×
Skakel na Engels

10 maatsoekwenke vir geskeides

Leer hoe om weer die romantiese spel te speek ná ’n gesneuwelde verhouding. Deur Denise Schipani
Maatsoekwenke

“ ’n Geskeide vrou kan in hierdie stadium kwesbaar voel, deels omdat sy daaraan gewoond was om ’n eggenoot te hê wat haar ‘beskerm’ en nou moet sy op haar eie die wêreld ingaan,” sê dr. Diana Kirschner, skrywer van Sealing the Deal: The love mentor’s guide to lasting love. Maar dit is ook moeilik omdat jy weer soos ’n tiener kan voel wanneer jy eers op die maatsoektoneel is, op daardie onseker, vertwyfelde, nie-seker-of-hy-sal-bel-nie-manier, voeg sy by. Hoe kan jy dus die maatsoekproses – of jy net ’n lekker tyd wil hê of ’n goeie man (een met ’n verhouding in gedagte) wil ontmoet – minder angswekkend maak? Lees hier vir 10 wenke wat jou sal help om weer in Kupido se goeie boekies te kom. 

1. MAAK SEKER OF JY REGTIG GEREED IS

Of dit nou ’n jaar of ses maande sedert jou egskeiding is, jy sal dalk nooit met absolute sekerheid weet dat jy werklik gereed vir ’n ander verhouding is nie. Dis eerder “duidelik wanneer jy nié gereed is nie,” sê Susan Pease Gadoua, ’n terapeut en die skrywer van Stronger Day by Day: Reflections for healing and rebuilding after divorce. Dit is “wanneer die idee jou afsit”. Maar jy kan besluit dat jy ten minste gereed is om te probeer. Sodra jy aan die idee dink om op ’n afspraak te gaan en jy nie dadelik daarvan wil vergeet nie, is jy ten minste gereed om te begin, sê sy. As dit regtig aaklig is, neem ’n tree terug en wag ’n rukkie langer.

2. VOEL DIE VREES – EN DOEN DIT IN ELK GEVAL

Wanneer hulle dit oorweeg om iemand te ontmoet, voel baie geskeide vroue nie net senuagtig nie, maar “regtig vreesbevange”, sê Kirschner. Onthou net dat jou vrese normaal is – jy het immers veraai gevoel en ’n omwenteling beleef, of beleef dit steeds – en dat jy nie aan die diep kant hoef in te spring nie. “Maak een toon op ’n slag nat. Vertel ’n paar vertroude vriende dat jy graag mense wil ontmoet. Aanvaar uitnodigings na partytjies.”

3. VERMY NEGATIEWE DENKE

Hoewel ’n mens soms hoor dat ’n vrou ná ’n pynlike egskeiding stellings maak soos “alle mans is skobbejakke” of “al die goeies is onbeskikbaar”, is dit vanselfsprekend nie ’n goeie ingesteldheid om te hê wanneer jy ’n maat soek nie, sê Kirschner. “Daardie soort denkwyse kan jou gemoed negatief beïnvloed – en jou kanse beperk om uit te kom en liefde te vind.” Deur jouself te dwing om jou negatiewe gedagtes in toom te hou, sal jy gou in die gewoonte kom om optimisties te drink, wat jou meer gereed sal maak om weer met mans uit te gaan. ’n Geskeide vrou kan ook voel daar is iets “verkeerd” met haar omdat haar huwelik misluk het, sê Kirschner. As dit die geval is, leer jouself om selfsaboterende gedagtes te herken, en wanneer jy in jouself twyfel, “visualiseer ’n reusagtige rooi stopteken, of ’n stem wat skreeu “stop!”, sê Kirschner.

4. BEPAAL WAT JOU BEDOELING REGTIG IS

Jy het besluit jy wil iemand ontmoet – is dit nie jou “bedoeling” nie? Nie heeltemal nie, sê Kirschner. “Gaan sit en skryf neer wat presies jy wil hê. Is dit ’n lewensmaat? ’n Korttermyn-verbintenis wat dalk tot iets kan lei? Net ’n bietjie pret vir die oomblik? Die idee is dat jy bewustelik moet besluit hoe jy wil voortgaan,” wat jou insig sal gee oor hoe om mense te ontmoet.

5. DINK OPNUUT OOR JOU DEFINISIE VAN “UITGAAN”

Gadoua, wat maatsoek-werksessies vir vroue aanbied, vra hulle om woorde vrylik te assosieer wat in hul gedagtes opkom wanneer hulle aan “uitgaan” (dating) dink. Dis nie ’n verrassing dat woorde soos “aaklig” of “vreeslik” opkom nie. As dit is hoe jy voel, het sy die volgende raad: “Ek stel voor jy probeer dit sien as ’n avontuur, of as opvoeding,” sê sy. “Uitgaan kan ook ’n manier wees om jou sosiale vaardighede op te skerp.” En natuurlik ’n manier om uit die huis te kom en pret te hê!

Lees ook: Die beste woorde om op jou maatsoekprofiel te gebruik om raakgesien te word

6. GAAN AANLYN

Die laaste keer wat jy op afsprake gegaan het, was daar dalk nog nie eens internet nie, wat nog te sê internet-afsprake. Maar as jy gedink het om aanlyn ’n maat te soek is net vir verloorders of perverte, vergeet dit – dis so uit die mode soos ’n ou skakelmodem. “Aanlyn afsprake is nie net hoofstroom nie, dis een van die beste maniere om jou soektog te verbreed eerder as om net te hoop jy sal iemand in ’n koffiewinkel ontmoet,” sê Kirschner.

7. MOENIE AANLYN GESPREKKE UITREK NIE

Sodra jy iemand aanlyn “ontmoet”, is dit maklik om ’n fantasie op te bou van hoe hy is op grond van sy profiel en die e-posse wat julle wissel, sê Kirschner. “My praktiese reël is om iemand binne twee weke nadat julle aanlyn kontak gemaak het in persoon te ontmoet.” Jy kan net sowel so gou as moontlik uitvind of die chemie tussen julle virtueel of eg is. Natuurlik moet jy basiese veiligheidsmaatreëls tref wanneer julle mekaar ontmoet. “Sê vir ’n vriend waar jy gaan wees en wanneer jy na verwagting by die huis gaan wees, en ontmoet vir koffie op ’n openbare plek,” stel Kirschner voor.

8. MAATSOEK IS ’N SYFERSPEL

“Vier uit vyf mans met wie jy uitgaan, sal verdwyn,” sê Kirschner reguit. Dis net die aard van die maatsoekwêreld. Hy het dalk wonderlik gelyk, maar verloor belangstelling of het iemand anders ontmoet, of het probleme waarvan jy nooit sal weet nie. Moet dit nie persoonlik opneem nie en probeer onthou dat as jy baie mense ontmoet, sal die getal slegte appels toeneem – maar so ook die kans dat jy ’n paar goeie appels sal ontmoet.

9. SPEEL ROND

Kirschner beveel aan dat jy, ten minste om mee te begin, met verskeie mans uitgaan. Dis om ’n paar redes: Eerstens plaas jy nie al jou eiers – of hoop – in een mandjie nie. Tweedens kan jy vergelyk waarvan jy hou en waarvan nie. Miskien is een ou baie snaaks, maar jy geniet ’n ander man se intellektuele stimulasie. “Jy kan kyk wat jy in ’n verhouding wil hê,” sê sy, selfs al is dit nie saam met een van daardie ouens nie. Een waarskuwing: Wees eerlik. “Sê net: ‘Ek geniet jou geselskap, maar ek wil hê jy moet weet ek sien ook soms ander mans.’ ” 

10. MOENIE DAT JOU KINDERS JOU STOP NIE

Hopelik is dit vanselfsprekend dat as jy kinders by die huis het, jy nie ’n man na jou huis toe nooi tensy dit ernstig is nie. Maar met dit in gedagte, moenie dat ’n vrees om jou kinders te ontstel om dat hulle nie daarvan hou om jou saam met ’n ander man te sien, jou stop om uit te gaan wanneer jy gereed voel om dit te doen nie. Gadoua sê: “Te veel vroue gebruik hul kinders as ’n verskoning om nie op afsprake te gaan nie.” Wees reguit en respekteer hul gevoelens, maar moenie verskoning vra omdat jy ’n maat soek nie. “Die meeste kinders wil net hê hul ouers moet gelukkig wees en sal dalk minder geneig wees om beswaar te maak as wat jy dink,” sê sy.

Van: Woman’sDay

Hou jy hiervan?
op ons GRATIS Goeie Huishouding-resepnuusbrief