×
Skakel na Engels

10 maniere om jou klerekas te organiseer

Nie plek nie? Dis nie ’n probleem nie! Beproef dié slim wenke

klerekas

1. Hou buiteseisoense klere uit die pad

Hou winterbaadjies en dik truie gedurende die somer in ’n ander kamer of in stoorsakke om meer plek vir klere in jou kas te hê. Ruil die klere dan om wanneer dit begin koud raak. Bêre buiteseisoense skoene in duidelik gemerkte skoenbokse wat jy maklik opmekaar kan stapel. Jy sal dalk twee pare in een boks kan pak (sandale, plakkies, ens.).

2. Hang skoene op

’n Materiaalhouer met skoensakkies wat aan die agterkant van jou kasdeur hang of van ’n gastekamer of aantrekkamer se deur is fantastiese plekspaarders. Jy kan tot 12 pare skoene daarin bêre. Een met plek vir twee skoene per sakkie is ideaal.

3. Installeer nog ’n klere-reling

Installeer nog ’n klere-reling bo- of onderkant die bestaande reling as daar plek in die kas is.

4. Gebruik drievlakhangers vir rompe

Hang vier rompe aan een hanger. Jy sal dalk in rommelwinkels of in jou ouma se trommel op die solder moet gaan krap as jy nie ’n nuwe een kan kry nie.

5. Gebruik deursigtige bêrehouers

Gebruik deursigtige bêrehouers of plak etikette op al jou klerehouers sodat jy items makliker kan vind. Dit werk om met ’n merkpen op maskeerband te skryf.

6. Gebruik een soort klerehanger

Belê in ’n paar pakke mooi klerehangers. Eenvormigheid laat ’n kas mooier en meer georganiseerd lyk.

7. Skroef hake in jou kasdeur vas

Skroef hake in jou kasdeur vas vir hoede, belde, sonbrille, armbande en halssnoere. Boor eers gate sodat dit maklik is om die hake vas te sit.

8. Installeer ’n handdoekreling

Installeer ’n handdoekreling aan die binnekant van een deur om jou serpe aan op te hang. Vou die serp dubbel, ryg dit oor die reling en trek die ander punte deur die lus sodat dit nie afval nie.

9. Stapel jou sakke op

Jy sal nie dra wat jy nie kan sien nie. Pak jou handsakke langs mekaar op ’n rak.

10. Belê in ’n rak vir oorbelle

Daardie regop borde met gate beteken jy hoef nie meer rond te krap vir die bypassende oorbel nie. As jy nie ’n nuwe een kan kry nie, vra ’n juweliers- of bykomstighedewinkel vir ’n vertoonrak wat hulle nie meer gebruik nie. As dit gekrap is, draai dit in geskenk- of muurpapier toe en druk net gaatjies deur die papier wanneer jy jou oorbelle insit.

Foto: iStock/kupicoo

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief
 
Blitsig skoon: Vere-duvets

Spaaar tyd wanneer jy jou duvet was

Close