou voller laat voel. Navorsers aan die Universiteit van Kopenhagen het bevind dat mense wat donker sjokolade eet, agterna minder kosdrange ondervind as dié wat melksjokolade verorber.
  7. Hoe weet jy wat die verskil tussen ’n kosdrang en ware hongerpyne is? Wag 10 minute en kyk of jy hongerder voel. As jy regtig honger is, sal ’n appel aanloklik lyk.
  8. As kosdrange jou tref wanneer jy angstig of gespanne is, soek troos op ander maniere. Konfronteer jou stres. Wat het jy werklik nodig? ’n Vertroostende gesprek met ’n kollega, ’n wandeling of ’n skouermassering deur ’n vriendin kan dalk die ding doen.
  9. Lei jou aandag af. As jy voor jou rekenaar sit en werk maar lus kry vir iets om te eet, doen iets anders. Maak ’n oproep of lees die koerant. ’n Verandering van fokus is dalk al wat jy nodig het.
  10. Gaan stap. As jy oefening doen en jou kosdrange is nie fisiologies nie, sal jy sommer dadelik beter voel. As dit fisiek is, sal jy nie lekker aan die gang kan kom met jou oefening nie, wat ’n teken is dat jy kos nodig het.
Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Hoe om na jou stewels om te sien

Volg hierdie wenke en verseker jou winterskoene van ’n langer leeftyd

Close